Benin se pres. Thomas Boni Yayi sal die tuig na twee termyne neerlê “uit respek vir die grondwet” wat hom verhinder om hom in 2016 herverkiesbaar te stel.
“Elkeen het sy eie oortuigings. Myne is om my land se grondwet te respekteer,” het hy in ’n onderhoud aan AFP in Parys gesê.
Yayi se besluit onderskei hom van vele ander Afrika-staatshoofde soos die Republiek van Kongo se Denis Sassou Nguesso, Zimbabwe se Robert Mugabe en Uganda se Yoweri Museveni, wat almal reeds vir dekades aan bewind is.
Yayi is deur sy Franse ampsgenoot, Francois Hollande, as ’n voorbeeld van demokrasie in Afrika geloof.
Yayi wou nie ander staatshoofde in Afrika kritiseer nie. “Ek het nie ’n les om enige iemand te leer nie en ek wil niemand kritiseer nie,” het die 63-jarige staatshoof gesê wat in 2006 vir die eerste keer verkies is.
Benin het reeds drie gladde demokratiese regeringsoorgange gehad sedert die land se kommunistiese diktatuur in 1990 tot ’n val gekom het.
Presidentsverkiesings word vir Februarie beplan. Die regerende FCBE-party het nog nie op ’n kandidaat vir die verkiesing besluit nie.
