Ramaphosa gee Numsa geleentheid om saak te stel

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het vroeër ‘n oproep om eenheid in Cosatu gedoen omdat dit volgens hom noodsaaklik is om te verseker dat werkersregte beskerm word. Hy het Numsa geleentheid gegee om eersdaag hulle saak te stel.

Cosatu dreig om te skeur en irrelevant te raak in ‘n arbeidsmark wat deur hoë werkloosheid en lae produktiwiteit gekenmerk word.

Numsa en Cosatu is sedert die skietery by Marikana haaks en die stryery het verdiep voor die algemene verkiesing vandeesjaar.

Die twis handel oor onder meer oor ‘n besluit om steun aan die ANC te onttrek en buite sy tradisionale steunbasis in die metaal- en ingenieursbedryf lede te werf om ‘n breë sosialistiese werkersbeweging te bou.

Ramaphosa het gesê daar sal nog ‘n spesiale sentrale uitvoerende komitee vergadering in November gereël word om die metaalwerkersvakbond, Numsa die geleentheid te gee om homself teen skorsing uit die federasie te verdedig.

Die besluit is geneem op ‘n vergadering van die komitee wat Donderdag in Johannesburg plaasgevind het.

Daar was bespiegelinge dat die komitee Donderdag sal stem oor Numsa se skorsing. ‘n Stemmery sou egter klaarblyklik onwettig en ongrondwetlik wees.