Konserwatief en gelowig, altyd aan die verkeerde kant

Swedenborg
Swedenborg

Deur Joseph Secrève

Ek het tot dusver al gaande die menings van verskeie hofnarre gevolg wat een of ander kinderlike vreugde beleef om hul eie volk voortdurend te beswadder en verkleineer. Hiermee is ons geneig om te dink dat ons te make het met ‘n fenomeen van hierdie tyd, maar eintlik is hierdie iets wat al duisende jare oud is. So oud selfs dat dit in die Bybel opgeneem is. Ek wonder so af en toe hoe Paul Kruger sou gekyk het na sy geliefde stad (deesdae stat) en hoe dit verword het tot die soveelste multikulturele Hoer van Babilon.

Interessant genoeg het die Romeinse krygsman Vegetius die anargie in die laat vierde eeu NC treffend omskryf, verwysend na die arrogansie waarmee die Romeine hul lewenswyse op ander afgedwing het, en om in Judea grondbelasting aan die Joodse inwoners op hul eie grondgebied te hef. Daardie wêreld was gekenmerk deur anargie, roofsug, verraad en verdorwenheid. Tegelykertyd was daar ’n bespotting gemaak van vroomheid, geregtigheid en menslikheid, en het dit voorgekom “asof die wêreld deur die Satan self geregeer was”. Die goeie middelklasburgers met hul Hellenistiese opvoeding het ook steeds meer onder druk gestaan en bedreig gevoel in hul voortbestaan, en het uiteindelik geen keuse gehad as om hul kragte saam te snoer ter wille van hul oorlewing nie.

Dit lyk asof ons – soos die bekende gesegde – besig is om die geskiedenis te herhaal.

Ons hoor byvoorbeeld akademi…ek bedoel kwasi-geletterde kleuters met kopdoeke aan, wat meen dat volksgenote wat tot die konserwatiewe kant behoort oor een of ander ondergemiddelde IK beskik. Hulle sou na alle waarskynlikheid ook “wetenskaplike” bevindinge kan staaf waarin hulle gelyk gegee word. Sug! Ook so oud soos die berge!

Hierdie betreffende kleuter, dr. Piet Croucamp herhaal in feite opvattings wat sedert die wetenskapsrewolusie in die laat negentiende eeu en deur die twintigste eeu gebesig is. Die groot ironie is natuurlik dat die konserwatiewes altyd argwanend teenoor sulke bevindinge was terwyl die progressiewes hul selfvertroue in die wetenstaplike metode skaamteloos oorskat het. En daar is heelwat van hulle. Neem byvoorbeeld die Britse eugenetici Sir Francis Galton en Havelock Ellis, wat geglo het dat die swakker rasse verbied sou moet word om voort te plant, of Galton se neef Charles Darwin se bekende werk “On the Origin of Species or The Preservation of Favoured Races in the Struggle for Life” (my kursivering). Daarnaas het ons ook ander linkses gehad soos Sir Julian Huxley, daardie sosialistiese voorbok wat so heftig kapsie gemaak het teen apartheid maar tegelyk ook geglo het in eugenetika, of die kommunis Hermann J. Muller wat ‘n Nobelprys gewen het vir sy bewering dat volkere gekweek kan word na de belang van die staat, onder andere deur sommiges te steriliseer.

Die Sweedse Karolinska Instituut se afdeling Rassehigiëne het tussen 1930 en 1978 ongeveer 63 000 sterilisasies uitgevoer aan mense wat hulle as “onbevoeg” beskou het, en het nog honderde duisende mense van verskillende rasse ondersoek om te “bewys” dat die Sweedse ras ‘n beter soort was. Uiteindelik het die afdeling se deure gesluit nie omdat dit omstrede was nie, maar bloot omdat die tydsgees verander het en publieke belangstelling begin afneem het. Die belangrikste borg van die afdeling Rassehigiëne was niemand minder nie as die Nobel Instituut; daardie selfde groepie dus wat Vredespryse uitgedeel het aan al die wêreld se belangrikste terroriste en massamoordenaars, wat wissel van Henry Kissinger tot Mandela, van Arafat tot Obama.

