Kaapse rasherrie: blanke kelnerin ontvang R131 000 aan skenkings van publiek

Nadat sy deur ‘n selfaangestelde “antikoloniale” swart aktivis in die kafee waar sy werk beledig is, het ‘n blanke kelnerin van Kaapstad, Ashleigh Schultz, honderde skenkings of “fooitjies” van regoor die wêreld ontvang. Op Donderdag 29 April het Ntokozo Qwabe, ‘n Rhodes-beurshouer aan die Universiteit van Oxford wat sy “dankbaarheid” teenoor Rhodes betoon het deur ‘n onsuksesvolle veldtog te voer om die standbeeld van die beroemde imperialis van Oriel-kollege in Oxford te laat verwyder, geweier om ‘n fooitjie aan Schultz te gee omdat sy wit is.

Qwabe het ‘n boodskap in hoofletters aan die hele blanke ras in Suid-Afrika op ‘n rekening geskryf wat hy van mejuffrou Schultz in die Obzcafé in Kaapstad ontvang het: “WE WILL GIVE TIP WHEN YOU RETURN THE LAND.” Hy het later op Facebook daaroor gespog, asook oor die “blanke trane” waarin sy uitgebars het. Dié inskrywing het viraal versprei en is selfs op die globale webblad Mail Online, wat aan die gewilde Britse koerant met dié titel gekoppel is, geplaas onder die opskrif:

Oxford student who led campaign to remove Rhodes statue boasts that he refused to tip a waitress because she is white and left her in floods of ‘white tears’

Twee weldoeners, Roman Cabanac van Johannesburg en Sihle Ngobese van Kaapstad, het besluit om ‘n fondsinsamelingsveldtog in haar guns te loods. Ngobese, wat swart is maar vir die opposisiebeheerde Wes-Kaapse provinsiale regering werk, het Saterdag aan ‘n Suid-Afrikaanse nuuswerf gesê dat hy Qwabe se Facebook-plasing “beledigend, rassisties en skandelik”vind en gevoel dat hy die minste wat hy kan doen, was om aan die kelnerin die fooitjie te gee wat aan haar geweier is”. Hy het ‘n foto van sy kwitansie vir R50 op Twitter geplaas, met die handgeskrewe woorde :”And the kindness is free. F*** RMF!”
Hy het voorts gesê: “Qwabe sien nie die ironie raak van wat hy gedoen het nie. As jy oor bevoordeling wil praat, dis die toppunt van ironie vir ‘n meestersgraadstudent van Oxford om baas te speel oor ‘n kelnerin wat vir die minimumloon werk. Dit druk vir my die minagting uit wat RMF se bewerings dat dit ‘n stem vir die armes is, verdien.” Die afkorting RMF staan vir #RhodesMustFall, ‘n hutsmerk wat aanvanklik aan die Universiteit van Kaapstad gebruik is toe Rhodes se standbeeld daar met menslike ontlasting deur swart betogers bevuil is.

Die geldinsamelingsveldtog ten gunste van mejuffrou Schultz het verder momentum gekry toe twee omroepers van Gareth Cliff se aanlynradiostasie, CliffCentral, betrokke geraak het. Roman Cabanac en Jonathan Witt, aanbieders van die program “The Renegade Report”, het besluit om geld vir die blanke kelnerin wie se moeder ook aan kanker ly, in te samel. Hulle het ‘n rekening by Capitec-bank geopen en teen Sondagaand 20:00 toe die veldtog sluit, was daar ‘n totaal van R44 777,70 in die rekening. ‘n Ander veldtog op die skarebefondsingsplatform GoFundMe het tot dusver $6 045 geïn, wat die groottotaal op R130 928 in randterme te staan bring.

Op die GoFundMe-blad ten gunste van die 24-jarige blanke kelnerin, word Qwabe se antiwit tirade teen haar op Facebook prominent vertoon. Dit wil voorkom asof sy polities korrekte minagting vir haar heelwat aanlynsimpatie vir haar geskep het.

qwabe_facebook

Die fondsinsamelingsprojek ten gunste van Ashleigh Schultz het egter kritiek gekry van linksgesindes wat alle blankes steeds as “bevoordeel” beskou. Cabanac is deur die linkse joernalis Nikolaus Bauer op Twitter aangeval (sien onmiddellik hier onder).

