Die Seriti Kommissie van Ondersoek na Wapenaankope sit vandag sy openbare verhore voort, nadat hy nie kommentaar wou lewer op berigte dat die kommissie opsetlik vertraag word nie.
Die woordvoerder van die kommissie, William Baloyi sê hy sal homself nie verwerdig om kommentaar te lewer op die berigte wat in Beeld verskyn het nie.
Drie bronne voer aan dat die ondersoek reeds einde verlede jaar afgehandel kon gewees het. Daar word beweer dat die proses uitgestel is ten einde die ANC te beskerm en president Jacob Zuma ‘n tweede termyn as president van die party tydens die Mangaung-konferensie te waarborg.
Volgens die berigte verhinder die voorsitter, Regter Willie Seriti en die Navorsingshoof, Fanyana Mdumbe voortdurend die kommissie se vordering. – RSG
