Vrese dat konflik in Suid-Soedan kan hervat

‘n Swaar bewapende Ugandese militêre konvooi het Donderdag die grens na Suid-Soedan oorgesteek om die land se burgers wat in Jaba vasgekeer is, na veiligheid te neem, het AFP berig.

Dit kom midde vrees dat die intensiewe gevegte van verlede naweek enige oomblik weer kan uitbreek, ondanks die skietstilstand-ooreenkoms wat steeds van krag is.

Die Verenigde Nasies het gewaarsku oor die gespanne toestand in die land en die moontlikheid van nuwe geweldpleging.

Die Ugandese konvooi van ongeveer 50 vragmotors, wat vergesel word van gepantserde voertuie wat met masjiengewere bewapen is, het die grens by Nimule oorgesteek om ‘n veilige korridor vir vlugtende burgerlikes op die 200 kilometer lange pad tussen Juba en Nimule te open.

“Ons beplan om na Juba te gaan en ongeveer 3 000 Ugandese wat daar gestrand is en die land wil verlaat, na veiligheid te neem,” het Uganda se weermaghoof, brigadier Leopold Kyanda, gesê.

Kyanda sê die sending sal tussen twee en drie dae duur.

Die Ugandese weermag het aan die kant van pres. Salva Kiir geveg nadat die burgeroorlog in Desember 2013 uitgebreek het tussen magte lojaal aan hom en magte wat deur die visepresident Riek Machar gelei is.

Van buite Juba is berigte van geweldpleging in die dorpe Leer in die Eenheidstaat en Wau in die westelike Bahr el Ghazal-staat ontvang. Die weermag en rebellemagte het ook in die omgewing van Malakal in die Bo-Nyl-streek gemobiliseer.

Handelsvlugte is gister uit Juba hervat. Vliegtuie wat aangekom het was leeg en het stampvol vertrek met mense wat desperaat was om die stad te verlaat. Spesiale huurvlugte neem buitelanders sedert Woensdag uit die land.

Vrese vir etniese stryd in Suid-Soedan neem toe

south-sudan-flag
Vlag van Suid-Soedan

Burgers van die VSA is Sondag veilig ontruim van Bor tot Juba in Suid-Soedan het die State Department gesê nadat vrese van ‘n etniese burgeroorlog verskerp het.

Die VN-sending in Suid-Soedan is tans besig om alle burgerlike personeel uit die hoofstad Juba na Oeganda te verskuif, te midde van die toenemende geweld tussen die land se weermag en rebellemagte.

‘n Helikopter van die VN is Vrydag in dieselfde streek afgeskiet.

Die sending sê die personeel in Bor, waar hewige gevegte aan die gang is, is reeds na Juba geneem.

Geweervuur het twee dae gelede drie Amerikaanse militêre vliegtuie getref wat besig was om Amerikaanse burgers te ontruim, en vier soldate is gewond.

Die geweld in die wêreld se jongste staat het reeds die lewens van honderde mense geëis en wêreldleiers het hul kommer oor die oorlog uitgespreek.

President Barack Obama het in ‘n brief aan die leiers in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers en die Senaat gesê hulle monitor die situasie.

Ongeveer 380 Amerikaanse amptenare en private burgers is uit die gevegte in Suid-Soedan ontruim, het die State Department gesê.

Hulle het ook sowat 300 burgers van ander lande na Nairobi en ander plekke buite Suid-Soedan op vier huurvlugte en vyf militêre vliegtuie gevlieg .

“Die Amerikaanse regering doen alles moontlik om die veiligheid en sekuriteit van die Verenigde State se burgers in Suid-Soedan te verseker,” lui die verklaring deur Jen Psaki, die State Department se woordvoerder.

Die VSA se militêre magte het bevestig dat vier van sy lede in die aanvalle gewond is.

Die Verenigde Nasies sê honderde mense is dood in die jongste konflik in Suid-Soedan.