Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, het in ’n onderhoud met die BBC sy frustrasie met die Verenigde State uitgespreek en Donald Trump gekritiseer omdat hy na die Russiese president, Wladimir Poetin, as “my vriend” verwys het.
Zelenski het die verhouding tussen Trump en Poetin as “vreemd” bestempel en gesê iemand wat hy as ’n aggressor en moordenaar beskou, kan nie ’n vriend wees nie.
Tydens die onderhoud in sy kantoor in Kiëf het Zelenski aangevoer dat Washington nie genoeg druk op Rusland uitoefen om ’n vredesooreenkoms te bereik nie.
Hy het ook verwys na ’n beeld wat Trump op sosiale media gedeel het waarin die Amerikaanse en Russiese presidente mekaar omhels. Zelenski het dit vergelyk met iemand wat tydens die Tweede Wêreldoorlog sou verklaar dat hy met Adolf Hitler bevriend is.
Tekort aan lugafweerwapens
Volgens Zelenski kos vertragings in die Amerikaanse lewering van Patriot-lugafweerstelsels en ander wapens om ballistiese missiele te onderskep, Oekraïense lewens.
Hy het gesê Oekraïne ondervind ’n ernstige tekort aan onderskeppingsmissiele en het Washington verwyt dat die Midde-Ooste groter aandag geniet.
Zelenski het ook bevestig dat die gebruik van die Amerikaanse satellietkommunikasiestelsel Starlink en sy militêre weergawe, Starshield, steeds in die besette gebiede van Oekraïne beperk word. Hy weet egter nie presies wie vir dié besluit verantwoordelik is nie.
Min vordering met vredesonderhandelinge
Volgens die BBC duur die vredesonderhandelinge voort, maar is daar min tasbare vordering.
Trump se gesante, Jared Kushner en Steve Witkoff, het met Moskou probeer onderhandel, terwyl die Kremlin na bewering by sy bestaande standpunte hou.
Trump het op sy beurt aan verslaggewers gesê dat hy die oorlog wil beëindig en ’n ooreenkoms probeer bereik. Volgens hom is die vyandigheid tussen Zelenski en Poetin die grootste struikelblok.
Intussen staar Kiëf ’n moeilike winter in die gesig namate Russiese aanvalle op Oekraïne toeneem.
Zelenski het verklaar dat Oekraïne sy hoofstad ten alle koste sal probeer verdedig.
Bron: BBC
