Duisternis oor dele van Pretoria nadat oproeriges Eskom verjaag

Eskom het Dinsdagaand gesê dat ‘n hoogspanningstransformator by Mapopane-Oos se elektrisiteit-substasie omstreeks 18:00 onklaar geraak het, wat dele van Pretoria in duisternis gelaat het.

Pretoria gaan tans gebuk onder die grootste enkele vlaag van geweld sedert die ANC aan bewind gekom het.

Die kragvoorsiener het gesê ‘n aantal substasies regoor die Tshwane-gebied word daardeur geraak, insluitend Vuka, Winterveld, Nonyane en Makgatho se substasies, wat ongeveer 25.000 verbruikers van krag voorsien.

Eskomtegnici is na bewering weggejaag deur die oproerige massas toe hulle probeer om te reageer op die probleem by die substasie.

“Ons wil graag dit op rekord plaas dat dit dieselfde substasie is waar ons personeellede deur die gemeenskap weggejaag is vroeër as gevolg van die protesaksie wat vandag [Dinsdag] in Tshwane gebeur,” het Eskom in ‘n verklaring gesê.

“In die belang van hierdie soort uitdaging, is sekuriteit sedertdien saamgestuur om ons veldspan in hul ondersoek te begelei.”

Tshwane-inwoners in Atteridgeville, Soshanguve, Hammanskraal en Mamelodi, het Dinsdagoggend op ‘n brandstigting- en plundertog uitgevaar, waar voertuie en winkels geplunder en gebrand is uit protes teen die burgemeesterskandidaat van KwaZulu Natal.

Die besluit van die ANC om die voormalige minister Thoko Didiza te ontplooi as Tshwane se burgemeesterskandidaat voor die komende plaaslike regeringsverkiesings in plaas van die gevestigde Kgosientso Ramokgopa het tot etniese spanning gelei.

Die SABC het berig dat plundery Dinsdagaand in Mabopane toegeneem het namate meer en meer winkels gevandaliseer is.

“Mabopane se inwoners het begin om buitelanders se winkels en ander winkels te plunder insluitend PEP en Barnetts,” het joernaliste getwiet.

‘n Lid van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee, Nomvula Mokonyane sê die voortgesette gewelddadige betogings in die Tshwane Metropool vererger die verdeeldheid binne die regerende party op streekvlak.

Geweld het in sommige gebiede in en om Pretoria uitgebreek omdat die betogers eis dat die huidige burgemeester, Kgosientso Ramogkopa (foto hierbo), behou word.

Die ANC vergader tans met al sy takke in die streek om Didiza aan hulle op te dring. Mokonyane het die keuse van Didiza probeer regverdig.

Die ministers in die Veiligheidsgroepering sê hulle weet wie betrokke is by die gewelddadige betogings in die Tshwane metropool.

Volgens bronne het 12 ANC-lede by Court Classique Hotel ontmoet om die geweld te beplan as “Sputla”, die huidige burgemeester, nie aangewys word nie.

Hulle sê ondersoek word ingestel na spesifieke individue, ná sowat 20 busse aan die brand gesteek is.

Die ministers het die geweld bestempel as ongekend, maar het besluit om nog nie die weermag te ontplooi nie.

Die minister van Verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula sê hulle sal die situasie daagliks monitor voor ‘n besluit geneem word. Die weermag is nogtans op ‘n gereedheidsgrondslag geplaas om in te gryp.

Die Minister van Staatsveiligheid, David Mahlobo, het vroeër ‘n beroep op politieke partye en individue gedoen om hulle daarvan te weerhou om paniek te saai op sosiale media oor die situasie in die metropool.

Mahlobo sê sommige mense gebruik die sosiale media om die situasie uit te buit. Die minister sê hulle is ook bewus van sekere politieke partye wat paniek probeer veroorsaak.

Hy sê slegs die regering sal inligting oordra oor enige bedreigings wat kan voorkom. Die SABC berig egter nie uitvoerend oor die openbare geweld nie.

Honderde pendelaars noord van Pretoria is gestrand weens busdienste in die gebied wat opgeskort is.

Inwoners van Hammanskraal sê hulle kan nie by die werk kom nie, aangesien hulle nie taxi’s kan bekostig nie.

Die situasie in Pretoria-Wes is steeds gespanne en ‘n polisievoertuig is vroeër met klippe bestook.

Motoriste is gewaarsku om Van der Hoff-weg in die gebied te vermy. Die meeste skole is steeds gesluit.

In Atteridgeville is die situasie gespanne en min busse en taxis is in bedryf. Die polisie het die situasie deur die nag gemonitor in Mamelodi en is steeds op die toneel.

Pendelaars moet van alternatiewe vervoer gebruik maak aangesien die busdiens opgeskort is.

In Mabopane is skole gesluit.

Die Tshwane metroraad het inwoners intussen gemaan om waaksaam te wees nadat geweld volgens berigte laasnag voortgeduur het.

Weermag nie in Pretoria ontplooi nie

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sê die regering sal nie die weermag in Pretoria ontplooi teen oproermakers nie.

