Die dodetal in die groot storm wat oornag dele van KwaZulu-Natal verniel het, het tot 8 gestyg, het premier Sbu Ndebele gesê.
"Dit is 'n baie hartseer Nuwejaar vir dié wat geraak is en dis skokkend om te sien dat die bietjie kos wat die mense gehad het, deur modder bedek is," het hy Sondagaand aan SAPA in 'n onderhoud gesê nadat hy van die betrokke gebiede besoek het.
"Baie mense het alles verloor."
Die fratsstorm is deur inwoners en beamptes as die ergste beskryf wat hulle gesien het.
Bome is ontwortel, dakke het ingeval, mure en huise het ingegee en in sommige areas het hoofwatertoevoerpype gebars.
In onlangse maande het soortgelyke storms verskeie dele van die provinsie getref en huise vernietig. Duisende is haweloos gelaat.
Die provinsie se maatskaplike ontwikkelings-LUR, Meshack Hadebe, het gesê dat 'n familie van vier deel was van die slagoffers wat oorlede is.
Nog 'n persoon is dood in KwaKhuluzi, 'n sesde persoon is dood in Dalton en nog een in Vryheid.
In Pietermaritzburg is 'n man dood nadat hy Saterdagnag in die storm huistoe geloop het en in 'n mangat geval het.
Beamptes was nie in staat om 'n syfer te kan gee van hoeveel mense beseer is nie.
