Twee swart mans wat vier tieners doodgemaak het omdat hulle na bewering op straat in Soweto resies gejaag het, sal na verwagting vandag in die Protea-landdroshof verskyn.
Die swartes, waarvan een ‘n bekende hiphop-kunstenaar is, was besig om in Mini Coopers resies te jaag op die pad tussen Protea Glen en Protea-noord toe hulle in die vier seuns ingeploeg het wat ná skool saam met vriende op pad huis toe was.
Die tieners, waarvan die ouderdomme tussen 17 en 19 wissel, is op die toneel gedood toe die twee Mini Coopers met mekaar gebots het.
‘n Woordvoerder vir die Metropolisie, Edna Mamonyane, het gesê: “Dis ‘n tweerigtingstraat en een van die motors het in die ander baan gery, in die baan van die aankomende verkeer, parallel met mekaar.”
Toe ‘n aankomende motor vanuit die ander rigting verskyn, het die bestuurder gepoog om terug in die regte rigting te swaai en in die Mini waarmee hy resies gejaag het, vasgery.
“Hulle het albei op die sypaadjie gery en in die vier jong seuns ingeploeg wat nog in hul skoolklere was,” het Mamonyane gesê.
Die twee jaagduiwels sal teregstaan op aanklagte van strafbare manslag, asook nalatige en roekelose bestuur.
Die plaaslike raadslid en leier van die Inkatha-Vryheidsparty in Soweto, Dlangezwa Mvelase, het gesê die gemeenskap is “baie kwaad” oor die dood van die vier seuns.
“Die reg moet sy gang gaan met mense wat ligsinnige speletjies op die paaie speel en daardeur onskuldige kinders doodmaak,” het Mvelase gesê.
