Is ‘n sentrale Afrikanerraad haalbaar?

Dit is vir my teleurstellend om op Praag te lees hoe sekere Afrikaners mede-Afrikaners gedurig hatig afkraak, omrede sodanige Afrikaners nie volgens die betrokke skrywer na wense optree nie, of nie dieselfde siening as die betrokke skrywer huldig nie; asof die Afrikaner nie alreeds genoegsame vyande het wat probeer om die Afrikaner verder van mekaar te vervreem nie.  Kurt Darren word veroordeel omrede hy in Nelson Mandele se London verjaarsdagopvoering opgetree het, prof. Fourie omdat hy hom in Australië bevind het (en wat van die ander honderde duisende Afrikaners in die buiteland), ens.

Hoe vinniger besef word dat die blanke Afrikaner nie meer ‘n homogene volk is nie, maar ‘n volk met wyd uiteenlopende sieninge en waardes (in baie gevalle onversoenbaar), hoe vinniger is daar heil vir die blanke se voortbestaan as “Afrikaner”.  (Dit is nie te bevraagteken of die blankes nog oor 100 jaar in Suid Afrika teenwoordig gaan wees nie, maar of hy nog as “Afrikaner” daar sal wees?)  Die minderheid Afrikaners wat wil glo dat die Afrikaner alleenlik in Suid-Afrika aangetref word, Calvinisties in godsdiens is, met blonde hare en blou oë, 'n ligte vel het, polities almal konserwatief is, rassisties is, sokkie- of boeremusiek luister, en dat alles buite hierdie kosep nie as Afrikaner beskou kan word nie, sal hoogs ontnugter word.

Onder stoere blanke Afrikaners vind jy Katolieke, Charismatiese Christene, Sektariese Christene, selfs ‘n paar Moslems, vele ateïste, die meerderheid gays in die land, blasvellige mense met donker oé en hare, kommuniste,  aanhangers van die ANC, Cosatu, IVP (soos Koos vd Merwe), ens.  Hulle almal beskou hulself ongetwyfeld as Afrikaners.  Wie het die gesag of selfs die reg om hulle as enigiets anders te bepaal?  Ek persoonlik is van die ou skool Afrikaner (65 jaar oud), die grootste gedeelte van my lewe ‘n Nationalis (sedert 1994 geen politieke aanhang nie, ook sederdien nooit weer gestem nie), is konserwetief in my denke, maar het geleer om verdraagsaam teenoor my andersdenkende en andersoptredende mede-Afrikaner te staan. Ek is lief vir al my mede Afrikaners, ofskoon ek hewig van hulle mag verskil.  Al ons Afrikaners stam af van ‘n handjievol van omtrent 300 intrekkers in die Kaap.  Ons het elkeen familie van mekaar in daardie 300.  Sal jy ‘n familielid verwerp omrede hy van jou verskil? (Dis jammer dat die aanspreek van “neef” en “niggie” en “oom" en "tannie” in ons moderne Afrikaans verval het, tere woorde wat in die nog onlangse verlede elke Afrikaner daaraan herinner het dat hy deel van ‘n uitgebreide familie is.)

Dan ook die aanhoudende en onverbiddelike haat teenoor ons Engelse medeburgers in hierdie land deur sommige Afrikaners weens die misdade wat die Engelse die Afrikaners gedurende die Boere-oorloë aangedoen het!  Die Japannese het Pearl Harbour aangeval en die Amerikaners het op hulle beurt die Japannese met kernbomme plat gebombardeer (twee groot stede met miljoene inwoners geheel en al uitgewis) gedurende die laaste wêreldoorlog.  Vandag is die Amerikaners en Japannese gerespekteerde bondgenote van mekaar.  Die Duitsers het Londen gebombardeer en die Engelse op hulle beurt Dresden met bomme lelik vernietig.  Vandag is die Duitsers en die Engelse bondgenote saam om die Euromark en die Europese unie te verstewig.  In genoemde gevalle, was die menslike  verliese en materiéle skade duisende kere erger as die menseverliese (bv in konsentrasiekampe) en materiéle skade (brandende plaashuisies) gedurende die Boere-oorloé.  As die Amerikaners, Japannese, Duitsers en Engelse dit kon regkry om mekaar te vergewe, en vandag saam te staan teenoor gemeenskaplike gevare en vir gemeenskaplike belange, hoekom dan ook nie die Afrikaner nie?

