‘SA het die Titanic omgedraai in onderwys’

Angie MotshekgaDie uitslae van die vorige nasionale matriekeksamen toon dat die land se onderwysstelsel verbeter het nadat die kurrikulum hersien is, het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gesê.

“Ons het die storm oorleef en die Titanic omgedraai,” het die minister op ’n konferensie by Unisa in Pretoria gesê.

Motshekga het gesê daar is merkbare tekens van vordering.

“Baie werk is gedoen om die stelsel te stabiliseer. Baie skole is redelik funksioneel en dié wat sukkel, ontvang meer ondersteuning.”

Verlede jaar se matriekslaagsyfer was 73,9% en ’n studie het ’n verbetering in wiskunde- en wetenskapuitslae getoon. Toegang tot volwasse onderwys het ook verbeter.

Motshekga het gesê die departement sal aanhou om vroeë kinderontwikkelingsprogramme te verbeter. Sy het gesê dit is ook ’n prioriteit om seker te maak daar is genoeg onderwysers en dat leerkragte behoorlik opgelei word. – Sapa