Dan Roodt: Johannesburg is ’n stad sonder ’n siel

In Johannesburg is alles ordinêr en afgesaag, ‘n stad so vervelig soos enigeen van die 60 Amerikaanse middelslagstede, skryf Dan Roodt.

Straattoneel in Braamfontein met hoë geboue, geparkeerde motors en ’n kitskosrestaurant.

Ek het nog nooit gedink dat ek verveeld sou raak nie, selfs nie eens in ‘n tronksel gedurende eensame aanhouding nie, maar deesdae kry ek dikwels die gevoel dat Johannesburg as ‘n stad my verveel.

Anders as om die winkelsentrum te besoek of om in jou motor ‘n ent te gaan ry, is daar niks om te doen nie.

Aan die ander kant het ‘n mens deesdae seker nie meer museums, kunsgalerye, operahuise of simfonieorkeste nodig nie, want jy kan te eniger tyd ‘n virtuele toer van honderde ander stede en hul vermaaklikhede op jou rekenaar doen. Net so kan jy jou in Anna Netrebko se hemelse stem verlustig wat een of ander tragiese aria sing. Of K-pop luister. Of Russiese pop met sangers soos Lesja Swek, Polina Gagarina en Waleria.

Maar soos wat veral die eerste Matrix-rolprent uitgebeeld het, is die mens nooit heeltemal tevrede met die illusies van die virtuele wêreld nie en verlang hy na die fisieke buitewêreld – al is dit ook hoe aaklig. Soos Neo neem hy die rooi pil, wat ‘n metafoor geword het om ‘n radikale verandering in jou werklikheidservaring te ontketen.

Behalwe in Johannesburg is daar geen rooi pil nie: Alles bly maar net dieselfde. Daar is geen verborge of alternatiewe werklikheid nie. Straatname verander wel, soos Sandton-rylaan wat op aandrang van Panyaza Lesufi, die ANC-premier van Gauteng, na Leila Khaled-rylaan gaan verander. Khaled was ‘n lid van die Volksfront vir die Bevryding van Palestina wat in 1969 beroemd, of berug, geraak het. Blykbaar was sy die eerste vrou wat aan ‘n vliegtuigkaping deelgeneem het, dié op vlug TWA 840 tussen die Leonardo da Vinci-lughawe in Rome en die Ben Gurion-lughawe in Tel Aviv op 29 Augustus 1969. Sy het ook aan ‘n tweede vliegtuigkaping op 6 September 1970 deelgeneem toe sy saam met haar metgesel, Patrick Argüello, ‘n Marxis-Leninis en lid van die Sandinista-rebellegroep in Nicaragua, ‘n El Al-vlug tussen Tel Aviv en New York gekaap het. Argüello is doodgeskiet nadat die vliegtuig ‘n noodlanding op Heathrow gemaak het.

Die ANC in Johannesburg beskryf Leila Khaled as ‘n “aktivis”.

Omtrent al die name in die vervalle middestad van Johannesburg is reeds ‘n hele paar jaar gelede gewysig. Agter die straatnaamborde en -tekens herken ‘n mens egter dieselfde geboue.

In Sandton-rylaan, ekskuus, Leila Khaled-rylaan, is daar ‘n kleinerige gebou met ‘n vegvliegtuig – ‘n Mirage of dergelike – op die dak. As ‘n mens egter genoeg kere in ‘n verkeersknoop in dié straat beland het, raak selfs dié ietwat buitengewone gesig ordinêr en afgesaag.

‘n Mens beweeg van een ommuurde borrel na ‘n ander.

Insgelyks doen die oorvloed kommunistiese, terroristiese of revolusionêre name in Johannesburg – heenwysings na ‘n mislukte poging om ‘n nuwe wêreld te skep – geen afbreuk aan die verveling wat mens elke dag ervaar nie.

Eintlik maak niks in Johannesburg werklik saak nie: Of die verkeersligte werk of nie, of daar slaggate is of nie, of ‘n gebou afbrand of nie, dít alles skeel die inwoners maar min.

Jaar ná jaar word die wolkekrabbers al hoe gryser en stowweriger. Ons ennui neem toe.

Die Franse woord “ennui” verskyn nie in die HAT of die AWS nie, maar wel in die WAT waar dit omskryf word as ‘n “gevoel van moegheid en ontevredenheid; verveeldheid: Met ongeraakte waardigheid en net so ‘n tikkie ennui (Die Burger).”