My uitgangspunt is dat die Afrikaner nooit sy eie afsonderlike grondgebied as sowereine staat sal belewe nie, en dat die Afrikaner derhalwe vir homself erkende en wettige strukture in werking binne die raamwerk van die huidige politieke bestel vir sy voortbestaan moet inrig.  Ongelukkig bestaan dit nie, maar ek glo in die daarstelling van ‘n sentrale staatserkende wetlike Afrikanerraad (soos die swartes huidig ‘n “Council of Traditional Chiefs” het, en waarin moontlik in die toekoms ‘n verteenwoordiger van die Afrikanerraad die Afrikanerstam/nasie sal verteenwoordig). Die Afrikanerraad behoort ALLE Afrikanerdenke te verteenwoordig, ongeag hoe hulle van mekaar mag verskil, om Afrikanerbelange, en die belange van Afrikaners onderling te bevorder.  Regsgesinde, Linksgesinde, Kommunistiese, Konserwetiewe en ander politieke Afrikaners saam in een Raad, met die Afrikanerleek daarby betrokke.  (Bv. die ANC-Afrikaner in die Raad, het ‘n beter kans om Afrikanerbelange aan die ANC te verkoop, as enige ander politieke groepering buite die ANC dit sal kan regkry; die IVP-Afrikaner om Afrikanerbelange in Natal te bevorder, ens.).  Sodanige Raad moet nie voorskriftelik en beperkend wees, soos tans die geval is met die konstitusie van die Afrikanerbond (die voormalige Broederbond), veral op godsdienstige gebied nie.  Die huidige uiters swak bestaande buite-parlementêre Afrikanerstrukture bestaan uit selfaangestelde raadslede vir eie gewin en selfbelang, met min of geen bydrae tot die breé Afrikanervoordeel en -belang nie, en is meerendeels onbekend onder Afrikaners self,  Net soos die swart “konings” en “opperhoofdes” van Suid Afrika befondsing van die staat ontvang, behoort so ‘n staatserkende Afrikanerraad en hul raadslede ook befondsing van die staat te ontvang. (Kyk net wat ontvang die Zoeloekoning en sy raad van die belastingbetaler elke jaar net om ‘n simboliese figuur vir die Zoeloes te wees, ‘n man sonder enige mag, behalwe seremonieel, selfs onder die Zoeloes, vergeleke met dié van die koning van die Swazi's!).  Ten minste het die Zoeloes kulturele staatserkende en staatsbesoldigde verteenwoordiging binne die raamwerk van die huidige politieke bestel,  die Afrikaner tans nie.  Die grootste private Afrikaner kultuurorganisasie (‘n besigheid) is die ATKV, nie soortgelyk as waarna ek hierbo verwys nie.  Wie se skuld is dit?  Dit is nie die ANC of die regering se skuld nie, maar die Afrikaner se self, want die konstitusie maak voorsiening vir die reg van Afrikaners om sodanige sentrale raad vir homself te skep.  Huidig staan die meerderheid Afrikaners ongelukig apaties teenoor enige vorm van struktuur wat vir homself polities mag voorkom, gesien hoe hy gestraf was ná die apartheidsjare vir sy vorige politieke mag.  Dis dié dat die meerderheid Afrikaners nie bereid is om vir die enigste Afrikanerpolitieke party in die parlement te stem nie.

Die voordeel van sodanige Raad is, omrede hy nie grondgebiedgebonde is nie, kan hy Afrikanerbelange in Namibië en die diaspora (buiteland) ook bevorder. Takke van sodanige Raad kan buite Suid-Afrika oopgemaak word, soortgelyk aan die Joodse (Sionistiese) internasionale “Jewish Board of Deputies” (Joodse Raad van Afgevaardigdes).  Myns insiens sal die Vryheidsfront die beste medium wees om sodanige Raad te loods, aangesien dit die enigste organisasie is wat bewysbare Afrikanersteun geniet (al is dit minimaal, maar met darem meer ondersteuning as enige ander Afrikanerorganisasie, veral onder die Afrikanerjeug), en mettertyd hom van die parlement te onttrek sodat die Afrikanerraad nie in konfrontasie met ander parlementêre politieke partye verkeer nie, maar met sodanige partye saam te werk waar dit in Afrikanerbelang is om dit te doen.  Daar behoort ook nie ‘n botsing van belange te wees tussen Afrikaners wat die “Orania”-konsep huldig en dié wie dit nie wil huldig nie (soos myself), aangesien die Afrikanerraad Afrikanergrondgebied terselfdertyd kan bevorder en fundeer vir sodanige Afrikaners wat dit so wil hê.  Soos vroeër gesê, die Afrikanerraad moet die hele spectrum van Afrikanerdenke insluit en bevorder tot Afrikanerbelang.

slots noЛобановский