Namibiese NG sinode sê nee vir Belhar

Die sinode van die NG Kerk in Namibië het Saterdag ’n buitengewone­ vergadering gereël om die wysiging van artikel 1 van die Kerkorde te bespreek én om daaroor te stem.

Dié wysiging is egter nie deur die sinode aanvaar nie, het die Republikein berig.

Die voorgestelde wysiging van artikel 1 is daarop gemik om die belydenisgrondslag­ van die NG Kerk te verbreed. Dié wysiging sal dus gemeentes­ die ruimte gun om die Belydenis­ van Belhar as ’n opsionele­ vierde belydenisskrif in hul eie gemeentes­ te aanvaar of nie.

Die Belydenis van Belhar is ’n belydenisskrif­ met eenheid, versoening­ en geregtigheid as kerntemas­, om die destydse­ Nederduits-­Gereformeerde Sending­kerk­ in Suid-Afrika se protes teen apartheid te verwoord.

Die voorgestelde­ wysiging­ van artikel 1 ­ beteken nié dat alle gemeentes­ Belhar onvoorwaardelik­ moet aanvaar nie. Die besluit wat die lede van die Namibiese­ sinode dus Saterdag­ in die gesig gestaar het, is of hulle die ruimte vir ander gemeentes­ gun om die Belydenis­ van Belhar te aanvaar.

Die voorgestelde wysiging van artikel 1 lees as volg:“Die Belydenis­ van Belhar is deel van die belydenis­grondslag van die Kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers­ en vergaderinge­ wat dit as in ooreenstemming­ met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers­ en vergaderinge­ wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf­ nie.”

Volgens ’n verklaring van die moderamen­ (bestuur van die sinode) van die NG Kerk in Namibië het die sinode reeds in 2006 tot die ooreenkoms­ gekom dat die inhoud van Belhar “in ooreenstemming­ is met die Skrif” en dat dit ook ooreenstem­ met die “roepingverklaring­ van die NG Kerk in Namibië”.

Die uitslag van die stemproses­ was egter vir sommige lede ’n bitter pil om te sluk. Alhoewel 58% van die lede van die sinode ten gunste van die wysiging­ gestem het, het die Algemene­ Sinode, ’n tweederdemeerderheid­­ nodig om voort te gaan met die stemproses­.

Die Algemene Sinode word gevorm deur 10 sinodes, waarvan Namibië een is; die ander nege sinodes is in Suid-Afrika. Om artikel 1 te wysig, moet elke sinode met ’n tweederdemeerderheid­ ten gunste daarvan stem. Dus, as daar slegs een sinode is wat nie ’n tweederde­meerderheid “ja-stem” verkry nie, kan die wysiging nie gedoen word nie. Twee-derdes­­ van alle gemeentes­ moet ook ten gunste van die wysinging­ stem vir die wysiging­ ­om goedgekeur te word. Op sinodale­ vlak stem elke afgevaardigde­ as individu­, onafhanklik van sy of haar gemeente­ se besluit.

Volgens dr. Kobus Gerber, die hoofsekretaris van die NG Kerk, sal die stemproses in ander nege sinodes wél voortgaan, aangesien dit belangrik­ is dat die “kerk hom in die geheel kan uitdruk”.

Prof. Nelus Niemandt, moderator­ van die NG Kerk, het ook die buitengewone­ vergadering bygewoon­.

Volgens hom het dit al voorheen by ander stemprossese­ gebeur dat daar nie ’n tweederdemeerderheid behaal is nie, maar daar later weer gestem word.

Die moderator van die Namibiese­ sinode, ds. Pine Pienaar, het nadat die uitslag van die stemproses bekend gemaak is, dit sterk benadruk dat daar verdere gesprekke op ’n strukturele­ én persoonlike vlak moet plaasvind vir die sinode om saam ’n werkbare voorstel­ te vind.

Volgens Pienaar is die kwessie van Belhar nie nou “van die tafel af” net omdat die sinode “nee” gestem het nie.