Drie petrolbomme by Wits skep beeldprobleem vir oproeriges

Die drie petrolbomme wat by Wits gevind is, het die oproerige swart studente se openbare betrekkinge oefening ietwat geskaad.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Civic Organisation (Sanco) het Sondag gesê “barbaarse dade van geweld en sinnelose vernietiging van onderwysinfrastruktuur moet ontmasker word en agter tralies gesit word”.

Sanco ‘n beroep op universiteitstudente gedoen om belhamels wat vasbeslote is om hoër onderwys te destabiliseer te isoleer en te marginaliseer.

Dit volg na die ontdekking van drie petrolbomme by die Universiteit van die Witwatersrand se Braamfontein-kampus.

“Diegene agter barbaarse dade van geweld en die sinnelose vernietiging van beleggings in onderwysinfrastruktuur moet ontmasker word en agter tralies gesit word,” het Sanco se nasionale woordvoerder Jabu Mahlangu gesê.

Mahlangu het gesê dit is al hoe meer onmoontlik om te glo “daar is nie ‘n derde party wat studentekwessies gekaap het nie en oplossings wil verhoed om ‘n einde te maak aan die huidige hoëronderwys-dooiepunt nie”.

Hy het ‘n beroep op gemeenskapsleiers, ervare onderhandelaars, en professionele mense gedoen om te help met die bemiddeling van die krisis.

“Ons moet almal wakker word vir die werklikheid dat die toekoms van ons jeug op die spel is en saam die magte van die duisternis verslaan.”

“Afgetrede regters, menseregteprokureurs, onbaatsugtige progressiewe individue met ondervinding in konflikoplossing, sowel as godsdienstige leiers kan nie die vernietiging van hoër onderwys op ‘n afstand gadeslaan sonder om sinvolle oplossings aan te bied nie,” het Mahlangu gesê.

“Dit is baie gerieflik dat petrolbomme gevind is net na die universiteit gedreig het om alle akademiese aktiwiteite op te skort en koshuise te sluit,” het die inkomende Wits VSR-president Kefentse Mkhari egter gesê, kennelik deeglik bewus van die beeldprobleem waarmee hy nou sit.

“Ek bedoel ons is nooit vertel wie daardie petrolbomme geplaas het nie en die presiese ligging is nie bekend nie, so dit is baie gerieflik.”

Situasie by Unisa gespanne met klipgooiers

Geweld weer uitgebreek buite die Unisa-hoofkampus Woensdag nadat swart studente blokkades opgerig het en paaie versper het in weerwil van ‘n hofbevel wat sulke optrede verhoed.

Die situasie is tans gespanne en die polisie is in die gebied ontplooi.

Volgens berigte is die hele gebied om die universiteit met klippe besaai. Verkeer is erg geraak tussen die Fonteine-sirkel en Sunnyside.

Studente van die EFF saai chaos omdat hulle glo gekant is teen die uitkontraktering van dienste deur die universiteit.

Motoriste is gewaarsku om die gebied te vermy en paaie is steeds gesluit.

Dit het tot reuse verkeersopeenhopings gelei sedert die protes begin het.

Die universiteit het verlede week ‘n interdik bekom om betogers te weerhou van geweld, intimidasie en om te verhoed dat hulle die akademiese program te ontwrig.

“Na aanleiding van dade van intimidasie, die uitjaag van personeel en gaste van die Unisa-perseel, gewelddadige gedrag en skade aan eiendom deur die protesterende werkers en studente, het die bestuur van Unisa ‘n interdik asook ‘n bevel teen die deelnemers aan die protesaksie gekry,” het die universiteit se woordvoerder Martin Ramotshela vroeër gesê.

Dit het egter nie die betogers verhoed om weer te begin met ontwrigtende gedrag op die hoofkampus van Unisa nie.

Protesoptrede kom steeds voor naby die Daspoort-tonnel in Pretoria-Wes wat vroeër vanoggend deur ontevrede inwoners van die Gomora-woongebied versper is.

Van der Hoffweg en Bremerstraat is steeds gesluit waar rommel en bande aan die brand gesteek is.

‘n Polisiehelikopter sirkel oor die gebied.

Volgens berigte het talle skole in die weste van die stad vanoggend hul leerders huis toe gestuur uit vrees vir hul veiligheid.

Die spanning by universiteite is ‘n georkestreerde en kunsmatige poging deur duistere politieke magte en die EFF om ‘n rewolusionêre klimaat te skep.

Geweld het uitgebreek by TUT se Soshanguve-kampus en Noordwes-universiteit se Mahikeng-kampus waar geen Afrikaans of ‘n wit studenteraad ‘n kwessie is nie.

Die EFF hou egter vol dat rassisme onder wit studente by verskeie universiteite ‘n probleem is.

‘n LP van die party, Thembinkosi Rawula het in die rassebat gesê dié kwessie is deel van ‘n volgehoue siklus wat ‘n omgewing van ongelykheid skep, en daardeur gaan swart drome glo verlore.

Agt UK-belhamels geskors oor geweld

Agt studente sal Dinsdag in die hof in Kaapstad op aanklagte van openbare geweld verskyn.

Media24 het voorheen berig dat die oproermakers dalk nie studente is nie.

Dié agt het vermoedelik twee voertuie en kunswerke van twee koshuise aan die brand gesteek en is intussen uit die universiteit geskors.

Hulle is in opstand oor die gebrek aan verblyf op die kampus.

Die vise-kansellier dr. Max Price sê hul gedrag is onaanvaarbaar en hul optrede sal nie geduld word nie.

Price sê Rhodes Must Fall het dit duidelik gemaak dat dit hul doelwit is om die universiteit te sluit. Hy sê die veldtog sal egter nie slaag om 30 000 studente en personeellede te weerhou van hul reg om in veilige omstandighede te studeer en te werk nie.

Die Universiteit is besig om ‘n interdik teen betogers te bekom en om strafregtelike aanklagte te lê.

Price sê die universiteit sal vandag oop wees.

Intussen is 51 studente van die Walter Sisulu Universiteit in Oos-Londen wat weens openbare geweld in hegtenis geneem is, ná hul hofverskyning met waarskuwings vrygelaat.

Die groep het ook oor studenteverblyf betoog en skade aan eiendom aangerig. Die universiteit sê hy verskaf verblyf aan meer as 30 persent van die studente wat die nasionale gemiddelde is.

Akademiese aktiwiteite is sedert verlede week by die universiteit opgeskort.

In Noordwes het die Mahikeng-kampus van die NWU weer heropen na geweldpleging deur die EFF oor die uitkontraktering van skoonmakers.