Verblydend is egter dat die man op straat se sentiment nou na homself verskuif het, en dat dit wat hy aan sy eie bas voel, belangriker raak as die probleme waarmee die "ander" gekonfronteer word. In die laaste loopgraaf, lê lojaliteit egter by jouself, jou gesin en jou onmiddellike gemeenskap binne ʼn radius van 10 kilometer om jou. Daarna lê dit by ander gemeenskappe wat dieselfde waardes as jy aanhang. Dis te betwyfel of mense enige lojaliteit teen gemeenskappe voel wat ander waardes aanhang. Dit word weerspieël deur die wêreldkaart met duidelike grense, waar mense met gedeelte waardestelsels verkies om hulself te regeer.
ʼn Stelsel soos dié wat ons nou beleef, bestaan slegs omdat ons almal op een of ander manier daaraan erkenning verleen. Wanneer ʼn mense egter uitsprake in hul gedagtes, in hul huise, en in hul gemeenskappe teen die stelsel lewer, en diegene wat dit ondersteun word openlik uitgelag, stort so ʼn stelsel, wat geen simbiose vir ons inhou nie, net so vinnig in duie. Wat ons in die volgende paar jaar nodig gaan hê, is dat daar elke dag, op elke straathoek, in elke dorp en stad oor hierdie onregte gepraat word, geskryf word en betoog word. Die naarstiglike pogings wat leiers regoor die spektrum aanwend om argumente ten gunste van die status quo daar te stel, dui aan dat hulle benoud is en voel dat die openbare mening besig is om teen hulle draai.
Om die stelsel van buite af te kritiseer is egter nie genoeg nie. Dit is aanvanklik maklik om die vyand op ʼn afstand buite die stadsmure besig te hou. As ʼn paar van sy trawante hulsef vermom, die stad binnesypel en vyandelike idees verkondig, raak dit veel moeiliker . Ons moet dus toenemend probeer om op watter slinkse manier ookal onsself teen die stelsel te verset. Ons moet slu word, soms op die oog af ons samewerking gee, vriendelik glimlag, en dan agteraf konkel. Dit vereis baie, dalk 'n verandering in ons mentaliteit…
Al kan ons onsself nie noodwendig geheel en al geografies afsonder nie, moet ons ons geestelik, finansieel, taalkundig en opvoedkundig isoleer en herontdek . ʼn Periode van afsondering is suiwerend en vernuwend van aard en soos die Israeliete in die woestyn van dooie hout ontslae geraak het, gaan ons ook van ondermynende gedagterigtings en slegte invloede ontslae raak. Hopelik vind ons in ons afsondering uit wie en wat ons werklik is…en dalk kom ons agter dat ons kollektiewe idealisme en organisatoriese vaardighede ongeëwenaard op die kontinent is…dalk ook die rede hoekom ons op alle lewensterreine aangeval word?
