Daar is in die laaste boekjaar 18 persent minder sake opgelos en afgehandel as in 2004/2005.
Die Nasionale Vervolgingsgesag sê een van die redes is dat daar al meer sake aanhangig gemaak word en dat daar meer aangeklaagdes en klagtes per saak is. Die enigste afleiding wat daaruit gemaak kan word, is dat die misdaad in die land redelik dramaties toegeneem het en dat daar al meer sindikate betrokke is by die misdaad.
Die Demokratiese Alliansie sê in sy reaksie dat dit waarskynlik verklaar waarom die misdaadsyfers weer eens teruggehou is. Die syfers moes kort voor die verkiesing vrygestel word, maar is teruggehou tot later dié maand.
Dit sal interessant wees om die misdaadsyfers en die hofsake met mekaar te vergelyk.
Op TLU SA se kongres het ‘n voormalige polisiekommissaris, generaal Johan van der Merwe, daarop gewys dat net 12 persent van alle moordenaars wat in 2007/2008 gemoor het, deur die hof skuldig bevind en gevonnis is.
Daar word gesê dat uitgestelde geregtigheid geen geregtigheid is nie. Ons wonder hoeveel sake in Suid-Afrika sommer net vir altyd verdwyn. Daar word nie vertel hoeveel sake net nooit die hof haal vanweë dossiere wat verdwyn het of ondersoekbeamptes wat nie hulle werk doen nie.
As dit bygetel word, sal die prentjie nog swarter lyk.
Natuurlik is een van die grootste probleme die kwessie dat swart bevoordeling ook in die regstelsel tot die uiterste gedryf word. Die vorige minister van justisie het verlede jaar erken dat honderde poste vir drie jaar lank nie gevul is nie, omdat die departement nie sy demografiese teikens kon bereik nie.
Dit is met ander woorde vir die ANC-regering belangriker om swart aanklaers en landdroste te sien as om misdadigers agter tralies te kry. Die regstelsel is dus net soos munisipale bestuur, onderwys en gesondheid ‘n slagoffer van die politieke doelwitte van ‘n regering wat uit ‘n rewolusie gebore is. Ons is in ‘n land wat steeds ly onder rewolusionêre doelwitte.
Dit sou natuurlik beter gegaan het in die howe as daar minder misdaad was, maar dit is ook die erfenis van die rewolusie en die voorbeeld wat deur die topleiers in die regering gestel word.
Dit bring ons weer terug by die punt dat ons as volk net geregtigheid kan verwag as ons ‘n eie regstelsel het. Daar moet net so hard gewerk word aan hierdie struktuur as aan strukture soos onderwys en gesondheid.
