‘Zuma het nie voordeel getrek uit opgraderings nie’

Thulas Nxesi
Thulas Nxesi

Die minister van Openbare Werke, Thulas Nxesi sê dit is nie waar dat die president eie voordeel getrek het uit die opgraderings nie.

Hy het gesê alle soewereine lande het ‘n plig om die land se verkose leier te beskerm.

Nxesi het die volledige inter-ministeriële verslag oor veiligheidsopgraderings by President Jacob Zuma se privaatwoning by Nkandla in Pretoria bekend gemaak.

Nxesi het gesê die opgraderings was noodsaaklik, en dat president Zuma nie daarvoor gevra het nie. Die veiligheidsopgraderings het meer as R200 miljoen gekos.

Hy het egter bygevoeg dat die spesiale ondersoekeenheid en die ouditeur-generaal ondersoek gaan instel na bewerings dat die kostes van die opgraderings opgejaag is.

Hulle sal ook ondersoek of enige ander ongerymdhede voorgekom het.

Die direkteur van die Sentrum vir Demokrasie-studies aan die Rhodes Universiteit, professor Steven Friedman het aan RSG gesê dat hy twyfel of openbare vertroue herstel is ná die bekendmaking van die interministeriële verslag oor president Jacob Zuma se privaatwoning by Nkandla.

Hy sê die ministers van die Veiligheidsgroepering, as deel van die regering, het een kant van die saak gestel.

Hy sê die verwagting is dat hulle die president sal steun.

Friedman sê sonder die verslag van die Openbare Beskermer, sal die publiek se vertroue nie herstel word nie.

Nkandla-verslag geopenbaar

nkandla-residenceDie volledige verslag van die ministeriële taakspan oor die veiligheidsopgraderings by president Jacob Zuma se privaatwoning in Nkandla sal Donderdag bekend gemaak word.

Die verslag sou vroeër bekend gemaak word, maar is uitgestel vanweë oud-president Nelson Mandela se dood, het RSG berig/

Die ministers van die veiligheidsgroepering sal die verslag bekend maak.

Die verslag is vroeër vanjaar deur die minister van openbare werke, Thulas Nxesi geklassifiseer, omdat dit die president se veiligheid sou benadeel.

Die besluit is egter verander nadat uittreksels uit die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se verslag oor die woning in die Mail & Guardian-koerant gepubliseer is.

Die uittreksels impliseer dat die president persoonlik deur die verbeterings bevoordeel is.

Die ANC het vroeër versoek dat die volledige verslag bekend gemaak word.