Aardbewing van 4,6 skud Johannesburg

‘n Aarbewing van 4,6 op die Richterskaal het Johannesburg net na middernag geskud.

Die Amerikaanse geologiese opname (USGS) sê die aardbewing het om 1:14 vanoggend 12 kilometer wes van Orange Farm in die suide van Johannesburg voorgekom.

Nog geen berigte van skade of ongevalle is aangemeld nie.

Dit is die tweede aardbewing in die land die afgelope drie weke nadat die grootste aardbewing nog van 5,6 op 5 Augustus Orkney geskud het. Orkney lê in die Noordwes-provinsie, sowat 170 km suid-wes van Johannesburg.

Die USGS het dié aardbewing aan “natuurlike oorsake” toegeskryf, maar wetenskaplikes van die WNNR sê die aardbewings hou verband met mynbedrywighede.

Een persoon is dood en minstens 34 mense beseer in die aardbewing wat die KOSH-gebied geruk het.