Twintig kinders deur huismoeder vergiftig

mamelodi‘n Swart vrou van Mamelodi sal vandag in die plaaslike landdroshof in Pretoria verskyn nadat sy na bewering 20 kinders by ‘n kinderhuis buite die stad vergiftig het.

Die 35-jarige huismoeder is Vrydag in hegtenis geneem. Die polisie sê die motief moet nog vasgestel word.

Volgens RSG het die kinders die gif in ‘n poeiervorm tydens hulle middagete ingekry. Hulle het daarna oor diarree gekla en naar geword.

Twee van die kinders was in ‘n kritieke toestand en altwee is per helikopter na ‘n Johannesburgse hospitaal en die Steve Bikohospitaal in Pretoria gehaas.

Nog agtien is in verskillende plaaslike hospitale opgeneem. Agt van hulle is intussen weer ontslaan.

Die vrou staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Seksmisdadiger kry parool

Cezanne Visser
Cezanne Visser

Die seksmisdadiger Cezanne Visser, beter bekend as advokaat Barbie, gaan binnekort op parool vrygelaat word, het die Sunday Times Sondag berig.

Die departement van korrektiewe dienste het gesê die paroolraad het haar vrylating van Maandag af goedgekeur.

Visser dien tans tronkstraf van sewe jaar uit vir onsedelike aanranding en die vervaardiging en besit van kinderpornografie.

Sy is ook skuldig bevind dat sy bedrog gepleeg het by ‘n kinderhuis deur weeskinders onder valse voorwendsels uit te neem.

James Smalberger, adjunkkommissaris, het aan die koerant gesê Visser se parool val onder die maksimumkategorie, met streng voorwaardes wat Maandag geformaliseer sal word.

“Visser, soos enige ander oortreders in dieselfde kategorie, moes die helfte van haar vonnis uitdien, waarna sy oorweeg word vir parool,” het Smalberger gesê.

Smalberger sê die departement sal nie huiwer om haar weer in hegtenis te neem indien sy haar paroolvoorwaardes oortree nie. – Sapa