Luke Watson se uitbarsting van Afrikanerhaat

Dis betreurenswaardig dat Luke Watson se uitlating die eeue-oue koloniale haat wat beduidende getalle Engelssprekendes steeds teenoor Afrikaners voel, so kru moet verwoord.

Watson slaan dieselfde trom as Nadine Gordimer en ander ikone van Afrikanerhaat in Suid-Afrika en hul werklike tuiste, Groot Brittanje. Hy wil op die Springboknaam braak omdat dit Afrikaans is. Sy vergesogte wens dat alle sogenaamde "Dutchmen" vanuit die nasionale span verwyder word, kom neer op 'n Freudiaanse verspreking wat die volksmoordfantasieë verraai wat steeds deel uitmaak van wat dit beteken om "Engels" in Suid-Afrika te wees.

Daar bestaan 'n intieme verband tussen Suid-Afrika se flirtasies met linkse totalitêre denke en die koloniale wens om die Afrikanervolk, asook individuele Afrikaners, uit te moor, uit te wis, te onderdruk of van die openbare lewe uit te sluit. Anti-Afrikaanse gevoelens floreer gewoonlik in linkse kringe of onder die verengelsde lede van die swart elite wat tot die klub van jingoïste Rooinek-kommies toegelaat is op grond van hul gemeenskaplike haat vir Afrikaans en die Afrikanervolk.

Waarskynlik is dit nie verbasend dat Watson se aanmerkings aan die Universiteit van Kaapstad gemaak is nie, 'n instelling wat reeds lank 'n sentrum, nie net van linkse denke is nie, maar ook van die gruwelikste Afrikanerhaat. Op 'n sekere vlak, kan mens Watson nie werklik blameer nie, aangesien hy bloot die produk is van Engelse instellings soos die Universiteit van Kaapstad en sommige van die meer elitistiese Engelse skole waar Afrikanerhaat en skeltaal oor "Dutchmen" deel van die amptelike kurrikulum uitmaak.

Watson se bewering dat hy "anti-rassisties" is, is tegelyk lagwekkend en oneerlik. Sowel Robert Mugabe as Idi Amin het al in die openbaar verklaar dat hulle teen rassisme en diskriminasie gekant is. Watson se gebruik van die "Dutchman"-terminologie verraai sy aandadigheid aan die mentaliteit van Kitchener en Roberts, die argitekte van die Boerekonsentrasiekampe, en wat voorhou dat Suid-Afrika 'n Engelse land of kolonie is waarin Afrikaners geen plek het nie.

Wat Watson se idee van Suid-Afrikaanse rugby sonder Afrikaners nog meer belaglik maak, is sy eie middelmatigheid, asook die middelmatigheid van kwotaspelers oor die algemeen. Die waarheid wat moeilik is om te sluk, is dat indien die Springbokspan of 'n nuwe nasionale span met een of ander polities korrekte Engelse naam van Afrikanerspelers gesuiwer sou word, dit konsekwent sou verloor en uiteindelik op die vlak van die huidige Zimbabwiese nasionale span sou beland.

Ons doen 'n beroep op alle Afrikaners en alle patriotte, waaronder daardie Engelssprekendes wat kolonialisme en Afrikanerhaat agtergelaat het, om te verenig in die stryd om die Springboknaam te behou.

длинной прихожейФильчаков прокурор