Zimbabwiese diktator, Robert Mugabe, 91, het na bewering Dinsdag tydens dié land se Weermagdag-vieringe besonder moeg en afgeleef gelyk, het News Day berig.
Volgens dié berig het hy gesukkel om te stap tot by die podium waar hy sy toespraak in minder as 30 minute gelewer het.
Hy het ook vir ’n paar minute tydens inspeksie van die parade stilgestaan. Net die vorige dag, by die heldeakker, het sy toespraak langer as ’n uur geduur, lui die berig.
Die swart pimpernel wat reeds sedert die land se onafhanklikwording in 1980 aan bewind is, sê hy is blakend gesond.
Zanu-PF, Mugabe se party, het vroeër bevestig dat hy weer in die 2018-verkiesing as president verkiesbaar is.
Volgens die staatsbeheerde Zimbabwe Broadcasting Corporation (ZBC) het Mugabe die Zimbabwiese weermag (ZDF) geprys vir sy “rol om die land se territoriale integriteit, soewereiniteit, maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te beskerm”.
Hy het ook gesê die weermag is die ekonomies geknelde land se trots.