Klink dit bekend? Vandat Sanral al die e-tolborde van die snelweë verwyder het, is daar nie eens meer die “haatspraak” van hul oranje-blanje-blou kleure wat af en toe vir afleiding gesorg het nie. Die eenselwige snelweg, asook die “hoofare” met hul kommunistiese name soos Bram Fischer of Joe Slovo, is eintlik tekenend van die lewe in die saai stad, Johannesburg.

Toe ek vir ‘n paar jaar by Standard Bank se hoofkantoor te Simmondsstraat 5 – of wat die straat se naam deesdae ook al is – gewerk het, herinner ek my dat ek saam met ‘n meisie vanuit Kaapstad een middag in die verkeer gesit het. Sy het met ‘n sug rondom haar na ‘n paar ou mynhope gestaar en retories gevra: “Wat het my besiel om hierheen te kom? Daar is net niks om te sien nie; geen see, geen berge nie. Net . . . dít.”

Tussen die mynhope en die leë wolkekrabbers – sommige soos die voormalige Sun International Hotel in die middestad, is letterlik dolleeg – word ons lukraak in die verkeer rondgegooi soos deeltjies onderworpe aan Brownbeweging. Bokant ons is daardie helder blou lug wat die nege maande lange somer tipeer, met slegs af en toe ‘n tydelike donderstorm wat dit onderbreek. Daar is feitlik geen seisoene nie: net een lang, warm, droë, nimmereindigende somer.

Soos in die Amerikaanse kultusfliek American Graffiti (1973) waarin verveelde tieners op en af in die strate ry op soek na kattekwaad of straatrenne, is die enigste tydverdryf om in jou motor te klim en te ry. Jy kan óf by die rooi lig stilhou óf nie. Dit maak nie regtig saak nie, soos jy vinnig sal agterkom as jy die minibustaxi’s dophou.

Breyten Breytenbach skryf iewers in sy Suid-Afrikaanse reisverhaal ‘n Seisoen in die paradys – insgelyks uit die 1970’s – dat hy geen erg aan Johannesburg het nie. Ek moes die hele boek deurblaai om die aanhaling op bl. 157 terug te vind: “Oor die Goudstad wil ek nie veel sê nie. Ek verbeel my dat daar heelwat mediumgrootte stede in Amerika is wat só lyk en dis hoekom ek geen behoefte voel om Amerika te besoek nie. Snelweë, motorkarre, wolkekrabbers en polisie rondom die huise of kantore van die mense wie (sic) jy regtig graag wil ontmoet . . .”

Ek het “middelslagstede in die VSA” probeer google en op ‘n ellelange lys afgekom, waarvan sommiges bekende name was en ander nie. Klaarblyklik is daar sowat 60 Amerikaanse stede met ‘n inwonertal tussen 500 000 en een miljoen. Al middelslagstede in Amerika wat ek al besoek het, was Baltimore en Nashville.

Breyten het ‘n punt: In Kaapstad of Durban gewaar ‘n mens nog die geur van die VOC of die Britse Ryk, maar Johannesburg het hom feitlik geheel en al op die VSA gemodelleer. Dis ‘n stedelike eiland in die middel van die omliggende provinsie, Suid-Afrika. En sedert die ANC die land oorgeneem het, het dit eintlik vererger. Want nou gaan dit daaroor om die stad se “Afrika-wortels” te herontdek, ‘n bietjie soos wat die Afro-Amerikaner Alex Haley met sy boek Roots gedoen het. Hy het dit as fiksie geskryf, maar dit is as “geskiedenis” in boekwinkels bemark.

Vandaar dus Johannesburg se leuse: “Joburg, a world-class African city.” Inwoners van Johannesburg met al hul rekeningprobleme, asook water- en kragonderbrekings, weet dat die stad kwalik voortreflik of “wêreldklas” is. Boonop is daar benewens die nuwe straatname feitlik niks “van Afrika” aan Johannesburg nie. In die ou middestad is daar pragtige Art Deco-geboue en selfs onverwagte Afrikaner-argitektuur, maar bowenal oorheers die sogenaamde internasionale styl van argitektuur. Dis nie Wakanda nie, altans nog nie.

