Koos Reyneke is 20 jaar te laat

deur Leonie Rheeder

Mnr Piet Le Roux, ras maak saak – loop net by jou deur uit en haal jou donker bril af en kyk hoe lyk die NSA ná ras “nie meer saak maak nie”.

Intussen skryf mnr. Koos Reyneke 20 jaar te laat oor die moontlikheid om in 1994 ‘n Afrikanermeerderheidsgebied van 17% van Suid-Afrika se oppervlak te bekom. Mnr Reyneke, u  ongekwalifiseerde verwyte t.o.v. die NP en KP maak geen sin nie en is in wese niks beter as die ondergrawery van ons Afrikanervolk deur die politici van daardie tyd waarna u verwys nie. Geheime vergaderings met Mandela? Watse geheime vergaderings en hoekom geheime vergaderings? Dit het immers gegaan oor ons Afrikaners se toekoms wat julle almal in julle “geheime hande” gehad het en ons Afrikaners belieg het.

Mnr Reyneke hoekom het jy jou dan nie destyds by Jaap Marais geskaar en die waarheid vir ons vertel nie toe dit nog ‘n verskil kon maak nie?

Met hierdie twintig-jaar-te-laat-“openbaring” kan mens nie anders om te wonder wat julle nuwe agenda is om ons Afrikanervolk weer êrens te na te kom en verder te onderdruk nie. Laat ons met rus: ons is besig om te herstel en hierdie keer gaan julle dit nie regkry om speke in die wiele te plaas nie.

Spanning oor rassetransformasie by Universiteit van Stellenbosch-vergadering

Volgens ‘n voorbladberig in die Kaapse koerant, Die Burger, gaan “transformasie en die sentrum vir inklusiwiteit by die Universiteit Stellenbosch (US) na verwagting vanoggend vir groot spanning by ’n US-raadsvergadering sorg”.

Hoewel die huidige US-raad nie ten gunste van die radikale transformasie van die universiteit is, het die rektor, prof. Russel Botman, blykbaar ander planne. Soos Leon Lemmer in sy rubrieke op die praag-webblad gereeld berig, bedryf Botman ‘n vorm van universitêre politiek wat meer met linkse aktivisme as met akademie te make het.

Volgens bronne by die universiteit is ‘n “transformasieplan” wat van die blanke dosente en studente ontslae sou raak, asook die universiteit nog verder sou verengels, verleder jaar deur die universiteitsraad afgekeur. Maar Botman beskou nie die goedkeuring van die raad as noodsaaklik om in elk geval die plan uit te voer nie.

Sedert 2013 bestaan daar ‘n “Transformasiesentrum” op die kampus wat ten doel het om die US finaal van sy Afrikanerwortels en -erfenis te suiwer en daarvan ‘n Afrika-universiteit te maak.

Die sentrum beskik oor ‘n Facebook-blad waarin sy doelstelling omskryf is as “om transformasie op die kampus te bestuur, te ondersteun en te monitor”, dog dié missiestelling is intussen van die blad verwyder.

Ná die Universiteit van die Vrystaat met sy Reitz-huis-debakel en die Noordwes-Universiteit waar die sogenaamde “nazi-armgebaar” van damestudente tot ‘n nasionale polemiek gely het, is die Universiteit van Stellenbosch nou die derde Afrikaanse universiteit wat deur ‘n transformasie-aanslag in die gesig gestaar word, dié keer van binne die rektor se kantoor self.

Volgens Botman is die “breë trekke” van sy transformasieplan reeds aanvaar as deel van die US se Institusionele Voorneme en Strategie 2013 - 2018 waarvoor die raad op 29 April 2013 gestem het. Die“transformasieplan” was een van sewe aanvullende dokumente wat ook aan die raad voorgelê is.

Botman het teenoor Die Burger verklaar: “Die sentrum is gevestig as deel van ’n strategie ‘om ’n instelling te skep waarin ’n verwelkomende kultuur, gelykheid, diversiteit en transformasie floreer’.”

Die sentrum rapporteer regstreeks aan Botman en daarom voel hy hom nie gebonde aan die raad se sienings wat van meer “oorsigtelike aard” is, terwyl die transformasiesentrum deel van die “operasionele bestuur” van die kampus uitmaak.

Van die sentrum se personeel het reeds in die openbaar die Matie-alumni en donateurs as “struikelblokke vir transformasie” bestempel. Een van die aanbevelings van die transformasiesentrum is dat die naam van die DF Malan-sentrum verander moet word. Die sentrum bestempel ook die  US in ‘n dokument as “hoofsaaklik wit, heteroseksueel, manlik, Afrikaans en met belang in die sieninge van die alumni en die konvokasie en sieninge in die Afrikaanse media”.

Mnr. Piet le Roux, een van die raadslede met ‘n pro-Afrikaanse siening en wat voorheen as nagraadse student ‘n video-onderhoud met praag gevoer het, sê: “My vertroue in die US-bestuur hang af van die antwoorde wat op my vrae verskaf gaan word. Ek is glad nie tevrede met die sentrum en sy aktiwiteite nie.”

Prof. Christo Viljoen, voorsitter van die US-konvokasie, het hom soos volg daaroor uitgelaat: “Dit hou ernstige implikasies vir die konvokasie in indien sy lede deur ’n amptelike US-afdeling as struikelblokke vir die uitvoering van die raad se beleid vir diversifisering en inklusiwiteit beskou word.”

Daar is sprake van ‘n mosie van wantroue wat by vandag se vergadering ingestel mag word. Die universiteit weier egter om die gewraakte “transformasieplan” beskikbaar te stel, aangesien dit “slegs ‘n beleidsdokument is” en daarom nie vir openbare insae nie.