"Daarom het mens 'n revolusionêr nodig om daardie revolusie uit te voer," het hy gesê.
Mantashe meen die moontlikheid om die vaardigheidsdirektoraat vanuit die arbeidsdepartement na Nzimande se departement te verskuif word tans bespreek.
Nzimande sou ook die kongres toegespreek het, maar kon nie omdat hy 'n afspraak met president Jacob Zuma gehad het. Daar word nou verwag dat hy Woensdagoggend sal praat.
Sy is een van ses nuwe ministeries wat onder die Zuma-bewind bekendgestel is en kritiek van opposisiepartye op die hals gehaal het.
Mantashe het voorgestel dat dié kritici na die ANC se manifes kyk. "Almal van hulle (die nuwe posisies) skakel met ANC-programme," het hy gesê en 'n beroep op Numsa-lede gedoen om dié programme te ondersteun.
Die vakbondbeweging moet sy deel doen om alle vlakke van regering te monitor en om enige kommer of probleme wat dit raaksien te rapporteer.
Die sekretarisgeneraal van Cosatu, Zwelinzima Vavi, het insgelyks die byeenkoms toegespreek en gewys op die aantal vakbondleiers wat in Zuma se kabinet opgeneem is, waaronder Nzimande.
"Ons kan nie net leiers skenk en geen kontak met hulle hê nie," het Vavi gesê, wat 'n ANC-nominasie as LP geweier het nadat Cosatu-filiale aangedui het dat hulle nie graag vir hom en Nzimande aan die regering wou afstaan nie.
"Ons kan nie net kamerade skenk en niks in ruil ontvang nie… niks vir mahala nie," het hy gesê.