Die alomteenwoordige anti-Afrikaanse, antiblanke popman Conrad Kock en sy pop Chester Missing het ook aan ‘n rusie met Roman Cabanac en die Renegade Report deelgeneem:

Op die konserwatiewe Britse tydskrif, The Spectator, se woernaal, skryf Candice Holdsworth dat Qwabe en sy mede-swartaktiviste teen Rhodes en blankes in die algemeen presies dít geword het wat hulle verpes:

A cruel stunt by a group of Rhodes Must Fall activists has exposed just how detached from reality the regressive left’s ‘privilege’ narratives are. Ntokozo Qwabe, one of the most prominent figures of Oxford’s ‘Rhodes Must Fall’ movement, has been publicly gloating on social media about humiliating a white waitress in Cape Town.

Showing a stunning lack of self-awareness, Qwabe, in his recollection of the incident, does not recognise that as a student of law at one of the world’s most prestigious universities, he is probably more privileged than a waitress working a minimum-wage job. Even if she is white and he is black.

PRAAG het mejuffrou Schultz gekontak wat gesê het dat sy al vier jaar lank by ObzCafé werk maar in al dié tyd “nog nooit die voorwerp van ‘n politieke grap of belediging” was nie.

‘n Woordvoerder van ObzCafe het Saterdag aan die media gesê dat hy nie kommentaar wil lewer nie. Die eienaar, Gavin Hagger, het aan die Weekend Argus gesê dat “dit ongelukkig en treurig is” dat klante “die politieke kaart gespeel het”.

Die presiese rede waarom mejuffrou Schultz in trane uitgebars het, is nie tot dusver onthul nie, en kan Qwabe se buffelagtige gedrag in ‘n selfs slegter lig stel.

Oxfordse universiteit kapituleer nie oor Rhodesstandbeeld nie

In skrille kontras met die Universiteit van Kaapstad, het die Oxfordse universiteit besluit om hom nie aan agitasie teen die Rhodesstandbeeld op sy kampus te steur nie. Oriel-kollege, waar Rhodes se standbeeld staan, het aangekondig dat dit nie van plan is dit te verwyder nie aangesien die kollege skenkings van tot £100m (R2,3 miljard) mag verloor indien hy daarmee sou voortgaan.

Volgens ‘n berig in die Londense Daily Telegraph, het die kollege verklaar: “Ná versigtige oorweging het die kollege se beheerliggaam besluit dat die standbeeld moet bly staan.”

‘n Swart Suid-Afrikaanse student, Ntokozo Qwabe, wat self met ‘n Rhodesbeurs aan die Universiteit van Oxford studeer, het heftig teen die standbeeld beswaar gemaak. Hy het ook gekla dat daar “te min swart professore aan Oxford is”.

Maar die Engelse in Engeland was nie heeltemal so ontvanklik vir swart voorskrifte soos die Engelse van Kaapstad nie. Volgens die Telegraph het Oriel-kollege reeds kansellasies van £1,5m ervaar met sommige alumni wat ook laat weet het dat hulle die kollege uit hul testamente sal weglaat.

“Die oorweldigende boodskap wat ons gekry het, is ten gunste van die behoud van die standbeeld,” sê Oriel. “Die kollege glo dat die onlangse debat juis beklemtoon het dat die voortdurende teenwoordigheid van historiese beelde ‘n belangrike herinnering verteenwoordig aan die ingewikkeldheid van die geskiedenis en die erfenis van kolonialisme wat vandag nog voelbaar is.”

Rhodes het die De Beers-mynmaatskappy gestig, terwyl teenswoordige Zimbabwe en Zambië insgelyks na hom vernoem is as Suid- en Noord-Rhodesië. Rhodes het geld geskenk aan Oriel-kollege, een van die 38 kolleges waaruit die Oxfordse Universiteit saamgestel is, en het insgelyks die Rhodesbeursfonds opgerig wat nie-Britse studente gehelp het om aan die universiteit te kan studeer. Onder hulle tel die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton, asook die oudpremier van Australië, Tony Abbott.

“Om iemand so letterlik op ‘n voetstuk te plaas, bied implisiete steun aan sy erfenis,” het Daisy Chandley, een van die kampvegters vir die verwydering van die standbeeld, verlede maand gesê.

Die kanselier van Oxford, Chris Patten, het vandeesmaand in ‘n toespraak na die onderonsie rondom die standbeeld verwys deur te sê: “Ons geskiedenis is nie ‘n blanko vel waarop ons ons eie weergawe kan skryf van wat moes gebeur het nie.”