Ook het die Britse neuroloog HL Gordon – na aanleiding van sy navorsing van die breine van honderde swartes – gestaaf in The East African Medical Journal van 1943 dat hy ‘n neurologiese minderwaardigheid by hulle gevind het: “van 14,8%, om presies te wees”.

Om maar te swyg oor die Britse Boerehater en romanskrywer Sir H. Rider Haggard wat gedink het dat Afrikaners geneties minderwaardig was omdat hulle van verskillende rasse afstam, waaronder swartes. Sulke verbasterde rasse was syns insiens gedoem om te misluk, en dit was die Engelse se plig om oor hierdie mindere rasse te heers en in onderwerping te hou.

En waar is al hierdie linkses van weleer nou? Nee wat, hulle het 180 grade linksomkeer gemaak en preek nou nog meer fanatiek vanaf die ander kansel. Dis nou ewe skielik die konserwatiewes wat teen rasvermenging is en in biologiese meerderwaardigheid glo. Dis die konserwatiewes wat ‘n gebrekkige intelligensie het. Dis die konserwatiewes wat al die gruwel in die wêreld veroorsaak het. En hierdie belangrikste meningsvormers, dieselfde groepie wat so teen Afrikaners geskop en geslaan het destyds doen dit nou weer, maar hierdie keer vanuit ‘n ander invalshoek. En elke keer het hulle hul “wetenskaplike bewyse” ter hand om ter stawing.

Dit is een van die belangrikste redes hoekom psigometriese toetse se bevindings beperk moet bly by mense wat weet wat hulle doen. ‘n IK-toets se resultaat is nie die alfa en omega van klassifisering nie. In die meeste gevalle is IK slegs ‘n newe-effek van ander diagnostiese ondersoeke en is eintlik slegs goed verstaanbaar met inbegrip van iemand se algehele sielkundige funksionering. Dikwels hang IK-meting af van iemand se emosionele toestand of denkstyl waarmee daardie persoon in die lewe staan. Die kriteria wat gemeet word is ook dikwels kultuurspesifiek. Byvoorbeeld sien ons dat die bevolkingsgroep in Suider-Afrika met die laagste IK is die Boesmans, wat ’n gemiddelde het van 54. Egter, sodra ’n gewone onkundige toeris soos ek in die Kalahari sou verdwaal, sou ek liewer die hulp van ’n Boesmanspoorsnyer vra as ’n Einstein met sy 170 IK.

Hierdie bogenoemde stellings bewys dat dit nie net in ‘n verre verlede is dat mense so slordig en onkundig omgaan met wetenskaplike feite nie, en ook nie net in Suid-Afrika met sy grimmige en armoedige linkse tradisie nie. Nog so ’n interessante linkse figuur vind ons by een van die belangrikste grondleggers van die Europese eenwording, ’n sekere Frans-Duitse kommunis genaamd Daniel Cohn-Bendit. Hierdie vent probeer sy bes om op allerlei maniere die Europese Unie nog hegter saam te bind, soos byvoorbeeld die stigting van die Spinelli Groep, ’n denktenk vir groter eenwording wat hy na ’n kommunis vernoem het. Cohn-Bendit is ook bekend dat hy almal wat uniewording teenstaan as “geestelik siek” beskou, en klink hiermee verdag veel soos Croucamp met sy lae IK uitlating. Presies watter geestelike siekte hy hiermee bedoel, is nie bekend nie. Ek neem egter aan dat dit nie pedofilie is nie, want dis immers sy voorliefde om te sien hoe 5-jarige dogtertjies hulself voor hom uittrek, soos hy self toegegee het.

Kennelik was sy gedagtes by klein kinders toe die geskiedenisles oor Karel die Grote gegee was. Keiser Karel was die eerste persoon wat Europa wou integreer, maar na sy dood het dit tog maar weer uitmekaar geval soos wat sy seuns moeite gehad het om die verskillende gebiede te reguleer. In elk geval is Cohn-Bendit se nommer een vyand die Europeër wat glo in die behoud van sy eie nasie, vandaar die ywer om regse stemme soos Geert Wilders, Filip Dewinter of die British National Party se monde te snoer.

