Nama word skooltaal

Die Nama-taal gaan van volgende jaar af weer in Noord-Kaapse skole ingevoer word. Die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en Khoisan-gemeenskappe het verlede jaar besluit dat die taal in skole onderrig moet word.

Onderwysers van Namibië is tans in die Noord-Kaap om hul Suid-Afrikaanse eweknieë op te lei. Die Noord-Kaapse Departement van Onderwys gaan die taal by twee skole invoer in Riemvasmaak en Khoboes in die Richtersveld.

Die koördineerder van die program, James Mpanga, sê Nama gaan aan die breër gemeenskap onderrig word.

Dit is een van Suid-Afrika se inheemse tale wat op die rand van uitwissing was, maar spog nou met ‘n woordeboek. Die taal word in Namibië, Botswana en Suid-Afrika gepraat deur nie-Bantoesprekers.

Die boek, wat die korrekte spelling van woorde bevat in die meeste dialekte van die Nama-taal, is by Steinkopf naby Springbok in die Noord-Kaap bekendgestel. Daar word gehoop dat dit sal help om die taal te bewaar, te bevorder en te ontwikkel.

Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSat) Hoof Uitvoerende Beampte, dr Mpho Monareng sê: “Ons gee ‘n nuwe taal aan die wêreld. Dit is nuut in die sin van geletterd in die vorm van skrif.”

Die projek om die verskillende woorde en dialekte van die Nama-taal te begin, het byna drie dekades gelede begin en sal voortgaan, sê prof. Wilfred Haacke, ‘n bydraer tot die woordeboek.

“Waaraan ek werk, is die omvattende databasis vir ‘n ander hersiene uitgawe van die hoofwoordeboek uitgebrei.”

Die nuwe woordeboek is in Afrikaans, wat meer van sy sprekers sal bereik. Dit is ‘n mylpaal vir ‘n taal en kultuur wat reeds op die rand van uitwissing was.

Die bydraers het die woordeboek maklik genoeg gemaak vir kinders om te verstaan. Met Nama in skole, sal dit een van die hulpbronne wees wat hulle kan gebruik.

Woordeboeke sal ook vir ander tale gepubliseer word. Georg Friedrich Wreede was die eerste Europeër wat dié tale begin aanteken het in 1659 toe hy in die Kaap aangekom het.

Motor wat in huis vasjaag dood bejaarde vrou

Die polisie op Postmasburg in die Noord-Kaap ondersoek ‘n klag van strafbare manslag nadat ‘n bejaarde vrou Woensdagaand in haar huis dood is toe ‘n motor teen ‘n buitemuur van haar huis vasgery het.

Polisiewoordvoerder, Sergio Kock, sê Martha Johanna Geldenhuys is op die toneel dood verklaar. Hy sê die bestuurder van die motor het vermoedelik in die straat buite die huis beheer daaroor verloor.

Die motor het eers ‘n boom getref, waarna dit deur die heining van die erf is en teen ‘n buitemuur van die sitkamer, waarin Geldenhuys was, vasgery het. Kock sê vensterrame en ander puin van die muur het vermoedelik op haar geval. ‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van Geldenhuys se dood te bepaal.

Netcare 911 se woordvoerder, Chris Botha, het vroeër gesê ‘n roomkleurige ouer model Mercedes-Benz het na bewering nie by ‘n T-aansluiting gestop nie.

Volgens hom het paramedici omstreeks 18:45 hulp verleen nadat hulle na ‘n huis in Tuinstraat ontbied is. Die motor het vermoedelik deur ‘n heining van die erf gery en Geldenhuys, wat volgens hulle op haar voorstoep was, getref, het Botha gesê.

Met hul aankoms op die toneel het paramedici Geldenhuys ondersoek, maar die vrou wat vermoedelik in haar sewentigs was, het reeds aan haar beserings beswyk. Dit het vir hulle voorgekom of die motor eers vir Geldenhuys getref het en toe teen ‘n muur van die huis vasgery het.

Geldenhuys se erg getraumatiseerde man was in hul huis, het Botha gesê. Hy is nie in die voorval beseer nie.

Volgens Botha het die motorbestuurder ligte beserings opgedoen, maar is nie na ‘n hospitaal gebring nie. Daar was glo twee ander insittendes in die motor, maar hulle het na bewering weggehardloop.

Bron: OFM Nuus

DA-raadslid doodgeskiet

Nog niemand is in hegtenis geneem na die moord op ‘n DA-raadslid van Daniëlskuil in die Noordkaap nie.

Johannes Baadjies, wat Donderdag ingesweer sou word as raadslid van die Kgatelopele Plaaslike Munisipaliteit, is doodgeskiet, in wat vermoedelik ‘n politieke sluipmoord was.

Die DA-leier in die Noord-Kaap Andrew Louw (foto bo), sê Baadjies se vrou het onraad vermoed toe sy Woensdagaand tevergeefs op sy tuiskoms gewag het. Hy die huis Woensdag omstreeks 18:00 verlaat.

Louw het die ANC van die moord beskuldig en gesê Baadjies het doodsdreigemente ontvang. Hy het sy medelye met die familie uitgespreek.

“Ons innige meegevoel en simpatie met sy familie, spesifiek sy vrou en kinders. Hy was ‘n man van inbors en ‘n man met integriteit. Hy was iemand wat baie hoë respek in sy gemeenskap geniet het, soveel so dat hy dan ook in die onlangse plaaslike munisipale verkiesing ‘n merkwaardige oorwinning in Wyk 2 behaal het,” het Louw gesê.

Polisiewoordvoerder, Mariam Mochologi-Maleeme, sê Baadjies se lyk, met skietwonde, is Donderdagoggend omstreeks 06:45 naby Postmasburg deur ‘n verbyganger gevind.

Sy sê ‘n tweede slagoffer is in ‘n kritieke toestand na ‘n hospitaal in Kimberley gehaas.

“In hierdie stadium kan ons nie kommentaar lewer oor bewerings dat dit ‘n politiek-gedrewe moord was nie. Niemand is seker wat gebeur het nie,” sê Mochologi-Maleeme.