In September 2004 het ek en Jacob Mouw op die Praaglys in debat getree oor die integriteit (of bewoë tekort daaraan) van die Vryheidsfront Plus. Jacob het voorspel dat die VF+ moontlik uit die parlement sal stap uit protes, waarop ek uiters sinies reageer het en genoem het dat die VF+ party slegs in die parlement sit ter wille van hul eie persoonlike prestige, vet pensioene en loopbaanoorwegings.
Kort daarna het ek ’n redelike sterk bewoorde epos van Dr Pieter Mulder ontvang, waarin hy kla oor die opofferings en ontberings wat hy heel altruïsties prysgegee het om ter wille van ”ons mense” in die parlement die stryd voort te sit. Interessant genoeg het ’n duidelike vies martelaar Mulder het sy epos afgesluit met die volgende woorde aan my:
"Of ek dit alles dan vir 'ons mense of ons taal' — of net vir myself doen– soos jy beweer, sal die geskiedenis eendag beoordeel en nie jy alleen nie.
Wel, ’n skrale vier jaar later en nou kan ons (sowel as die geskiedenis) seker maar ons oordeel fel? Dit het pas aan die lig gekom dat Dr Mulder ’n adjunkministersposisie in (van alle mense) Pres Jacob Zuma se kabinet aanvaar het. Dit nogal sonder om enigsins met sy leierskorps in die VF+ te konsulteer, en om dinge nog erger te maak, word ene Cornelius Janse van Rensburg (VF+ jeugleier) ”gedissiplineer" deurdat hy gewaag het om te noem dat die beginsels van die ANC hemelsbreed verskil van die van die VF+. Natuurlik sal dit die beginsellose, opportunistiese Dr Mulder en sy trawante kriewelrig maak en hulle oor hulle voete laat val om die arme jeugleier se mond te snoer.
Dis uiters tragies hoe vinnig Mulder se ”rotsvaste beginsels” vertrap en geminag word as die ANC Dingaan sy vingers klap om hierdie ”eerbare” Boereleier in sy kraal in te nooi sodat hulle almal uit die selfde krip kan vreet. Elke man het sy prys, maar selfs die links-liberale media staan verstom dat Mulder so maklik omgekoop is. Een van die Engelse dagblaaie skryf vandag: ”Kortbroek van Schalkwyk en die hele NNP is lag lag omgekoop met ’n enkele ministerspos, maar Mulder is ondergeskik (expedient), laag en goedkoop genoeg om vir ’n derderangse adjunk ministerspos te val”.
Uit ander kringe word dit al vir jare lank voorspel dat die VF+ ”op pad” na die ANC is. Nou het hulle hoofleier sy oneerbare sprong gemaak. Dankie Dr Mulder –in u eie woorde sal die geskiedenis u eendag (nou) beoordeel. Ek laat u met die wyse woorde van Cicero:
‘n Volk kan sy dwase, selfs die eersugtiges onder hulle, oorleef, maar nie verraad uit die binnekring nie. ‘n Vyand voor die poorte is minder vreesaanjaend, want hy word uitgeken en hy laat sy vlae openlik wapper. Dog die verraaier beweeg vrylik tussen diegene binne die poorte terwyl sy slinkse fluisteringe deur al die gangetjies ruis en selfs in die regeringsetel self hoorbaar is. Want die verraaier verskyn nie as verraaier nie – hy praat in tone wat aan sy slagoffers welbekend is, sy aangesig en sy gewaad is soos hulle s’n, en hy beroep hom op ‘n soort gemeenheid wat diep in die harte van alle mense verskuil le. Hy vermurwe ‘n nasie se siel – hy werk heimlik en ongesiens in die duister om die stutpilare van ‘n stad te ondergrawe – hy besmet die staatsmasjinerie totdat dit van alle weerstand beroof is. Selfs van ‘n moordenaar is minder te vrees.
Cicero, 42 v.C.
