Nampol skiet ‘struggle kid’ dood

Een van die slagoffers van die skermutseling tussen die polisie en die ‘Struggle Kids’ by Swapo se hoofkantoor in Windhoek, het dood onder ‘n goue kombers langs die pad gelê Woensdagoggend.

Die jong vrou is tydens ‘n skermutseling tussen die polisie en betogers in Windhoek in Namibië doodgeskiet, waar politieke geweld nie dikwels voorkom nie.

Twee polisiebeamptes is glo ernstig beseer tydens die betoging voor die hoofkwartier van die land se regerende party, volgens sekere bronne. Die Republikein het egter berig dat drie lede van die polisie, Nampol, gewond is.

Die 26-jarige Frieda Ndatipo was een van die sogenaamde kinders van vryheidsvegters wat werkgeleenthede van die regering eis.

Polisiebeamptes sê die betogers het stokke, klippe en vuurwapens by hulle gehad, maar die betogers ontken dit.

Die eerste minister Hage Geinob het Ndatipo se dood as ‘n tragiese en ongelukkige gebeurtenis bestempel.

Volgens inligting het die ‘Struggle Kids’ die een kant van die pad beset, terwyl die polisie die ander kant bewaak het.

Die ‘Struggle Kids’ het eers die aftog by Swapo se hoofkantoor geblaas nadat die weermag se hulp ook ingeroep is.