
‘n Wes-Kaapse lid van Front Nasionaal, me Franci Kunneke, het dit gister onder die aandag van die party gebring dat die Gauteng-provinsie reeds die besluit geneem het om 10 historiese geboue in die middestad van Johannesburg te sloop. Dit is deel van die sogenaamde “Gauteng Precinct”-projek en die geboue moet vernietig word om plek te maak vir ‘n groot stadsplein waar betogings en massa-byeenkomste gehou kan word.
Volgens me. Kunneke, was daar ‘n kennisgewing op ‘n webblad van die Tshwane-metro dat Krugerhuis in Pretoria ook gesloop gaan word om plek vir ‘n parkeerruimte te maak, maar dié kennisgewing het intussen “verdwyn”.
Die meeste van die geboue in Johannesburg is ouer as 60 jaar wat hulle daarom vanself erfenisgeboue maak. Die Gauteng-provinsie moes daarom toestemming by die SA Erfenisraad kry om die geboue te sloop. Volgens berigte is 40 reaksies van die publiek ontvang waarvan slegs een “positief” was en 39 besware teen die slopings was.
Tydens 1930s was Johannesburg een van die wêrelstede waar ‘n opbloei van moderne argitektuur plaasgevind het met modernisme en art déco wat hoogty gevier het. Argitekte soos die firma Cook & Cowen, asook Gordon Leith, het hoogstaande ontwerpe uitgevoer wat regoor die Westerse wêreld bewonder is. In weerwil van sy Engelse naam, het Gordon Leith aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en was hy vlot in Afrikaans en Engels, maar ook Nederlands. Leith en Pierneef was tydgenote en van sy geboue se hoekstene is deur dr. D.F. Malan gelê. Leith was ‘n voorloper van die eg inheemse moderne argitektuur van die “Pretoria-skool” wat ná die Nasionale Party se verkiesingsoorwinning in 1948 beslag gekry het. Die Afrikanerargitek het ook in Swede en ander Skandinawiese lande gereis en is deur moderne Skandinawiese boustyle, maar ook klassieke Italiaanse argitektuur, beïnvloed.
Die Gauteng-provinsie gaan ‘n glassstruktuur “soortgelyk aan die glaspiramide by die Louvre-kunsmuseum in Parys” naby die gesloopte gebied oprig. Dié glasstruktuur gaan glo op “inheemse argitektuur” gegrond wees, waaronder nie-Westerse Afrika-boustyl verstaan moet word. Soortgelyk aan die voormalige Sowjetunie, wil dit voorkom asof die geboue om ideologiese redes vernietig gaan word, omdat hulle as deel van die blanke en Afrikanererfenis in Suid-Afrika en in Johannesburg gesien word.
Die tien geboue wat gesloop gaan word of reeds gesloop word, is:
- Die New Library-hotel, Kommissarisstraat 67 en Fraserstraat 1
- Die Tweede Randwaterraadgebou, Fraserstraat 3 (ontwerp deur Gordon Leith)
- Permanentebouvereniginggebou (tans People’s Bank), Kommissarisstraat 73-75 en Simmonds 33-35
- Custom House, Fraserstraat 5 en Markstraat 68-70
- Eerste Nasionale Bank, Markstraat 78 en Simmondsstraat 37-39
- Volkskas, Markstraat 74-76
- Litom-huis, Kommissaristraat 69-71 en Fraser 2-4
- Absa, Markstraat 72 en Fraserstraat 6-8
- Clegg-huis, Kommissarisstraat 82 en Simmondsstraat 31
- Die ou SARB-gebou, hoek van Fox en Simmonds (ontwerp deur Gordon Leith)
Dr. Dan Roodt van PRAAG en onderleier van Front Nasionaal, het sy ontsteltenis oor die vernietiging van die geboue uitgespreek.
Hy sê: “In die ongeveer veertig jaar wat ek reeds in Johannesburg woon en ook toe ek in die middestad in die banksektor gewerk het, was dit altyd vir my ‘n estetiese hoogtepunt om dié werke van Leith, asook Cook en Cowen, te aanskou en te beleef. Die besluit om die geboue te sloop, verteenwoordig ‘n daad van aggressie teen ons Afrikanerserfenis wat net as etniese suiwering in die ergste graad beskryf kan word. Net soos vir ons taal, moet ons nou veg vir die behoud van ons manjifieke argitektoniese erfenis wat deur die filistynse kommunisme wat in ons land werksaam is, bedreig word.”
Terwyl sowel die DA as die Vryheidsfront Plus op die Johannesburgse stadsraad en in die Gautengprovinsie verteenwoordig is, het geen opposisieparty nog teen die slopings beswaar aangeteken nie.
“Dit is tyd dat alle Afrikaanse organisasies en politieke partye wat waarde aan ons Afrikanererfenis heg, hulle teen hierdie vernietigingsdaad uitspreek en ook daarteen verset,” meen Roodt. “Indien hierdie geboue vir altyd verlore gaan, sal dit ‘n tragedie van ongekende omvang wees wat ‘n skandvlek op Johannesburg sal laat.”
Die meegaande foto van ‘n Cook & Cowen-gebou, Lourenco-hof, is deur dr. Roodt in die vroeë tagtigerjare geneem. Dié gebou, wat oorkant Joubertpark geleë is, het ook reeds verval.

'n Groot Moslemkopdoek van glas, sê die argitekte self, gaan in die hart van Parys opgerig word en Parysenaars noem dit alreeds die Kopdoek.