Ongeveer 300 oorlewendes van die Nazi-konsentrasiekamp Auschwitz-Birkenau het Dinsdag saam met wêreldleiers teruggekeer na die kamp om die ontsetting op 27 Januarie 1945 deur Russiese troepe te herdenk.
Die herdenking het plaasgevind te midde van groeiende kommer oor die opkoms van anti-Semitisme in Frankryk, Duitsland en ander dele van Europa, het AFP berig.
“Ons wil nie hê ons verlede moet ons kinders se toekoms wees nie,” het een oorlewende, mnr. Roman Kent (86) in ’n stem rou met emosie gesê.
“Ek het gedink ek sal hier doodgebrand word en nooit eens my eerste soen ervaar nie. Maar tog, as 14-jarige meisie, het ek oorleef,” het me. Halina Birenbaum, wat in 1929 in Pole gebore is, gesê.
Verskeie staatshoofde, insluitende Frankryk se pres. Francois Hollande, Duitsland se pres. Joachim Gauck en die Oekraïne se pres. Petro Poroshenko, was onder die leiers wat die verrigtinge bygewoon het.
Poroshenko se magsbasis en steun in sy eie land bestaan ironies grootliks genoeg uit neo-Nazi’s
Voor sy vertrek na Pole het Hollande waarskuwings deur Duitsland se kanselier, Angela Merkel, beaam oor geweld teen Jode in hedendaagse Europa.
“Frankryk is jul tuisland,” het Hollande aan Jode in Parys gesê en die opkoms van anti-Semitisme in Frankryk as “onhoudbaar” bestempel. Vier mense is vroeër die maand in Joodse supermark in Parys na bewering deur Molsem vermoor.
Anti-Semitiese aanvalle in Frankryk, die tuiste van Europa se grootste Joodse bevolking, het in 2014 tot 851 teenoor die vorige jaar verdubbel.
By ’n geleentheid in Berlyn om die bevryding van Auschwitz te herdenk, het Merkel gesê dis is ’n “skande” dat Jode in Duitsland beledigings en bedreigings ontvang vanweë hul “Joodsheid” of steun vir Israel.
Van die meer as 1,3 miljoen mense wat by Auschwitz aangehou is, het meer as 1,2 miljoen, meestal Joodse gevangenes omgekom, hetsy in gaskamers, van hongersnood of siektes.
Geskiedkundiges beraam dat tot 150 000 etniese Pole ook in Auschwitz aangehou is en as slawearbeiders gebruik is. Die helfte van hulle het in die kamp gesterf.
Europese Roma, die vasteland se grootste etniese minderheidsgroep, is ook vir uitwissing geteiken en nagenoeg 23 000 is na Auschwitz gedeporteer. Net ongeveer 2 000 het oorleef.
