Die Internasionale Krieketraad se Kampioenskapstoernooi – inderwaarheid ‘n mini-Wêreldbekertoernooi – begin vandag op Supersportpark in Verwoerdburg. Suid-Afrika speel gasheer vir die mannetjies van Sri Lanka.
Hierdie kan ‘n ordentlike vuurwerkwedstryd wees. Sri Lanka is gelaai met kragspelers en slinksheid, met die klem op slinksheid. Suid-Afrika is gelaai met slinksheid en kragspelers met die klem op kragspel.
Sri Lanka sal hulle vertroue in hulle draaigoëlaars, Muttiah Muralitharan en die misterieuse Mendis belê. Hulle hoop op ‘n oorwinning is hoofsaaklik gesetel in die gewaande onbeholpenheid van die Suid-Afrikaners teen tolboulwerk. Graeme Smith het egter tereg uitgewys dat Suid-Afrika die nommer een 50-boulbeurtspan ter wêreld is, juis omdat hulle die tegniek om draaiballe te speel, bemeester het.
Smith self, of “Biff” soos sy spanmaats hom verwysende na sy nonsieslose kolfbenadering noem, kan as hy sy balans vind en gemaklik oor die ligging van sy wegpen is, kan selfs vir die Spinnekop, Muralitharan, moedeloos sloeg. Hashim Amla, hy met die volstruisveerbaard, open die kolfwerk saam met Smith in die beseerde Herschelle Gibbs se plek, en hy is geneties en temperamenteel ingestel om tolballe met oorknakgewrigte te neutraliseer. Kallis, AB de Villiers en JP Duminy is self bedrewe om met doelgerigte voetwerk die angel uit ‘n tolbal te haal en om dit vir die meeste lopies te melk. En paaltjiewagter Mark Boucher en Albie, die Hamer, Morkel kan enige bal, draaiend, swaaiend of snel, uit die speelveld slaan.
Hulle sal egter veral moet konsentreer teen die slingerballe van Lasith Malinga, wat vier Proteas met vier agtereenvolgende balle gepluk het tydens die vorige Wêreldbekertoernooi. As hy sy ritme en spoed vind, kan hy haas onspeelbaar en algeheel vernietigend word.
Suid-Afrika sal vol vertroue wees dat hulle eie snellers, Dale Steyn, Wayne Parnell en óf Ntini, óf Lonwabe Tsotsobe die Sri-Lankane bang sal boul op ‘n vinnige blad. Boonop het Suid-Afrika, amper uit die bloute, ‘n tolduo in Johan Botha en Roelof van der Merwe gevind wat die slag het om die ander span in ‘n net van presiese draaiboulwerk te snoer. Dit behoort genoeg te wees, maar as die Sri-Lankaanse kolfbattery wat Sangakkara, Tilekeratne Dilshan, die bittereinde Sanath Jayasuriya en die bestendige Jayawardene insluit, hulle koers vind, kan hulle enige aanval ter wêreld papslaan.
50-50 wedstryde is nie heeltemal ‘n Lotto-affêre soos 20-20 nie, maar dit bly genoeg van ‘n lootjietrekkery om ‘n uitslag tussen twee sulke gedugte spanne met oortuiging te voorspel. Maar goeie krieket is goeie krieket en bewonderaars het baie om vanmiddag na uit te sien.
