Aap sorg vir landwye algehele kragverlies in Kenia

Nie ‘n amptenaar nie, maar ‘n aap het die skuld gekry vir ‘n landwye kragonderbreking in Kenia ná hy op ‘n “transformator by ‘n kragstasie geval het”.

Die land aan ooskus van Afrika was Dinsdag sonder elektrisiteit vir meer as drie uur ná die voorval kort ná 11:30 plaaslike tyd.

Die elektrisiteitsmaatskappy Kengen het in ‘n verklaring beweer dat die onderbreking die gevolg was van ‘n aap wat op ‘n kragstasiedak geklouter het en oor ‘n transformator gestruikel het.

“Op 1129 uur vanoggend, het ‘n aap op die dak van Gitaru-kragstasie geklim en oor die transformator gestruikel.

“Dit het veroorsaak dat ander masjiene by die kragstasie oorlaai wat gelei tot ‘n verlies van meer as 180MW by die aanleg, wat ‘n nasionale kragverlies veroorsaak het.

“Die stelsel is intussen herstel en al ons krageenhede word normaalweg bedryf.

“Kengen kraginstallasies word deur elektriese heinings beskerm wat plunderende wilde diere weghou.

“Ons is jammer oor hierdie geïsoleerde voorval en die maatskappy is op soek na maniere om verdere verbetering van sekuriteit by al ons kragsentrales te verseker.”

Intussen duur openbare geweld in Kenia se westelike stad, Kisumu, voort met paaie wat deur brandende buitebande en klippe afgesper word.

Oproeriges eis dat die ­verkiesingsliggaam, wat volgende jaar se verkiesings moet reël, moet bedank.

Die polisie en betogers het sedert láát April herhaaldelik slaags geraak tydens protesoptogte wat byna weekliks deur die opposisie gereël is en waarin die onafhanklike verkiesing- en afbakeningskommissie van partydigheid beskuldig word.

Kisumu en ander dorpe in die weste van die Kenia is opposisievestings en het reeds van die ernstigste g­eweldpleging beleef. Drie mense is in gevegte in die streek op 23 Mei dood.

Die polisie het ook met betogers in Nairobi gebots, waar die opposisie gister vergaderings beplan het.

‘n Vergadering verlede week tussen pres. Uhuru Kenyatta en die opposisieleier, Raila Odinga, kon nie daarin slaag om die spanning te verlig in ’n land wat geneig is om politieke onrus te beleef nie. Geweldpleging ná die 2007-verkiesing het die lewens van ongeveer 1 200 mense geëis.

Die opposisie eis ’n dialoog om die verkiesingskommissie te hervorm.

Verkiesingskommissarisse ontken vooroordeel en sê hulle wil aanbly.

Die regering hou vol dat enige hervormings grondwetlike kanale moet volg, wat ’n petisie aan die parlement vereis waar Kenyatta se Jubilee-koa­lisie ’n meerderheid het.