Iets stink by die Universiteit van Missouri.
Na wat berig word het ‘n voorval van vandalisme by Mizzou, soos die Amerikaanse universiteit bekendstaan, gelei tot universiteitswye protes, ‘n boikot deur die instelling se swart voetbalspan, en uiteindelik die summiere bedanking van die president en kanselier van die universiteit.
Die rassespanning het intussen selfs na ander kampusse in die VSA uitgekring.
Daar is net een probleem: Geen bewyse van die beweerde voorval, waarin ‘n agterstewe-swastika op die muur van ‘n koshuistoilet aangebring is, is ooit geopenbaar nie.
Was dit ‘n onberispelike ontlastingsteken wat weereens die grondslag vir misleiding gebied het?
Volgens Billy Donley, die president van Mizzou se Residence Halls Association (RHA), was die agterstewe-swastika op 24 Oktober 2015 aangebring.
“Op Saterdag, 24 Oktober omstreeks 02:00 het ‘n individu in een van die toilette in Gateway Hall ‘n swastika op die muur met hul eie ontlasting aangebring,” het Donley geskryf in ‘n brief ‘n paar dae ná die beweerde voorval.
“Hierdie gebeurtenis het plaasgevind terwyl baie studente, insluitend myself, reeds aan die slaap was.”
Dit is inderdaad ‘n welkome verandering in die voortslepende toiletverhaal wat Suid-Afrikaners moet verduur met ontlasting wat helder oordag by die lughawe se ingang, munisipale kantore of oor standbeelde gegiet word.
Later in sy brief, het Donley erken dat hy oor die beweerde voorval van vandalisme ingelig is deur ‘n pamflet wat versprei is.
Die voorval is glo onmiddellik aangemeld by die polisie, maar die Missouri Police Department, wat die beweerde agterstewe-swastika-voorval ondersoek, kon ook geen bewys lewer van die poepstika nie.
Verskeie aktiviste op Twitter het ‘n foto as bewys rondgestuur dat die voorval plaasgevind het soos gerapporteer, maar ‘n Google-soektog vir dieselfde beeld toon dat dit reeds op die Internet rondswerf vir byna ‘n jaar.
A reddit-draad van November 2014 is die vroegste bewys van publikasie van die foto, wat beteken dat dit beslis nie die bewys is dat dit plaasgevind het by Mizzou op 24 Oktober 2015 nie.
Die polisie het intussen die vandalisme-klag verander omdat daar na bewering geen eiendom beskadig is nie.
Gateway Hall se koördineerder, Susan Cohn, het dadelik glo aan verskeie persone geskryf oor die “rassistiese” aangeleentheid.
In Suid-Afrika is die strooi van ontlasting egter nie “rassisties” nie, maar klaarblyklik bevrydend.
