Rassetransformasie moet diep sny – Jonathan Jansen

Jonathan Jansen
Jonathan Jansen

Vandeesweek het prof. Jonathan Jansen ‘n rubriek in Afrikaans en Engels in Beeld, Die Burger en The Times gepubliseer waarin hy wesentlik die regering se plan steun om van blankes op universiteit ontslae te raak, op enkele voorbehoude na. In die openbare belang en omdat Leon Lemmer ook daarna verwys, plaas ons enkele uittreksels daaruit:

’n Ontstellende dokument gaan universiteite binnekort tref, naamlik die verslag van die transformasie-oorsigkomitee wat deur min. Blade Nzimande ingestel is om die omvang van verandering in die 23 openbare universiteite te onthul.

Die doel van die ondersoek is korrek. Ons het universiteite nodig wat waarlik oop is vir die volle spektrum van talent hier en in die buiteland. Dit beteken ons het meer swart en vroue-akademici en studente nodig; dat meer gestremdes toegang moet kry; en dat meer wit studente op tradisioneel swart kampusse nodig is. Ons het normale universiteite nodig wat nie gedefinieer word deur ’n tragiese geskiedenis van uitsluiting nie.

Wat ons nié nodig het nie, is ’n verslag wat die kompleksiteite van transformasie beperk tot ’n gelykheidsindeks waarin die getal swart personeellede of studente getel, universiteite van die beste tot die swakste gerangskik en sommige tot meer getransformeerd verklaar word. So ’n denkwyse wat transformasie tot velkleur beperk, is bloot die keersy van apartheidsdenke. Ironies genoeg is dié verslag ’n terugslag vir transformasie.

Boonop hoef ’n universiteit wat met ’n swart instelling saamgesmelt het en nou as “getransformeer” bekend staan niks te gedoen het om dit te bewerkstellig nie.

Maatskaplike geregtigheid verg dat swart studente en akademici, wat deur voormalige wit universiteite uitgesluit is, in groot getalle toegelaat word. Maar transformasie strek veel dieper. Dit behels diep, kwalitatiewe veranderings in verhoudings, waar mense oor vorige verdelingslyne heen omarm word.

Dit beteken dat universiteite menslike plekke is wat na minderbevoorregtes uitreik. Dit veronderstel ’n diep transformasie van die kurrikulum wat kennis buite die eng beperkings van ons blywende koloniale en apartheidsepistemologieë oopstel. Dit verg intellektuele ruimtes op kampusse waar ortodoksie bevraagteken en kritiese teorieë en navorsingsmetodes bevorder word.

Dit beteken nie dat histories wit universiteite uit die pekel is nie. Dit is onverskoonbaar dat ’n universiteit se personeel steeds oorweldigend wit is. ’n Universiteit met ’n oorwegend wit kampus dien duidelik nie studente of die land goed nie. Dit moet verander.

Die meeste universiteite (nie almal nie) probeer baie hard om inklusiewer in hul werwing van studente en personeel te wees. Dit is nie altyd maklik nie. In die soeke na ’n swart dekaan in die regte, ’n swart hoof van aktuariële wetenskappe of ’n swart hoof van forensiese wetenskappe wat ’n topgeleerde én ’n bekwame bestuurder is, bie die een rektor hoër as die ander vir die dienste van die een of twee beskikbare kandidate.

Dit is moeilik om, veral wat top- akademiese talent betref, inklusiewer te word en dit lyk of die verslag glad nie gaan help om dié doelwit te bereik nie. Daarbenewens gaan die moniteringspolisie losgelaat word op dié wat probeer.

Op lang termyn is die enigste oplossing om nog duisende talentvolle swart mense in meesters- en doktorale studies in te sluit en die beste onder hulle vir akademiese loopbane te koester – sy aan sy met hul talentvolste wit kollegas.