’n Ander gunsteling stokperdjie by hierdie groep linkses is om die rug toe te keer op alle vorme van geloofsleer, waarskynlik omdat ‘n grondige kennis van geloof ‘n gesonde gemeenskapsgevoel en historiese bewussyn ontwikkel, wat bestaan uit liefde en opoffering terwyl die enigste wat links ons te biede het is haat en afguns. Blykbaar het wetenskaplike bevindings ook sogenaamd aangetoon dat ateïste ’n hoër IK het as gelowiges. Militante ateïste soos Richard Dawkins beweer mos dat die wêreld ’n beter plek sou word as geloof verbied was. Egter, die grootste ateïstiese beweging wat die mensdom nog gehad het – kommunisme – het meer as ’n honderd miljoen lewens gekos verlede eeu. Dit is die hoogste dodesyfer in so ’n kort tyd ooit, en al wat kommunisme eintlik gedoen het is om terug te keer na afgodery. Hoekom anders is Lenin se lyk in ’n masoleum bewaar en die stigter van Noord-Korea, Kim Il-Sung tot die status van ’n god opgehemel? Dit is wat gebeur sodra ‘n mens geloof afskaf in ‘n samelewing: Mense haal hul goue kalwe uit die kas en begin enige tydelike held, soos ‘n Mandela, te aanbid.

Om nog meer skade op te noem wat wetenskaplike ateïsme aangerig het kan ons kyk na die Switsers-Amerikaanse pedagoog Paolo Lionni se opstel The Leipzig Connection, waarin verhaal word hoe die ambisies van ateïstiese en sosialistiese sielkundiges die Westerse skoolkurrikula totaal vernietig het. Die bekende filosoof/sielkundige in Leipzig, Wilhelm Wundt, was ’n vroeë grondlegger van behaviorisme gewees – daardie skool van sielkunde wat gestel het dat die mens geen hoër gewaarwording het nie en bloot reageer op beloning en straf. Sy invloed het gestrek na John Dewey, BF Skinner, G. Stanley Hall, JB Cattell en ander topfigure in die sielkunde. Wundt het ook nie geglo dat daar iets soos ’n spirituele aspek bestaan nie, en het sy hele loopbaan opgeoffer om te bewys dat die mens slegs ’n stimulus – responsmasjien is. Een van Wundt se studente, die vermaarde opvoeder John Dewey het geglo dat mense nie beter as diere is nie, en dat die rol van die onderwyser voortaan tweërlei moet wees, ten eerste om kinders te help sosialiseer in hul groep in plaas van hulle help om hul geestelike vaardighede te ontwikkel, en ten tweede om deur middel van beloning en straf te help om ervarings by hulle te kweek, wat ’n sluwe manier is om hul innerlike gewaarwording te rem.

Weereens sien ons hoe die vroegmoderne opvoeders einlik een doel nagestreef het, en dit is om kinders op te voed nie om hulself te kan verryk nie, maar om hulle slawe van die tydsgees te maak. ’n Ander bekende ateïstiese opvoeder, Benjamin Bloom het geglo dat die hoogste vorm van intellek is wanneer die individu nie meer glo in die beginsels van reg en verkeerd nie! Ons kan duidelik die gevare hiervan insien om kinders sonder kernwaardes op te voed. Die resultaat is eerder Golding se Ryk van die Vlieë as Rousseau se Edel Barbaar.

Dalk is dit wat Croucamp eintlik bedoel met sy lae IK konserwatiewes. Hulle dink te veel in terme van “reg” en “verkeerd” in Suid-Afrika en daarom nie vatbaar genoeg vir rewolusionêre aksies nie.

