TV-joernaliste beroof tydens uitsending

TV-joernaliste van die SABC is Dinsdagaand tydens ‘n regstreekse uitsending in Johannesburg beroof.

‘n Bydraende redakteur, Vuyo Mvoko, buitelandse redakteur, Sophie Mokoena en verslaggewer Chriselda Lewis was besig om voor te berei vir ‘n regstreekse uitsending toe hulle ‘n gewapende roof moes trotseer.

Die nuusspan het vir die nuusbulletin op SABC3 vanaf die Milpark-hospitaal in Johannesburg uitgesaai waar president Edgar Lungu van Zambië mediese toetse sou ondergaan.

In die beeldmateriaal wat deur die SABC op YouTube gelaai is, kan gesien word hoe drie swart mans kort voordat die uitsending begin agter Mvoko verbystap en dan terugdraai en tot die aanval oorgaan.

Een van die mans gryp na Mvoko, oënskynlik om die selfoon uit sy hand te gryp.

Die rowers, wat gewapen was, het daarna gevlug.