Sy het die oproeriges anargiste en boewe genoem wat die hoofstad van Suid-Afrika, Pretoria verwoes.

Die Gautreinverkeer is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag geplaas om die veiligheid van pendelaars te verseker.

Eiendomme in onder meer Atteridgeville, Mamelodi en Hammanskraal is geplunder en gevandaliseer.

Inwoners steel 'n vrieskas uit 'n winkel
Inwoners steel ‘n vrieskas uit ‘n winkel

‘n Sportskoenwinkel is een van talle wat geplunder is.

Mapisa-Nqakula het gesê diegene wat vir die geweld verantwoordelik was, sal met die volle mag van die gereg te doen kry.

Die uitgebreide onrus volg nadat die ANC ‘n voormalige minister, Thoko Didiza as die party se burgemeesterskandidaat vir die plaaslike verkiesings op 3 Augustus aangewys het.

'n Metropolisiekar lê op sy dak in die middestad
‘n Metropolisiekar lê op sy dak in die middestad

Swart inwoners van Hammanskraal kon nie Didiza se naam onthou nie, maar hulle het gesê hulle “hou nie van daardie een van Durban nie”.

Mapisa-Nqakula het die media toegespreek na ‘n vergadering van die veiligheidsgroepering oor die gewelddadige oproer in die Tshwane metrogebied.

Sy sê die beskadiging van meer as 20 busse wat aan die brand gesteek is, benadeel inwoners regstreeks.

Die huidige burgemeester Kgosi Ramokgopa, is in Atteridgeville buite Pretoria om die spanning in die gebied te probeer ontlont en het by opstokers gepleit vir kalmte.

Ramakgopa is deur die skare verwelkom, maar die Gautengse sekretaris van die ANC, Paul Mashatile is uitgejou.

Die skare het aangedui dat hulle nie vir die ANC sal gaan stem as Ramakgopa nie die kandidaat is nie.

Staatsdiensamptenare sowel as diegene wat vir die Tswhane metro werk, is huis toe gestuur sodat hulle vroeër kan vertrek met die meeste paaie na woongebiede wat versper word.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het die veiligheidsmagte in die Tshwane Metroraad en op ander plekke gevra om daadwerklik op te tree teen die gewelddadige oproer.

Ramaphosa sê die polisie doen alles in hulle vermoë om die situasie onder beheer te hou.

In aanloop tot die komende plaaslike verkiesing, sal dit kennelik vir die ANC ‘n kopseer word as hulle die weermag teen ontevrede faksies moet instuur.

Joernaliste wat vanmiddag in Mamelodi wou gaan verslag doen oor die onrus, is deur die polisie gewaarsku dat hulle op eie risiko in die woongebied sal moet ingaan.

Hulle het omgedraai omdat inwoners hulle gewaarsku het dat dit te gevaarlik is tans. Benewens busse is verskeie voertuie aangeval en gebrand.

Die SABC weier steeds om nuus van die onrus te beeldsaai of daaroor te twiet.

Swart rowers steel 40 tablette by skool te Hammanskraal

Terwyl die Gautengse onderwysdepartement spog met sy loodsprojek om elektroniese tablette in skole te gebruik, het ses swart rowers reeds op een van die eerste skole met sulke tablette toegeslaan en 40 van hulle gesteel.

Die Steve Biko Secondary School in Hammanskraal het deurgeloop toe die ses gewapende rowers ‘n gemeenskapspatrolliespan Donderdag aangehou en agterna die 40 tablette, selfone, asook kontant by die skool geroof het.

Dit kom skaars ‘n maand nadat die LUR vir opvoeding in die provinsie, Panyaza Lesufi, die tabletprojek geloods het. Die rooftog het ook geskied, ondanks Lesufi se aanspraak dat dit sinneloos sou wees om sodanige tablette te steel aangesien hulle “slegs vir opvoedkundige doeleindes gebruik kan word”.

Lesufi het die “Big Switch On Pilot”-projek in Tembisa, ‘n swart woonbuurt tussen Midrand en Kemptonpark, bekendgestel. By dié geleentheid het Lesufi gesê dat die tablette met gevorderde opsporingstelsels toegerus is wat sou verseker dat hulle “binne 24 uur opgespoor kon word”. Alle hoërskole in Gauteng sou teen 2019 “papierloos” wees.

‘n Woordvoerder van die polisie, sersant Makgotso Mphenyeke, sê die twee patrollielede wat die skool oppas, is deur ses swartmans met vuurwapens aangehou terwyl ander net ná middernag toegang tot die stoorkamer deur ‘n venster verkry het.

“Hulle is met die vuurwapens beveel om na een van die klaskamers te gaan. Toe maak hulle die kluis oop en steel 40 tablette, kontant en selfone wat aan die leerders behoort,” sê sy.

Volgens Mphenyeke moet hulle nog die presiese hoeveelheid gesteelde kontant en die aantal selfone vasstel. Sy weet nie presies hoe die rowers die kluis oopgekry het nie. “Ons ondersoek ‘n voorval van sakeroof aangesien die skool nie ‘n woning is nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê sy.