SA krisis is deur Dinokeng-scenario’s voorspel

Die frustrerende aspek van Suid-Afrika is dat die land voortstrompel op pad na ‘n voorspelde ramp. Soos ‘n slaapwandelaar onderweg na ‘n afgrond, gil en skree ‘n mens, maar die pasiënt word nie wakker nie.

Vir liberale en linkses, is dit maklik om geregverdigde vrese oor die land se toekoms as “regse” of konserwatiewe vooroordele af te lag. Tussen 2008 en 2009 het ‘n hele klomp swart leiers en enkele liberale blankes egter werkswinkels by Dinokeng gehou om drie uitweë of scenario’s vir Suid-Afrika te voorspel. Selfs Graça Machel was op die paneel verteenwoordig. So ook Ryan Coetzee, die DA-strateeg en Kallie Kriel van Solidariteit/Afriforum. Ander Dinokeng-name, wat sekerlik deur die hoofstroom- linksliberale media en deur die buiteland as “belangrik” geag sou word, is: Miriam Altman, Reuel Khoza, Yogan Naidoo, Frans Baleni, Njongonkulu Ndungane, Ann Bernstein, Antjie Krog, Maite Nkoana-Mashabane, Nkosinathi Biko, Thandi Nontenja, Cheryl Carolus, Mary Malete,    Thami ka Plaatjie, Angela Coetzee, Vincent Maphai, Mamphela Ramphele, Rick Menell, Sonja Sebotsa, Paul Hanratty, Daniel Mminele,    Raenette Taljaard, Bob Head, Namhla Mniki, Mathatha Tsedu, Haniff Hoosen, Aaron Motsoaledi, Sim Tshabalala, Moemedi Kepadisa, Jay Naidoo en Musa Zondi.

Daar is seker heelwat geld op die Dinokeng-”proses”, soos dit genoem is, geblaas en kort na afloop daarvan het heelwat artikels daaroor in die media verskyn. Intussen het dieselfde joernaliste en kommentators egter gerieflikheidshalwe van hul selfversekerde voorspellings en ontledings vergeet.

‘n Boek is insgelyks oor die Dinokeng-scenario’s uitgegee, wat in PDF-vorm van die Dinokeng-webwerf afgelaai kan word (sien skakel hier bo).

Die Dinokeng-span het egter drie uitweë vir Suid-Afrika voorspel: “Loop apart, loop agter en loop saam.” Uiteraard het die span die Amerikaanse “reënboognasie”-begrip vooropgestel en is “loop saam” as die ideaal voorgehou.

“Loop saam” word só beskryf: “Dié is ‘n scenario van aktiewe burgerlike skakeling met ‘n regering wat doeltreffend is en luister. Dit vra die deelname van burgers wat beter dienslewering en regeringsverantwoordelikheid vereis. Dit hang af van die wil en vermoë van burgers om hulle te organiseer en om met die owerheid in gesprek te tree, en van die gehalte van politieke leierskap en die bereidheid van sodanige leiers om met burgers te skakel.”

Tensy ‘n mens blind is – of vir Naspers/Media24 werk – kan ‘n mens vrylik konstateer dat hierdie gunstige scenario nie verwesenlik is nie. Die ANC-bewind steur hom nie aan die menings van burgers nie – of dit nou oor water, elektrisiteit, dienslewering, taal, plekname of veiligheid gaan. Selfs die ANC se eie kiesers brand nou meer openbare geboue en motorbande as ooit onder PW Botha, sondat dat die regerende party hom hoegenaamd daaraan steur. Intussen is ANC-maghebbers bloot besig om hul sakke te vul en onder mekaar oor die buit te baklei.

Die tweede scenario wat die Dinokeng-groep geëien het, is dié van “loop agter”. Dit behels ‘n soort Sowjet-staat waar alles sosialisties beplan word. Josef Stalin het mos die “vyfjaarplan” wêreldberoemd gemaak. Ook Frankryk is lief vir sulke staatsgedrewe “planne”, maar die Franse slaag darem daarin om sommige planne te laat werk, hoewel die beperkings van sulke “dirigisme” soos hulle dit noem, insgelyks die land van sy volle potensiaal weerhou. Bygesê: anders as Suid-Afrika, beskik Frankryk oor hoogs opgeleide staatsamptenare, wat redelik onafhanklik van die politici, die staatsdiens en groot openbare ondernemings bestuur.