Dit help verklaar waarom die konserwatiewe gelowiges teen die ewolusieleer gekant is. Dit is nie soseer vanweë die suiwer biologiese teorie nie, maar die potensiale misbruik wat mense gaan maak deur te stel dat die mens nie beter as ’n dier is nie. Anders gestel: Hoe meer mense in biologiese ewolusie glo, hoe meer gaan dit ten koste van geestelike ewolusie. Wanneer biologiese ewolusie te veel opgehemel word gaan mense die krag van die gees misken. Kru wetenskaplike afbakenings gaan ingevoer word om mense te kategoriseer sonder om rekening te hou met hul persoonlike waardes en strewes. Iewers het ek gelees dat die koms van Christus ’n nuwe fase in die mens se geestelike ewolusie ingelui het. Die vroeë Romeinse Christene was gekenmerk deur hul introspektiewe houding, in dié sin dat hulle hul energie geput het uit die besef dat elke mens ’n ganse heelal van belewenisse en rydomme in sy hart en siel het. Die beginsel van Christelike naasteliefde onderskraag hierdie besef. Blykbaar is dit ook die geheim agter Da Vinci se Mona Lisa-glimlag. Haar gelaatsuitdrukking verraai iemand wat swygsaam toekyk terwyl sy in kontak is met haar binneste heelal.

Na Da Vinci sou dit nog twee honderd jaar duur totdat ’n redelik onbekende mistieke wetenskaplike, Emanuel Swedenborg sy innerlike belewenisse in ’n hele aantal volumes beskryf het. Ofskoon min mense van hom gehoor het, was hy een van die mees invloedryke denkers van die moderne tyd, en sy werke het mense so uiteenlopend soos Carl Jung tot Emerson, Abraham Lincoln tot Roosevelt beïnvloed, weereens met die nadruk op die mens se geestelike groei. In sy skrywes benadruk hy hoe ’n ingesteldheid van opoffering ’n mens nader tot sy skepper bring terwyl ’n egoistiese ingesteldheid mense juis in hul persoonlike hel laat beland. Saam met Goethe, daardie ander Lutherse denker, word Swedenborg beskou as een van die intelligentste mense wat nog geleef het, en albei was diep gelowig.

Die wetenskapsrewolusie met sy faux pedagoë het jammer genoeg hierdie stemme uit die verlede stilgemaak, en hul dissipels verkondig nog steeds aan almal hul “verligtingsideale” vanuit hul akademiese leerstoele, wat eintlik alles behalwe verligtend is. Iemand soos Swedenborg sou na alle waarskynlikheid as ’n skisofreen afgemaak word en mense wat geloofsleerstellings ter harte neem as te onintelligent om wetenskap te verstaan.

Gelukkig hoef ’n mens deesdae nie meer duisende rande te betaal vir ’n universitêre graad in die geesteswetenskappe nie, wat deesdae al hoe meer uit radikale propaganda bestaan. Die suiwerste kennis wat ons werklik nodig het kan gratis van internet afgelaai word. En daar lê die sleutel van indiwidue en volkere se vryheid.

Eers dan kan ons in navolging van NP van Wyk Louw weer diegene wees wat die mensdom uit die donker nag van die siel sal lei en ’n nuwe wending gee aan die beginsel van voortbestaan in geregtigheid.

Die wind waai wes

Normaalweg word verwag dat mense met ‘n konserwatiewer uitkyk, meer tot ideologiese nostalgie verbind sal wees as byvoorbeeld die “progressiewes” en meer in die besonder die liberale.

Om dit ‘n bietjie anders te verduidelik. In kerklike verband beteken “gereformeerd” min of meer om “deurlopend die wil van die Here te soek” en kan iemand wat dus sonder behoorlike ondersoek aan bestaande opvattings kleef per definisie nie gereformeerd wees nie, omdat hy in werklikheid ortodoks is.

Wat die politiek betref, is dit stellig so dat daar wel mense is wat konserwatief gebore is, en konserwatief sal doodgaan. Langenhoven het dit miskien die treffendste opgesom toe hy en ‘n paar ander saam met Loeloeiraai onderweg maan toe is. Ver genoeg van die aarde af sien een van die reisgenote dat die aarde inderdaad rond is, “maar ek bly ‘n SAP.”

Wat Suid-Afrika waarskynlik ‘n bietjie uniek maak is die ideologiese nostalgie aan die linkerkant. Per definisie moet die liberaal nie ontstemd wees as sy mede-liberaal weens die invloed van werklikhede ideologies verskuif nie. Die liberaal erken immers die mense se bykans onbeperkte reg tot meningsvryheid, soos spraakvryheid, politieke oortuiging en wat daarmee gepaard gaan.

