SA lugredery wag vir regeringshulp

Die Suid-Afrikaanse lugredery, Fly Blue Crane, hoop om binnekort hulle finansiële probleme uit te stryk en vlugte te hervat met die hulp van belastingbetalers se geld.

Die redery het alle vlugte onderbreek ten einde die maatskappy se besigheidsreddingsproses af te handel.

Die Oos-Kaapse regering het vroeër gesê hulle hoop dat goedkoper vlugte sal lei tot minder padongelukke. Die roete na die Transkei word vir minder as R800 ‘n vlug aangebied.

In teenstelling met ander lae-koste rederye, word gratis etes en drank aan boord voorsien.

Volgens lugredery-woordvoerder, Bettina Mtetwa, word passasiers op die vlugroetes tussen Johannesburg, Kimberley, Bloemfontein en Kaapstad die meeste deur hierdie proses geraak.

Mtetwa sê hulle is vol hoop ná President Zuma se staatsrede waarin hy kwessies soos transformasie en Swart Ekonomiese Bemagtiging aangeraak het, dat die maatskappy uiteindelik regeringsondersteuning sal ontvang.

“Ons verwelkom die feit dat die president swart besighede wil ondersteun, maar ons was nog nie suksesvol in hierdie verband nie, ten spyte van die feit dat ons verskeie regeringsbefondsingskemas genader het,” sê Mtetwa.

Sy sê ten spyte van die feit dat die lugredery die eerste kommersiële lugredery in die land is waarvan vroue die meerderheidsaandeel het, kon hulle nog nooit finansiële ondersteuning kry nie.

Die lugredery hoop om binne die volgende paar weke ‘n besigheidsreddingsplan aan krediteure voor te lê.

SAA beëindig BnP Capital se dienste

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) het ‘n besluit om die dienste van die omstrede BnP Capital te beëindig as ‘n verskaffer van finansiële dienste aan die lugredery, het die lugredery Donderdag aangekondig word.

Die besluit is Woensdag aan BnP Capital gekommunikeer, het die lugredery gesê.

Volgens News24 was BnP Capital se skielike aanstelling nie net buitensporig duur nie, maar het ook ‘n goedgekeurde banktender aan Nedbank vervang.

SAA het goedkeuring verleen vir die toekenning van bankdienste aan Nedbank op 27 Mei, vir vyf jaar, teen ‘n beraamde koste van R278 miljoen.

Die Nedbank-kontrak was onderhewig aan ‘n skuldkonsolidasieproses wat aan die gang was ten tyde was die aanstelling van BnP Capital, ‘n “boetiek finansier”.

Dit is aangestel om die lugredery te adviseer oor hoe om R15 miljard se skuld te herstruktureer.

BnP Capital sou teen ‘n fooi van R256 miljoen die advies gee, selfs al het die SAA se tesourier, Cynthia Stimpel, gesê dit kan gedoen word teen ‘n fraksie van die koste.

BnP Capital het die kontrak in Maart voor ‘n hele paar goed gevestigde maatskappye, insluitend Nedbank, Regiment en Deloitte & Touche weggeraap.

Volgens die Raad op Finansiële Dienste, is BnP Capital se lisensie om te funksioneer as ‘n verskaffer van finansiële dienste vroeër in die jaar opgehef.

SAA verwerp bewerings van ongerymdhede

Die adjunkminister van finansies, Mcebisi Jonas het enige sprake van ongrymdhede verwerp met SAA se beplande Airbus-ruiltransaksie van sowat ses miljard rand, het RSG berig.

Hy het gepraat nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens bekend gemaak het dat hy nie uit die transaksie onttrek nie, maar slegs die oorsese verhuringsmaatskappy met ‘n plaaslike een gaan vervang.

Dit volg op berigte dat die lugredery vroeër toestemming van die regering gevra om die bestelling met Airbus vir A320-vliegtuie te ruil met die verhuring van vyf groter A330-tuie.

Die redery het vroeër aan die parlement gesê verliese van meer as ses miljoen rand is in die eerste ses maande van die huidige finansiële jaar gely.

SAA het aan die parlement se toesigkomitee oor finansies gesê die lugdiens sal binne drie tot vyf jaar winsgewend wees.

Air France se baas vlug vir sy werknemers

Air France se direkteur van langafstandvlugte, Pierre Plissonnier moes deur veiligheidspersoneel en polisiebeamp­tes gehelp word om oor ’n draad te klim om van woedende werknemers te ontsnap.

Honderde beswaarde werknemers het die kantore van Air France Maandag tydens ’n vergadering van die sentrale komitee van die organisasie in Roissy-en-France binnegestorm.

Air France-KLM het Maandag ’n herstruktureringplan bekend gemaak wat tot die verlies van 2 900 werkgeleenthede sal lei.

Dié stap kom nadat vlieëniers van die sukkelende lugredery geweier het om ’n voorstel vir langer werksure te aanvaar.

Afrikaanse sakeman terug in SA na nagmerrie in EG-tronk

Die Suid-Afrikaanse sakeman, Daniel Janse van Rensburg is met sy familie by die George-lughawe herenig, nadat hy vir twee jaar in Ekwatoriaal Guinee aangehou is.

Janse van Rensburg, van Hoekwil naby Wildernis, het vroeër uitgeput op die OR Tambo Internasionale Lughawe in Gauteng in Suid-Afrika aangekom.

Die gesin se nagmerrie het twee jaar gelede begin, toe Daniel genader is deur Gabriel Bela Angabi, ‘n sakeman van Ekwatoriaal-Guinee, asook politikus en skoonseun van die land se president. Die Suid-Afrikaner moes hom glo help met die opstel van ‘n lugredery.

Daniel het na Malabo gereis in September 2013 om te verseker dat die dokumentasie in plek is. Kort na sy aankoms is hy in hegtenis geneem omdat hy na bewering R1 miljoen aan Angabi geskuld het.

Janse van Rensburg is aangehou en in die tronk gegooi waar hy vier keer malaria opgedoen het asook tifuskoors.

Suid-Afrikaanse diplomate het ingegryp nadat planne om hom Donderdag terug te bring misluk het, en Janse van Rensburg is persoonlik na die lughawe in Malabo vergesel.