Terwyl Eugene de Kock, Janus Walusz, Clive Derby-Lewis en ander tot vandag toe in die tronk sit, is een van die persone wat met die bom gemoeid was, Aboobaker Ismail, deur die WVK kwytgeskeld. Die topbestuur van die ANC, waaronder Mandela, wat die bevel gegee het om burgerlikes op dié manier aan te val, het nooit verantwoording vir hul misdaad gedoen nie en ook geen amnestie ontvang nie.
Die Suid-Afrikaanse Weermag is vandag bykans totaal deur die voormalige terroristeleër van Umkhonto we Sizwe oorgeneem, met alle hoë militêre poste wat deur oud-MK-bevelvoerders beset word.
By die baie flaters wat die Nasionale Partyregering begaan het, was dit destdys 'n groot fout om nie onmiddellik militêr teen die ANC op te tree en die gruweldaad met byvoorbeeld 'n lugaanval op die MK-basis naby Lusaka te vergeld nie.
Weens die swakheid en onnoselheid van die ou regering het terreur in Suid-Afrika geslaag. Sedertdien word ons politiek deur vrees bepaal en besluite word dikwels ná intimidasie geneem wat niks minder as kapitulasies verteenwoordig nie.
Die terreurdaad van 1983 het tot 'n terreurstaat gely waar alle burgers gedurig met die vrees van gewelddadige aanvalle, rooftogte, moorde en verkragtings moet saamleef. Volgens die Stockholm-sindroom kry die slagoffers dikwels hul folteraars lief; vandaar die ophemeling van die ANC en die lafhartige moordenaars van Umkhonto we Sizwe deur 'n groot deel van die Suid-Afrikaanse media wat vandag swyg oor die gruweldaad van 26 jaar gelede.
Die onregte wat daar tans teen die Afrikaner in Suid-Afrika gepleeg word, is legio. Terwyl die juk van die vars onregte en geweld op ons druk, mag ons nooit 20 Mei 1983 vergeet nie.
Die skanddaad van daardie dag staan gebrandmerk in ons geskiedenis soos 11 September 2001 in die Amerikaanse.
