Die Nasionale Vergadering het die verslag van die ad hoc komitee oor Nkandla aanvaar, maar sluimerende jaloesie oor geld wou net nie bedaar nie.
Die verslag het president Jacob Zuma van enige blaam onthef nadat hy voorheen aanspreeklik gehou is vir die multi-miljoenrandse opgraderings by sy privaatwoning.
In die stemming wat gehou is, het 201 parlementslede dit aanvaar, 103 het dit verwerp en niemand het buite stemming gebly nie.
Opposisiepartye het egter ‘n minderheidsverslag ter tafel gelê wat eis dat Zuma uit sy amp verwyder word, nadat hulle die voorheen uit die komitee gestap het.
‘n Georkestreerde vertragingstaktiek deur die gesamentlike opposisie het vroeër Donderdag vir chaos in die parlement gesorg.
Opposisie-lede van verskeie partye het daarin geslaag om die Nkandla-debat met meer as drie ure te vertraag, deur ‘n rekord aantal kennisgewings van mosies in te dien.
Die Nasionale Vergadering is later weer ontwrig en moes verdaag word toe chaos opnuut uitgebreek het. Dit het kort voor elfuur gisteraand gebeur
Die EFF-parlementslid, Reneilwe Mashabela moes uit die Nasionale Vergadering verwyder word nadat sy geweier het die podium te verlaat. Sy het Zuma herhaaldelik ‘n dief genoem.
Die DA en EFF se humeure en klaarblyklike jaloesie het opgevlam oor lukratiewe kontrakte rakende ‘n verdrag tussen Suid-Afrika en die Demokratiese Republiek van die Kongo oor die Grand Inga hidro-ëlektrisiteitsprojek.
Volgens Mashabela het Khulubushe Zuma, president Zuma se neef, ‘n aandeel daarin.
