Leeus het gister geskarrel teen Cheetahs

Image

WP Nel van die Cheetahs op dreef in gister se wedstryd in Bloemfontein

As 'n mens kort ná 'n Drienasieswedstryd moet sit en kyk hoe Curriebeker spelers die eierbal soos 'n afkop hoender gebukkend met bakhande rondjaag, wil jy eerder op jou Gin-en-Tonic fokus. En as jou oulike vroutjie dan nog in haar bikini buite lê en tên, is die laaste ding wat jy voor lus is 'n C-klaswedstryd tussen twee sukkelende spanne.

Nie dat die Cheetahs met hulle 36 drieë sovêr en vyfde plek op die punteleër as sukkelend beskou kan word nie. Hulle het immers met hierdie wedstryd hulle vyfde oorwinning agtereenvolgens behaal en onder hulle het 'n paar manne hand opgesteek om soos alte dikwels in die verlede deur ander spanne aangekoop te word.

Die lank en die kort van die wedstryd is dat die Lions dalk liewer Rugby vir hokkie of iets moet verruil. Nie eens Jake White se vinger-in-die-leeu-se-dinges kon die ouens in rooi tot groter hoogtes inspireer nie. Die enigste ding waarop hulle ná vandag se wedstryd kan trots wees, is dat hulle met 14 man 'n strafskop kon oorjaag in pleks daarvan om iets af te staan gedurende die tien minute wat die flank Franco van der Merwe oor sy sondes moes gaan nadink.

Die 20-16-oorwinning deur die Cheetahs vlei die Lions, en sê ook dat die Vrystaters nog bietjie afronding kort voordat hulle té entoesiasties oor hulle kanse word. As jy net met 4 punte teen 'n span wen wat in die 21ste minuut uit sy eie doelgebied uit begin hardloop, kan jy beslis nie op jou louere rus nie.

Die Cheetahs wat gevaar loop om voor aanloklike anbiedings te staan te kom, is o.a. die skrumskakel, JP Joubert, wat in sy 80ste Curriebrekerwedstryd gewys het wat ervaring beteken. Ek het gekrul van lekkerkry toe die stut in wit, JP Nel, in die 68ste minuut skielik sy lyf in 'n vleuel se skoene druk en die res laat stilstaan soos hy ooplê doellyn toe. As hy net die bal vir Nokwe gegee het, was dit sekerlik 'n drie.

Jacques-Louis Potgieter se skoppersentasie sal nooit goed lyk nie, bloot net omdat hy skop van plekke af waar ander liewer met die skeidsregter sal wil klets. So het hy byvoorbeeld tot die klein skaretjie se plesier 'n 58-meterstrafskop suiwer tussen die pale deurgejaag. Hy teken dan ook die helfte van die Cheetahs se 20 punte met sy skoen aan.

Hennie Danille, die gespikkelde katte se heelagter, verdien sy beloning vir man van die wedstryd, al het hy nie self punte aangeteken nie. Hy was net eenvoudig rotsvas met sy verdediging en 'n kriewelrige aanvaller.

Die drieë deur WP Nel en Frans Viljoen van die Cheetahs en Derrick Minni van die Leeus sal seker nie vir lank deur enigiemand anders as hulleself onthou word nie, maar was welverdiende belonings vir harde werk.

Dit was 'n wedstryd van verskeie amperse drieë deur die Cheetahs en 'n geskarrel deur die Lions. Met 24 punte lê die Cheetahs nog steeds in die vyfde plek, en het die gaping tussen hulle en die Bulle met een punt gerek. Volgende week kom hulle teen 'n opgewonde WP-span te staan en ek hoop heimlik hulle kan dan die amper na stamper oorskakel.

справка для спорталобановский класс харьков