Kan Nederduitse gene die Afrikaner se redding wees?

Na ‘n pas afgelope besoek aan drie Europese lande (die Nederlande, Duitsland en Italië) kom die vraag by my op of die Nederduitse volkere geneties sterk genoeg is om die effek van die invloei van nie-Nederduitse mense sosiaal en religieus te kan weerstaan.

Daar is opvallende raakpunte tussen Nederlanders, Duitsers en tot ‘n mindere mate met Noordelike (Germaanse) Italianers, maar weinig raakpunte met die ander Italianers.

Wat opval is die hoë beskawingspeil in die Nederlande en in Duitsland, in teenstelling met  Semitiese en Hamitiese lande.

Hierdie stelling is natuurlik kontroversieel, want reeds H.G. Wells het in sy The Outline of History (1920) aangevoer dat die Kaukasiese volkere hoër vlakke van beskawing bereik as die Semiete en Hamiete.  Arthur de Gobineau, die Fransman, verklaar dat die Indo-Europeërs ‘n verhewe (soos in hoër!) posisie in die ry van volkere inneem. Dit is op grond van hierdie standpunte dat Adolf Hitler die Duitsers die Herrenvölk genoem het.

Opvallend is dat mense van die nie-Kaukasiese volkere besig is om die Nederduitse lande en by name Nederland en Duitsland “in te neem” (dalk ook “oor te neem”).  Die meeste van hierdie “invallers” bied hulleself aan as politieke asielsoekers, maar bring hulle tale, kulture en meestal Islamgodsdiens saam.  Die nie-Nederduitsers vermeerder dramaties meer as die Nederduitsers, terwyl die Nederduitsers klein gesinne vorm.  Terwyl die Nederduitse volkere godsdienslos raak, bring die Islamiete ‘n sterk godsdiensbesef saam.  Dit is dus nie vergesog nie dat die Islam binne ‘n eeu die sterkste enkele godsdiens in Nederland en Duitsland sal wees.

In die naam van die humanisme het liberale en sosialistiese politieke partye oë toegeknyp  en die asielsoekers asook onwettige immigrante om humanitêre redes toegelaat.  So huisves Berlyn die derde grootste Turkse gemeenskap naas Ankara en Istanboel.  In Den Haag, die parlementêre hoofstad van die Nederlande,  is daar sowat sestig Islamitiese religieuse sentra te vind. Nou in die jaar 2010 is daar ‘n teenreaksie wat manifesteer in die opkoms van sg. regse partye, wat in opstand kom teen die permanensie van volksvreemde mense.  Daar word in beide die Nederlande en in Duitsland van die “vreemdelingevraagstuk” gepraat.  Helaas, te laat, want hulle is daar!

Die implikasie is dat hierdie vreemdelinge eie gemeenskappe in Nederduitse lande geskep het met vreemde godsdienste, waaronder die Islam ‘n belangrike faktor is.  ‘n Bekende Amerikaanse staatsgeleerde het jare gelede reeds voorspel dat die Derde Wêreldoorlog ‘n konflik van gelowe (civilisations) sal wees.  In enige religieuse konfliksituasie skep vreemdelinge in Nederduitse lande ‘n veiligheidsgevaar van ongekende omvang en intensiteit.  Om Talibansimpatisante uit die samelewing te verwyder mag beteken dat die storie van die Duitse konsentrasiekampe hom mag herhaal.

In die 19de en 20ste eeue is baie gedink en geskryf oor die meerderwaardigheid van die Ariese volkere ten aansien van die res. In die taalkunde is die “Ariërs” daardie volke wat verwant is aan ‘n veronderstelde Indo-Europese oertaal anders as die Semitiese en Hamitiese tale.  In die biologiese antropologie is Ariërs die Nordiese volke, in onderskeiding van die Alpynse en Mediterreense volke (vgl. Vacher de Lapouge se biologiese indeks) sou Ariese volke uitgeken kon word as die langkop-Europeërs, in teenstelling met die kortkopmense.

Hoe dit ook al sy, sedert die einde van die 19de en begin van die 21ste eeue dui feite op die grond daarop dat die Ariese volkere en lande waar Ariërs in die meerderheid is, grootliks moet “sorg” vir die parasitiese volkere en lande.  Parasitiese volkere en lande is daardie mense en lande wat hulle vergaap en vergryp aan Ariese innoverings en tegnologiese vaardighede, asook ontwikkelingshulp, maar desondanks Ariërs haat.