Hier by ons sit ons natuurlik met “kaderontplooiing” wat ongeag kwalifikasies of vermoëns geskied. Dog die Dinokeng-span sien dié scenario as negatief vir die land omdat “sterk staatsinmenging privaatonderneming deur die sakesektor en burgerlike gemeenskap verdring. Die risiko’s van hierdie scenario is tweeledig: eerstens, dat die land onhoudbare skuldvlakke opbou; tweedens dat die staat toenemend outoritêr raak.”

Is hiedie scenario dalk in ons land verwesenlik? Daar is sekerlik elemente daarvan, soos die ANC se voorneme om te nasionaliseer en boere se grond af te neem, maar oor die algemeen weerhou die ANC se onbekwaamheid hom daarvan om ‘n werklike ystergreep, soortgelyk aan dié wat in totalitêre Oos-Europese lande onder kommunisme gegeld het, te verkry.

Die derde Dinokeng-scenario van “loop apart” is egter die mees negatiewe. Ons kan dit ook, ten einde enige verwarring met apartheid te voorkom, “stort in duie” noem. Vir alle praktiese doeleindes behels dit ‘n staat wat misluk. Volgens die Dinokeng-span gaan dit vir die leiers om ‘n speletjie van “vrot-eier” waar een faksie of elitegroep ‘n ander vervang. Geen van die land se uitdagings of probleme word aangespreek nie. Daar heers veral “swak kapasiteit in regeringsdepartemente” en politieke faksionalisme wat die staat kortwiek.

Soos die Dinokeng-span dit stel: “Die burgerlike gemeenskap raak toenemend vervreem soos wat openbare vertroue in openbare instellings afneem. Die staat word toenemend deur burgers vermy, wat daartoe lei dat onverantwoordbare groepe mag of beheer oor sekere dele van die maatskappy verkry. Die gaping tussen leiers en volgelinge raak groter. Burgers se geduld raak uiteindelik op en gaan oor tot betogings en onrus. Die regering, wat daartoe gedryf word deur sy onvermoë om aan burgers se eise en verwagtinge te voldoen, reageer brutaal, en ‘n spiraal van weerstand en verdrukking word ontketen. Verval en desintegrasie neem oor.”

Enigeen wat ons situasie nugter beskou, sal saamstem dat die “loop apart”-scenario dit die beste opsom. Oral is daar betogings, stakings en geweld soos vragmotors wat verbrand word wat die staat slegs deur hardhandige optrede soos tydens die Marikana-slagting kan afweer.

Terwyl die Dinokeng-scenario’s veronderstel was om oor ‘n dekade vanaf 2009 uit te speel, is die uiters negatiewe “loop apart”-scenario egter binne slegs drie jaar verwesenlik! Dus het dit nie tien jaar geneem soos die scenario-voorspellers aanvanklik gedink het nie. Dit is iets wat ek ook tydens my tydperk in die finansiële markte geleer het: dinge gebeur altyd vinniger as wat mens dink. Teen die tyd dat jy ‘n toekomstige mark- of maatskaplike beweging in die vooruitsig stel, gebeur dit klaar.

Uiteraard was die idealistiese, liberale “loop saam”-scenario van die begin af gedoem omdat Suid-Afrika in 1994 die verkeerde politieke stelsel verkry het wat alle mag in die hande van ‘n voormalige terroristebende gekonsentreer het. Indien ons oor ‘n federale stelsel soos die VSA, Duitsland of veral Switserland beskik het, sou die land veel meer suksesvol gewees het en in staat om huidige probleme die hoof te bied.

Afrikaners sal moet aanvaar dat mnr. FW de Klerk, asook sy Britse en Amerikaanse meesters, se visie vir Suid-Afrika as “klein Engeland waar almal vir een regering stem” totaal misluk het. Te midde van die toenemende anargie sal ons ons eie planne moet maak. ‘n Herrese Afrikanerdom kan op die lang duur die land en die streek net ten goede strek, omdat daar uiteindelik ‘n stabiele pool sal ontstaan waaromheen die samelewing hom kan herrangskik.

Is ons reg vir die uitdaging?

PRAAG het oplossings. Ondersteun ons!

 

Данильченко Юрий Харьков