Wat in die praktyk gebeur is egter ‘n reaksie wat eerder tuishoort by ‘n fundamentalistiese Moslem wat suur trek oor ‘n kameraad wat na ‘n ander godsdiens bekeer word. Die fatwah (in die populistiese sin) word as’t ware teen so ‘n persoon uitgereik.

Skeldname is een manier om op hierdie “verregsing” soos Jakes Gerwel dit noem, te reageer. Die woord wat gebruik is om waarskynlik die toppunt van kwetsing uit te beeld is “nieu-konserwatief.” Die angel lê nie so seer in die feit dat iemand konserwatief is nie, maar dat hy ‘n verloopte liberaal is.

Iemand wat bykans verseker kan wees dat hy die nieu-konserwatiewe mantel omgehang gaan word is ‘n voormalige Dakarganger wat sê die grondwet het gebreke.

Vir die tipiese liberaal bly die grondwet die liberale bybel, en bo kritiek verhewe. Hoogstens word geduld dat iemand die toepassing van die grondwet kritiseer. Die grondwet immers, kan net so min gebreke hê soos wat die edel barbaar ‘n sendeling in die kookpot sal stop.

‘n Newe-effek is dat die liberale hulle algaande tot irrelevansie rangeer. Verskeie hoofstroom-koerante dra nou gereeld artikels en rubrieke waarin die liberale outeurs mekaar oorbie oor wie die meeste onder misdaad deurgeloop het, maar liberaal bly. Hulle probeer mekaar oortref in hul foutvindery met die regering. Alles gaan goed tot hulle by die deel kom waar oplossings aangebied moet word.

Na verskeie sulke artikels en rubrieke is die somtotaal van hierdie advies eintlik in een woordjie saamvatbaar. Twak.

Sommiges besef dat minstens ‘n deel van die oplossing daarin lê dat sekere veranderings in ooreenstemming met internasionale grondwetlike praktyke aangebring moet word.

Dit weer, sou beteken dat die grondwet wat soos gister en soos eergister as die beste in die wêreld voorgehou is, toe al die tyd ‘n turksvy in die broeksak was, en nog erger, dat daar leemtes aan liberale opvattings moet wees.

By gebrek aan logiese argumente word teruggeval op geykte terme om konserwatiewer opvattings mee sleg te sê, soos laertrekkery, kappiementaliteit, dom, boers of wat ook al. Sekere hoofstroommedia doen hieraan mee.

Wat is die werklikheid?

Buite Suid-Afrika is liberalisme ‘n grootliks uitgediende ideologie wat min of meer in die 70’s en 80’s van die vorige eeu sy hoogtepunt in onder meer Wes-Europa beleef het. Die vryhede wat dit gebring het, het nie net tot sex shops op straathoeke en aborsies op aanvraag gelei nie, dit het ook die ruimte van vryheid van uitdrukking geskep waarbinne rykmanskinders die dodelike Baader-Meinhoffs van stapel gestuur het.

Kort voor lank moes die liberale wêreld die realiteit in die gesig staar van hoe om verskillende menseregte teen mekaar op te weeg. Iemand se reg tot uitdrukkingsvryheid kan immers nie die reg om bomme te plant insluit, wat my reg op lewe bedreig nie.

In Suid-Afrika word nog gespook om die begrensing van verskillende regte te vind. Dikwels bly die vertrekpunt die reg op uitdrukkingsvryheid wat die reg op spraakvryheid bykans onbeperk wil sien. In ‘n onlangse DA-mediaverklaring is die kwessie van die soeke na morele waardes selfs afgewys omdat dit spraakvryheid sou beperk. Dit is egter nie so eenvoudig nie, omdat die grondwet bv self voorskryf dat die president en kabinet aan ‘n etiese kode moet voldoen. Die staat het ook die plig om die contra bones mores-beginsel in verskeie regsvertakkings te onderhou. Hoogstens kan geargumenteer word die staat se rol is nie om die morele kode te formuleer nie, maar dit kan nie die instandhouding daarvan vryspring nie.