Ongelukkig het Ariese volkere nog nie geleer dat die Ariese leefwyse nie sonder meer oordraagbaar is op nie-Ariese gemeenskappe nie.  Dink aan Amerikaners wat Irak van Sadam Hoesein wou bevry. Amerika en Brittanje se stryd teen die Taliban in Afganistan en Pakistan.  In hierdie verband kom die vraag op of ‘n tipiese Ariese “gedemokratiseerde” en gedesentraliseerde politieke sisteem enigsins werk en kan werk in ‘n nie-Ariese beskawingsomgewing?  Dit is te betwyfel.  Onderontwikkelde gemeenskappe moet dikwels deur die harde hand  van ‘n despotiese sisteem bestuur word…

Dan is daar die kwessie van finansiële hulpprogramme.  Amerika moes nou weer inspring om die chaos in Haïti te probeer aanspreek.  Nie-Ariese volkere (en veral die Hamitiese groepe) is vir hulle ekonomiese oorlewing basies aangewese op Westerse finansiële bloedoortappings, waarsonder hulle eenvoudig nie kan nie.  Martin Meredith dui in sy, The State of Africa, afdoende aan dat Afrika, by wyse van voorbeeld as nie-Kaukasiese gemeenskappe, op die pad van progressiewe degenerasie is!

Die nie-Ariese volkere het daarin geslaag om die Ariese lande, die voormalige koloniale moondhede, ‘n skuldkompleks te gee; ‘n kompleks wat besig is om deur te skaaf.  Finansiële inspuitings om nie-Ariese volkere van “ondergang” te red, het die neweproduk dat die afhanklikheid van sodanige land op Ariese ontwikkelingshulp jaarliks vergroot, vanweë die bevolkingsontploffing wat met werkloosheid, meer geld en eksterne hulp gepaard gaan.

Intussen groei die ekonomieë van Ariese lande onverpoos voort en word die gaping tussen ryk en arm lande groter.

In ‘n onlangse artikel in Elseviers Weekblad skryf die Nederlandse ambassadeur in Washington dat Nederland onder die sestien grootste ekonomieë ter wêreld tel.  In die finansiële sektor is Nederland onder die top tien.  Nederland is die tweede grootste uitvoerder van landbouprodukte.  Die Nederlande, wat geografies ietwat groter as die Kruger- Nasionale Wildtuin is, se jaarlikse blomproduksie alleen is gelyk aan die bruto nasionale produk van Suid-Afrika.

Dan is daar daardie merkwaardige land, Duitsland en sy mense.  Duitsland is sekerlik vandag die sterkste moondheid van die Europese Gemeenskap.  Duitsers het een teenslag na die ander te bowe gekom.  Ná die Eerste Wêreldoorlog was Duitsland ‘n belangrike teiken van die Russies geïnspireerde Bolsjewiste (Kommuniste).  Jode het belangrike rolle in die Kommunistiese en Sosialistiese Partye in Duitsland gespeel.  Die Tweede Wêreldoorlog het Duitsland letterlik platgeskiet.  Die uitslag van hierdie oorlog is welbekend en het aanleiding gegee tot die verdeling van Duitsland in Wes- en Oos-Duitsland.  In Oos-Duitsland is die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) as kommunistiese staat tot stand gebring.  Amerika en Brittanje het goedskiks toegekyk en niks gedoen nie!

Berlyn is as stadstaat in vier dele verdeel, waarvan die Russe beheer oor Oos-Berlyn verkry het.  ‘n Twee meter hoë muur van 160 km. het probeer verhoed dat ‘n massa Oos-Duitsers na die Weste oorloop. In Oos-Berlyn het Berlyners toenemend in opstand teen die kommunistiese diktatuur gekom.  In 1989 het die Oos-Duitse leier Hoenecker onder toenemende druk bedank.  Die Rus, Gorbatsjof, se perestroika-beleid (verligting) het daartoe bygedra dat die skandmuur op 10 November 1989 stuk vir stuk afgebreek is.  Honderde duisende Oos-Duitsers het na die Weste gehardloop om vryheid te proe.

Oos-Duitsland was ná die hereniging van Duitsland in 1990 ten minste ‘n honderd jaar ekonomies agter die Weste.  Vandag, skaars twintig jaar ná die afbraak van die muur en vernietiging van die kommunistiese DDR, is Duitsland weer ‘n Europese modelstaat.

Is dit vergesog dat ‘n Ariese genepoel die dryfkrag agter die herrysenis van Duitsland is? Is daar hoop dat die Afrikaner se kollektiewe genepoel – na die voorbeeld van Duitsland – nog so sterk sal bly dat ons die wil sal bly behou om uit die as op te staan?

Die implikasie van hierdie artikel is dat Afrikaners se kinders aangemoedig moet word om Duits te leer, dat Afrikanerinstellinge noue skakeling met Nederlands- en Duitssprekende ambassades moet onderhou, en dat ons inligtingsprogramme in die Duitstalige lande van stapel moet stuur.  Dit is, om begrip vir die bevrydingstryd van die Afrikaner op te wek.  Siener van Rensburg het iewers gesê dat daar hulp vir die Afrikaner uit Duitsland, via Duitswes, sal kom.

Soos ek iewers op die Praagnetwerk in ‘n ander artikel geskryf het, moes die Afrikaners afstand tussen ons en die Engelse geskep het en noue kontak met die Nederlandse en Duitssprekende volkere gesoek en onderhou het.

хорватия отелипрокурор Фильчаков