‘n Spioenasieherrie het losgebars nadat Al Jazeera inligting uitgelek het oor Suid-Afrika se verhouding met Israel en Iran.
In ‘n intelligensieverslag van 128 bladsye, getiteld “Operasionele Doelanalise,” wat deur Suid-Afrikaanse spioene opgestel is, is die profiele van beweerde Iranse netwerke gelys, sowel as die van tuiniers en huiswerkers by die Iranse ambassade.
Dié onthullings kom kort nadat dit rugbaar geraak het dat president Barack Obama ywerig is om ‘n ooreenkoms met Iran te bereik en die Mossad die Israelse premier daarvan beskuldig het dat hy uitsprake maak oor Iran se beweerde kernprogram wat nie deur intelligensieverslae ondersteun word nie.
Right2Know en die DA het die die “buitensporige en onaanvaarbare” geheimsinnigheid van die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap (SSA) egter skerp gekritiseer.
Dié groep is skynbaar onbesorg dat buitelandse spioenasie in Suid-Afrika floreer met meer as 140 buitelandse spioene wat in die land bedrywig is.
Al Jazeera, het nogtans die Suid-Afrikaners se gebrek aan geheimhouding ver oortref deur die duisende intelligensiedokumente uit te lap.
Right2Know het dit voorts betreur dat Suid-Afrika se staatsveiligheidstrukture in die toekoms beter beheer oor die vloei van inligting sal uitoefen.
Connie September, voorsitter van die staande komitee oor intelligensie, het gesê die komitee is bekommerd oor die uitlappery van die inligting. Die komitee sal ondersoek instel en “alle betrokke persone sal verantwoordbaar gehou word”.
Mo Shaik, voormalige intelligensiehoof, het gesê dit is ’n verleentheid en owerhede moet alles in hul vermoë doen om die skuldige party vas te trek.
Die doelanalise wys veral op die militêre fokus van Iran. “Die gevorderde vlak van Suid-Afrika se tegnologie in die lugvaartnywerheid, veral in missielstelsels het toenemend ‘n fokuspunt van Iran geword, het ‘n Suid-Afrikaanse spioen vroeër gesê. “Dit word voorsien dat hierdie bedrywe geteiken sal word vir die verkrygingprosesse.”
Suid-Afrikaanse intelligensie-agente het berig dat die Iraniërs ook belangstel in die tegnologie wat gebruik word vir satellietonderskepping, aanlyntoesig en kraakbedrywighede [hacking].
Hulle het ook gesê gereedskap om enkripsiekodes te kraak en beskerming van hul eie geheime aanlyn, was deur die Iraniërs versoek.
Iranse amptenare het die bestuurders van Suid-Afrika se elektroniese onderskeppingsfasiliteit ontmoet by die Nasionale Kommunikasiesentrum in 2005. Iranse afvaardigings het ook glo verskeie ander tegniese fasiliteite, insluitend vervaardigers van onbemande tuie, elektroniese oorlogvoeringstelsels en onderskeppingstegnologie besoek.
Selfs die bloudruk van die Rooivalk-helikopter is deur ‘n buitelandse intelligensiediens gesteel en missielstelsels en intellektuele eiendom het ook in die slag gebly.
Volgens Media24 het die “Suid-Afrikaanse Intelligensiediens Israel gehelp om die omstrede missieldiefstal te probeer toesmeer”. Dit is nie bekend of die planne deur Israel aan Iran oorhandig is nie.
Tom Wheeler, navorsingsgenoot van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede, het aan Media24 gesê die inligting wat uitgelek het, is ‘n reuse-verleentheid vir Suid-Afrika. “Dit lê die land se verhoudinge met ’n rits intelligensieagentskappe bloot.”
Suid-Afrika steun die Palestyne, maar werk ook met Israel saam.
Intelligensieagentskappe sal miskien in die toekoms twee keer dink voor hulle by Suid-Afrika betrokke raak uit vrees dat inligting wat hulle met Suid-Afrika deel, nie goed bewaak word nie, het hy gesê.
Die dokumente het intussen onder meer onthul dat daar in 2012 ‘n sameswering was om die voorsitter van die Afrika Unie-kommissie, Nkosazana Dlamini-Zuma te vermoor nadat sy die pos aanvaar het.
Suid-Afrikaanse intelligensie-amptenare is glo op 22 Oktober 2012 oor die bedreiging op Dlamini-Zuma se lewe ingelig. Die inligting is na die ambassade in Addis Abeba oorgedra waar bykomende lyfwagte aan haar hotel toegewys is.