My jongste seun, gebore in die Sandton-kliniek (dalk binnekort die Leila Khaled-kliniek), het nooit ‘n woord formele Engels geleer nie en het dus die taal via die internet in sy Amerikaanse vorm bemeester. Hy stel glad nie belang in die middestad van Johannesburg nie. Toe ek aanbied om dit vir hom te gaan wys, vra hy my bloot: “Is dit soos Detroit?”

” ‘n Bietjie,” het ek geantwoord. “Maar daar is nie soveel leë erwe soos in Detroit nie.”

“Nee dankie,” was sy besliste antwoord. “Ek sal eerder Tokio toe gaan.”

Sowel Breytenbach, die Sestiger, en my seun wat in sy eie woorde, ‘n “Zoomer” of “Gen-Zee” is, verstaan dus Johannesburg by wyse van ‘n analogie met die VSA. Vir albei verteenwoordig Johannesburg ‘n nabootsing of “simulakrum” van ‘n Amerikaanse stad.

In sy roman Die mugu doer uit die 1950’s, heg Etienne Leroux insgelyks besondere waarde aan die begrip “shopping center”, ‘n term wat hy oor en oor in die boek in die oorspronklike Amerikaanse Engels gebruik. Op ‘n manier het Leroux gevoel dat die winkelsentrum besig was om ‘n eksistensiële verandering in die wêreld teweeg te bring. En natuurlik was hy reg.

Die middestad verteenwoordig eintlik die “oustad” of “gamla stan” of “altstadt” van Johannesburg, al is groot dele daarvan nog in ons leeftyd gebou. Die meer onlangse uitbreidings van Johannesburg bestaan grootliks uit veiligheidsbuurte en winkelsentrums, ruimtes wat onder meer ontwerp is om bewaak en beveilig te word.

Dit is juis wat Johannesburg so saai en vervelig maak. ‘n Mens beweeg van een ommuurde borrel na ‘n ander. Dit is slegs op die pad agter die ruite van jou motor dat jy werklik “buite” is – en tog ook nie. Die Nederlandse joernalis Arjen van Veelen het ‘n boek oor die VSA geskryf met die titel Amerikanen lopen niet: Leven in het hart van de VS. Dieselfde geld Johannesburg: niemand stap ooit iewers heen nie. Buiten dalk diegene wat nie oor voertuie beskik nie.

Die postmoderne Franse filosoof Jean Baudrillard, wat ek op ‘n dag in die poskantoor in Parys se sesde arrondissement raakgeloop het, het breedvoerig oor al die paradokse van Amerika geskryf. Maar ook oor die begrip “simulakrum”.

Dit is ‘n algemene idee in die moderne Franse filosofie, wat eintlik na Nietzsche terug te voer is: Daar is geen oorsprong nie, maar bloot nabootsings of simulakra. Die oustad van Johannesburg het nog oor ‘n kern beskik, in die vorm van die Carlton-sentrum en -hotel, die hoogste gewapende betongebou ter wêreld. Vir ‘n kort tydjie in die 1970’s was dit selfs die hoogste gebou in die Suidelike Halfrond. Ses-en-veertig jaar lank, tot in 2019, was dit steeds die hoogste gebou in Afrika.

“Johannesburg die wêreldklas-Afrika-stad” is by uitstek ‘n uitrafelende, postmoderne stad wat gedurig al skuifelend aan’t beweeg is. Dit is amper nomadies of risomaties, om twee van Gilles Deleuze se gunstelingwoorde te gebruik. Deleuze het destyds in die 70’s na Amsterdam met sy kanale as die “risoomstad” by uitstek verwys. Maar Amsterdam se strate en gragte het in eeue nie beweeg of veel verander nie, anders as die rustelose Johannesburg wat werklik “risomaties” oor die Transvaalse Hoëveld versprei. Of om Trevor Manuel te parafraseer: Johannesburg ‘n “amorfe entiteit”.

Die Goudstad is ook vervelig omdat die mense so oppervlakkig is. Hulle is kultuurloos, byna identiteitsloos. Elkeen is besig met sy eie rolspel as akteur in sy eie virtuele verhaal, wat in die tyd van sosiale media byna tweede natuur is. Dikwels sien ‘n mens besoekers aan winkelsentrums poseer vir selfies of foto’s wat saam met vriendinne geneem word.

Selfs die Afrikaners in Johannesburg beskik oor ‘n onsekere, onpeilbare identiteit en kruip agter ‘n Engelse masker weg. Vele emigreer na die VSA, Kanada of Australië en verdwyn soomloos in die groter Angel-Saksiese massa. In ‘n sekere sin is Johannesburg bloot ‘n afrit op die Groot Amerikaanse Snelweg.