Terwyl ideologiese nostalgie lewend bly, is ideologiese migrasie ook baie bekend. Begeniselvastes sal waarskynlik argumenteer dat die ideologiese migrante in die eerste plek geen beginsels gehad het nie.

By geleentheid loop in raadslid van die NNP, mev. Kathy van Rhijn, oor na die DP. ‘n NNP-raadslid staan in die raad op en val haar striemend aan.

‘n Maand later het die DA gevorm en sit Kathy en haar kritikus weer in dieselfde party. Die ironie ontsnap nie die destydse Mangaungse burgemeester, Jani Mohapi nie. Mohapi wil by die kritikus weet of hy nog oor Kathy voel soos wat hy ‘n maand tevore oor haar gevoel het.

Die kritikus reageer in terme soos: “Dit is net ‘n swak mens wat nie sy oortuigings verander wanneer hy beter oortuigings opdoen nie.”

Die uwe, destyds ‘n redakteur, skryf toe hieroor, maar verswyg die raadslid se naam om hom teen homself te beskerm. In onkunde word “oortuigings” egter met “beginsels” vervang.

Die raadslid is ontstoke oor hy (naamloos) as beginselloos uitgebeeld is. Hy eis ‘n regstelling. Dit word onverwyld gedoen, maar steeds sonder om die raadslid te identifiseer. Hy bel egter steeds en skryf minstens een brief. Uiteindelik, na dit geblyk het niks sal die raadslid tevrede stel nie, word die lid in die apologie geïdentifiseer, met dié stertjie by dat volgens hom, daar ‘n verskil in die politiek is tussen oortuigings en beginsels.

Nodeloos om te sê toe het die hel éérs losgebars.

Hierdie beginselvaste raadslid skryf ‘n rukkie later ‘n brief aan Volksblad waarin hy (destyds ook streekleier van die Afrikanerbond) na die ANC oorloop waar hy nou lid van ‘n burgemeesterskomitee is.

Mnr. Inus Aucamp, laaste NNP-leier in die Vrystaat en wie se privaat sekretaris hierdie raadslid was, skryf in ‘n stadium onder meer die volgende in Volksblad: ““Nou kyk as daar ’n knaap is wat kan operate, is dit X. Sy opgang, van hy ’n paar jaar gelede as verdwaalde politieke ryloper in Bloemfontein aangekom het, tot nou, was fenomenaal.

“Dit word net oortref deur die meteoretiese (sic) spoed waarmee hy telkens aarde toe kom.

“Want sien, net my ingryping het verhoed dat hy uit die DA geskors is, hy is inderdaad as hoofsekretaris van die NNP geskors (’n eerste in meer as 90 jaar!) en lyk my hy het in die Afrikanerbond ook sy moses teëgekom.

“Hy’s ’n meester om ander te gebruik om sy nes te veer, maar maak dan die fout om dit telkens self te bevuil.

“Dit maak van hom ’n politieke rugryer en verfoeilike kruiper,” is wat hy van sy eertydse persoonlike assistent in die brief geskryf het.) ”

Hieroor is ‘n klag van strafregtelike laster teen Aucamp gelê, en Aucamp gearresteer. Die Direkteur van Openbare Vervolging weier om Aucamp te vervolg, en hy wen ‘n eis van onregmatige arrestasie teen die SAPD ter waarde van R30 000.

Politieke rylopers het so ‘n wrang smaak gelaat dat oorloopwetgewing in SA gestaak is. Ironies was die DA aan die voorpunt van die opheffing daarvan, na dit aanvanklik op versoek van die DA op die wetboek geplaas is.

Maar die politieke ryloper hierbo vermeld het wél ‘n geldige punt. Iemand kán ‘n Damaskuservaring hê, en tot nuwe insigte kom.

Liberale onvergenoegdheid met verloopte liberale en afgryse oor die “verregsing” dui daarop dat ideologiese migrasie nie noodwendig in die rigting van “verligting” lei nie.

Al verswyg die media grootliks hierdie wêreldwye verskynsel, verander dit niks aan die feit nie: Die wind waai wes.

play free slotstopcargo отзывы сотрудников