Suid-Afrikaner dood in Mali-aanval

Die Suid-Afrikaanse regering het die aanval op burgerlikes by ‘n hotel in Mali veroordeel.

‘n Suid-Afrikaner, Roelof Janse van Rensburg, is in die aanval dood nadat die hotel waar hy as gyselaar aangehou is, deur Franse spesmagte bestorm is.

Hy het kort voor sy dood nog met sy vrou gepraat. Janse van Rensburg was die pa van vier kinders.

Die regering sê dit is tragies dat Janse van Rensburg gesterf het terwyl hy gehelp het om bestendigheid in Mali te probeer bring.

Hy het as paramedikus vir ‘n Russiese lugvaartmaatskappy gewerk wat deel van die VN-vredesending in die sentrale deel van Mali is.

Twaalf mense is in die aanval op ‘n hotel in die dorp Sevare dood.

Gewapende aanvallers het die hotel Vrydag bestorm en ‘n groep mense as gyselaars aangehou. Die beleg het sowat 24 uur geduur voordat die gyselaars ontset is.

Die politieke onbestendigheid in Mali is vererger deur ‘n invloei van wapens in 2011 met die Amerikaans-geleide inval in hul buurland Libië.

Die teenwoordigheid van islamiste in die noorde het in Maart 2012 tot ‘n militêre staatsgreep gelei in Mali en die vestiging die Islamitiese sjariawet.

Ecowas het ingestem om ‘n gekoördineerde militêre ekspedisie te loods op ‘n vergadering in Nigerië in November vanm dieselfde jaar, met die VN se steun.

Die regering in Bamako het Frankryk intussen versoek om militêr in te gryp. Franse troepe het Islamitiese vestings in die noorde skoongemaak, en die grootste deel van die opstand beëindig, maar die toestand bly steeds gespanne.