Naby waar ek woon, is die Fourways Mall uitgebrei tot blykbaar die grootste winkelsentrum in die land. Volgens die sentrum se webblad beslaan dit 178 000 m². Daar is selfs ‘n Boeing – dalk ‘n skalkse verwysing na Leila Khaled – in die een hoek van die sentrum ingevoeg, halfpad tussen Checkers en Dis-Chem, sodat ‘n mens verby die vliegtuig se neus moet stap om jou kruideniersware of medisyne te gaan koop.

Dog die ontwikkelaars het, soos die oorspronklike eienaars van die Carltonsentrum en soveel toringgeboue in die middestad, te groot afgebyt en kry nie al die winkelruimte verhuur nie. Veral op weeksdae is die Fourways Mall verlate en sou dit goeie dekor vir die vervaardiging van ‘n zombiefliek verskaf.

Soos in die VSA, kan jy in Johannesburg ook jou kitskos by die “drive thru” bestel. By McDonald’s, KFC en Burger King. Behalwe jy kan nog nie soos oorkant die Atlantiese Oseaan “drive thru” banksake doen nie.

Suid-Afrika word gereeld as ‘n “middelinkomsteland” beskryf. Desnieteenstaande beskik Johannesburg oënskynlik oor meer weeldemotors as die rykste gebiede op aarde soos Fairfax County in Virginië, die suide van Engeland, Genève of selfs Monaco.

Veral die Mercedes Benz G-Wagon, ‘n eertydse militêre viertrekwa wat nou as luukse motor teen R4,5 miljoen hier verkoop word, is een van die gewildste voertuie in Johannesburg.

Blykbaar is dit ewe gewild in Dubai en Hollywood, asook onder ryk Afro-Amerikaners. Die munisipale amptenare van Johannesburg verdien enorme salarisse en kan sulke voertuie bekostig. Die droommotor van menige vrou in die Goudstad, die Porsche Panamera, word algemeen in die strate en winkelsentrumparkeerruimtes aangetref. Om nie van die Porsche Cayenne en die Range Rover te vergeet nie.

Naas die weelderige Porsche-handelaar in Witkoppenweg, Fourways, is egter ‘n plakkerskamp. ‘n Selfs groter plakkerskamp het oorkant die straat, op die hoek van Witkoppen en Main, ontstaan. Dis Johannesburg: Weelde en armoede naas mekaar.

Lisa Seftel, ‘n Marxistiese kennis uit my studentejare by Wits, was jare lank die direkteur van die Johannesburgse Padagentskap. Tans is sy die uitvoerende hoof van ‘n ding genaamd Nedlac. In ‘n stadium wou sy die mense in Sandton oorreed om te begin fietsry en is daar “freedom rides” van 27 km ver georganiseer. Mandela was mos 27 jaar in die gevangenis.

Sekere strate is met geplaveide sypaadjies toegerus wat sowel voetgangers as fietsers kon gebruik. Maar nie lank nie of die minibustaxi’s het begin om op die sypaadjies te ry sodra die verkeer druk begin raak.

In Leila Khaled City (Sandton) waar etlike voetgangerbrûe teen reusagtige koste oor die M1-snelweg gebou is om Alexandra met die sakebuurt te verbind, het die bossies binnekort deur die mooi gemerkte dog ongebruikte groen fietsbane begin groei.

Helaas is Johannesburg geen Amsterdam of Kopenhagen nie. Ramaphosa gaan nooit soos die eerste minister van Nederland per fiets kantoor toe ry nie.

As die blouligbrigades op die snelweë met loeiende sirenes aangejaag kom, gee ons maar pad, gedweë. Slegs sekondes lank word ons ennui deur ligte irritasie onderbreek.

Maar dalk gaan ek nog my seun oorreed om saam met my in sy Nissan 350Z-sportmotor te gaan kyk of ‘n mens nog tot bo-op die mynhoop neffens die middestad kan ry waar die Top Star-inry eens was.

Soos in American Graffiti sal ons die motor se kragtige V6-enjin ‘n bietjie daar bo laat brul, met die argaïese klanke van ‘n binnebrandenjin wat bo-oor die stad uitwalm.

Hierdie essay het oorspronklik in Rapport op 20 Oktober 2024 verskyn.

Maak 'n opvolg-bydrae