Gister was daar, waar ek woon, ‘n munisipale tussenverkiesing. Deur die moderne toepassing van die wetenskaplike metode te gebruik, kon ek waarneem, ‘n teorie vorm en die teorie bewys deur veronderstellings.
Die demografie in die wyk is seker 70% blanke Afrikaanssprekendes, 25% blanke Engelsprekendes en 5% swart Sothosprekendes. 3 Partye het deelgeneem: die ANC, die DA en die VF+. Die uitslag is nog nie bekend nie.
Die ANC het ‘n paar lamppale versier. Die DA het baie lamppale versier, uit Kaapstad gebel en op Engels gevra of hulle op my kan staatmaak en ‘n pamflet versprei oor hoe sleg die VF+ is. Die VF+ het vir die eerste keer in mense heugenis groot moeite gedoen om steun te verwerf. Daar was ‘n vergadering waar Pieter Mulder en Jaco Mulder ‘n klein groepie toegespreek het, daar was elke dag SMS-boodskappe in Afrikaans, daar was pamflette oor onbehoorlikhede in die DA beheerde stadsraad en daar was baie versierde lamppale.
Ek hoor toe van blanke Afrikaanssprekendes wat sê dat hulle DA stem want almal wat hulle ken, stem DA. ‘n Skolier (leerder) meen die VF+ is rassiste.
Hieruit kan ons nou aflei dat die moderne Afrikaanssprekende blanke:
(a) nie vir homself kan dink nie,
(b) te lui is om self inligting te bekom,
(c) ‘n gewillige slaaf van propaganda is.
Ons kan ook aflei dat enigeen wat ‘n boodskap aan hierdie moderne blanke Afrikaanssprekende wil oorbring:
(a) ‘n sterk plaaslike struktuur moet oprig,
(b) die boodskap deur tot deur moet oordra,
(c) dalk ‘n dop-en-tjop-geleentheid moet reël met Casper de Vries en Joost van der Westhuizen as gaskustenaars.
Een ding wat ek nog nie kon uitvind nie is: waarvoor staan DA nou eintlik? Is dit vir Dom Astrant, Destroy Afrikaners of het dit te doen met die “da” wat een van die Staal Burger-karakters altyd gebruik het.
