Britse media probeer moord op Jo Cox aan Suid-Afrika en ‘wit heerssug’ verbind

Die moord helder oordag op straat op die Arbeiderpolitikus, Jo Cox, het die hele Brittanje geskok en veroorsaak dat referendumveldtogte rondom die Brexit-referendum vandag vir die tweede dag opgeskort is. Intussen poog van die meer liberale tot linkse Britse koerante soos die Independent om die verdagte moordenaar, Thomas Mair, 52, met Suid-Afrika en sogenaamde “wit heerssug” te verbind. In vandag se uitgawe beweer die koerant dat “die polisie Mair se moontlike belangstelling in in verregse politiek en pro-apartheid-Suid-Afrika ondersoek”.

Hierdie “verbintenis” sou verband hou met Mair, ‘n Skot van geboorte, se intekening op ‘n nuusbrief van die Springbokklub, ‘n polities-kulturele groep in Brittanje wat ook soms lesings organiseer. Die “verregse” element wat deur die Independent in ‘n onlangs nuusbrief van die Springbokklub geïdentifiseer is, is die volgende reëls:

“Daar wag ‘n goue toekoms op Brittanje daarbuite as die land eers weer na sy tradisionele visie terugkeer van na die oop see te kyk en na sy etniese broers en susters in die Statebond rondom die aardbol. Die dae wat kom, sal ons inspireer!”

Nog ‘n bewering wat oor Mair gemaak word, is dat hy “Brittanje eerste!” (Britain first) sou geskree het tydens sy inhegtenisname deur die polisie, en terwyl die gewonde Jo Cox in ‘n ambulans gelaai is. “Britain First” is ook die naam van ‘n politieke party in Brittanje wat teen immigrasie gekant is en wil hê dat Moslems na hul lande van oorsprong moet terugkeer.

In haar eerste toespraak in die Britse Laerhuis het me. Cox daarna verwys dat haar kiesafdeling “deur diversiteit (veral Moslems) verryk is” en sy was ook ten gunste van meer immigrasie en die inneem van Siriese vlugtelinge in Brittanje.

Haar man, Brendan Cox, wat vir linkse organisasies wat deur George Soros befonds is, gewerk het, is by Save the Children van “onvanpaste gedrag teenoor vroue” beskuldig.

Thomas Mair, die beweerde moordenaar, is vir geestessiekte behandel en word deur bure en mense in wie se tuine hy gewerk het as “stil en ingetoë” beskryf. Benewens tuinmaak en die weer, het hy volgens kennisse oor niks anders gepraat nie en veral nie oor politiek nie. Op sy minste lyk dit dus vreemd dat hy daartoe sou oorgaan om die Arbeider-LP vir dié Yorkshire-kiesafdeling helder oordag op straat dood te skiet.

Dat “wit heerssug in Suid-Afrika verder die skuld moet kry, verhoog die indruk dat alles nie met die moord pluis is nie. Die Britse Arbeidersparty het destyds in die tagtigerjare openlik terreur in Suid-Afrika gesteun, asook geld en ander steun aan die ANC en Suid-Afrikaanse Kommunisteparty verleen. Die Miliband-broers, Ed en David, wat heel onlangs ‘n prominente rol in die party speel, se vader Ralph Miliband was ‘n boesemvriend van die Suid-Afrikaanse kommunis Joe Slovo en insgelyks ‘n oortuigde kommunis.