Die verkeersvloei op die Goue-hoofweg verby Lenasia is Maandagoggend weens oproer erg ontwrig.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), het padgebruikers gemaan om alternatiewe roetes te gebruik omdat die situasie gevaarlik is.
“In dié stadium kan ons nie sê wat die oorsaak van die protesaksie is nie. Motoriste moet die hoofweg vermy omdat daar groot klippe in die pad lê. Oproeriges gooi verbygaande motoriste met klippe.
“Metropolisiebeamptes is op die toneel om die situasie onder beheer te probeer bring,” het Minnaar omstreeks 06:30 gesê.
In Malibongweweg, naby Boundaryweg in Kya Sands, is die verkeersvloei ook ontwrig. Plakkershutte het verlede week afgebrand in die gebied, maar volgens die owerhede is die ontwrigting te wyte aan ‘n ongeluk.
’n Ongeluk in Noordgesig naby Mookistraat op die Soweto-hoofweg het vroegoggend ook vertragings veroorsaak.
