Die volgende feite oor die Afrikaner/Boer in Suid Afrika bepaal sy beweegruimte:-
1. Die Afrikaner/Boer is en was nooit ‘n verenigde volk nie. Daar was die verskillende trekkerleiers wat onderling hewig verskil het; daar was die koloniale boere wat met hul noordelike broeders verskil het en vir Rhodes sy setel in die Kaapse parlement verskaf het; daar was die Nuwe Republiek in Natal, die Transvaalse Republiek en die Vrystaatse Republiek, wat elk van mekaar verskil het, gesien elkeen se afsonderlike bestaan. In die laaste eeu was Afrikaner/Boerefamilies aanvanklik hewig verdeeld tussen SAP en NAT en na Verwoerd se dood hewig verdeeld tussen NAT, KP en HNP. Hulle kon nie eers saamstaan ten spyte van die voortslepende swart terreuraanvalle teenoor Afrikaner/Boere wat toe aan die gang was nie, en wat uiteindelik tot die vernietiging van Afrikaner/Boereheerskaapy gelei het.
2. Die Afrikaner/Boer sal nooit weer op enige geografiese model; óf die hele, óf ‘n gedeeltetjie van Suid-Afrika as ‘n aparte politieke bestel weer onafhanklik regeer nie. Die ander rasse groei vinniger getalsgewys as die Afrikaner/Boer aan, nieteenstaande die wensdenkery dat VIGS in die Afrikaner/Boer se guns gaan werk.
3. Daar is geen manier dat die Afrikaner/Boer weer militêr georganiseerd kan raak nie. Diegene wat wil oorgaan na guerilla-/terreuroorlog (wat wel ‘n haalbare alternatief is) sal die meerderheid van Afrikaners/Boere van hulle vervreem. Enigiets wat die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan seermaak, gaan die meerderheid Afrikaners/Boere ook erg raak.
4. Die huidige Afrikaner-politieke partye en -groeperings binne en buite die parlement maak tans geen indruk op die meeste Afrikaners/Boere nie, gesien dat die nie-Afrikaanse DA meer politieke steun geniet as genoemde Afrikaner/Boere-politieke organisasies.
5. Die enigste huidige verenigende faktor onder Afrikaners/Boere, is hul sang- en kultuurfeeste. Die Afrikaanse/Boeresangers doen meer om taaltrots en nasionale gevoel onder die Afrikaners/Boere aan te wakker as enige politieke figuur.
Ek glo dat ‘n positiewe politieke bestel vir die Afrikaner/Boer wel uitgewerk kan word binne die raamwerk van die huidige Suid-Afrikaanse realiteite indien hy bereid is om positief op te tree en op te hou om gedurig te kerm. Wat het geword van die "Afrikanerraad" wat die verskillende sieninge onder Afrikaners onder een sambreel sou gebring het? Die swartes het hulle "Council of Chiefs". Is ons so verbitterd onder mekaar as Afrikaners/Boere, dat ons nie so ‘n raad kan laat werk nie. Indien hy wel bestaan, hoekom weet die gemiddelde Afrikaner/Boer nie daarvan nie?
