Biltong is ‘n ekonomiese bielie

Biltong beteken vir die Suid-Afrikaanse ekonomie jaarliks meer as R2,5 miljard.

Dit blyk uit navorsing deur die Noordwes-Universiteit.

Melville Saayman sê die studie het die gewildheid en waarde van biltong en wildsvleis probeer bepaal.

Vyf-en-dertig persent van die respondente het aangedui dat kudu die gewildste wildsvleis is, gevolg deur springbok, impala, eland, wildebees, blesbok en volstruis.

Gemsbok was vir vyf persent van die deelnemers aan die studie die gewildste en vlakvark, vir slegs een persent.

Saayman sê dit is nou tyd vir biltong om ‘n rolspeler in die internasionale mark te word.

Nactu wil Amcu-staking steun

Vakbonde geaffilieer by die Nasionale Raad van Vakbonde ( Nactu ) oorweeg ‘n solidariteitstaking ter ondersteuning van Amcu, het die federasie Maandag gesê.

“Ons vakbonde vergader [Dinsdag] om ‘n solidariteitstaking ter ondersteuning van Amcu te bespreek,” het Nactu se voorsitter Joseph Maqhekeni gesê.

Amcu is ‘n filiaal van Nactu.

Lede van Amcu by Lonmin, Impala en Anglo American Platinum ( Amplats ) staak sedert 23 Januarie vir ‘n basiese maandelikse salaris van R12.500.

Hulle verwerp die maatskappye se loonverhoging van tot nege persent.

Die maatskappye verwerp Amcu se hersiene eis dat die R12.500 oor vier jaar bereik kan word, en sê dis onbekostigbaar as ‘n 30 persent verhoging.

“Ons wag , met die hoop dat die myne sal kom met iets. Amcu het gesê dat dit bereik kan word in vier jaar , wat na ons mening ‘n regverdige hersiening is,” het hy gesê.

Nactu het 22 vakbonde wat deel daarvan is .

Die staking by die platinummyne in Rustenburg , Noordwes en Northam in Limpopo is in sy tweede maand.

Gesprekke om die staking te besleg deur die Kommissie vir Versoening , Bemiddeling en Arbitrasie ( KVBA ) het vasgeval.

Die KVBA het beslis dat partye te ver van mekaar af staan.

 

Mynstaking tot dusver sonder geweld

amcuptaSamesprekings wat daarop gemik is om die staking deur die vakbond Amcu by platinummyne te beëindig, sal vandag in Pretoria hervat word.

Die polisie in Noordwes het intussen bevestig dat geen voorvalle van geweld, wat met die staking verband hou, die naweek voorgekom het nie.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie het die samesprekings wat by sy kantore in Johannesburg plaasgevind het, na ‘n hotel in Arcadia in Pretoria verskuif.

Vakbondlede het verlede Donderdag begin staak by die platinummyne – Lonmin, Anglo American en Impala.

Impala Platinum het die naweek ook ‘n interdik bekom teen Amcu om nie betrokke te raak by geweld of intimidasie van nie-stakende werkers nie.

Amcu-lede is intussen vol vertroue dat die platinummaatskappye aan hulle salariseise sal voldoen.

Die stakende werkers sê hulle wil ‘n behoorlike salaris verdien en meen die regering se toetrede tot die onderhandelings sal tot hulle voordeel wees.

Amcu eis ‘n intreevlak salaris van R12.500 vir alle werkers, maar die werkgewer hou vol dat hulle dit nie kan bekostig nie.

Duisende stakende Amcu-mynwerkers sal na verwagting vandag by verskeie skagte van die platinummynhuise in Rustenburg in Noordwes saamtrek.

Die werkers het Donderdag opgehou werk

Die platinumprodusente waarsku verder dat die staking nie net die myne nie, maar ook die werkers self sal raak.

Amplats sê reeds hy ly ‘n verlies van sowat 100 miljoen rand per dag. – RSG