Warden-plaasaanval-verdagtes voor

Vier verdagtes wat verlede Maandag op Villiers in hegtenis geneem is kort nadat hulle glo betrokke was by ‘n rooftog op ‘n plaas by Warden in die Vrystaat, sal na verwagting die week om regshulp in die landdroshof op Warden aansoek doen.

Drie van die mans, Bulelani Fulumeni, Wandi Yende en Tumelo Jeffrey Tau, se hofsaak is verlede Donderdag vir verdere ondersoek uitgestel, het OFM berig.

Hulle staan tereg op aanklagte van huisroof en die besit van beweerde gesteelde goedere nadat hulle glo werkers in die plaashuis met vuurwapens aangehou, vasgebind en beroof het.

‘n Polisiewoordvoerder sê ‘n vierde verdagte, Simphjiwe Yende, sal saam met sy medebeskuldigdes verskyn nadat hy ook verlede Donderdag op ‘n bykomende aanklag van die besit van ‘n onwettige vuurwapen in Villiers verskyn het.

Hy het Maandag in die landdroshof op Harrismith verskyn op dieselfde aanklagte as sy medebeskuldigdes omdat hy nie verlede Donderdag saam met hulle verskyn het nie.

Die polisie, in samewerking met plaaslike boere en patrollies op die snelweg, het nou saamgewerk om ‘n blou BMW met ‘n Limpopo-registrasienommer op te spoor, waarin die booswigte kort ná die voorval op die vlug geslaan het.

Dié motor is op die N3-snelweg gesien, maar het die snelweg verlaat toe die polisie gewaar is.

Die booswigte se motor het ‘n slaggat in die straat op Villiers getref. Hulle het weggehardloop, maar is later in hegtenis geneem.

Die polisie het beslag gelê op die drie televisieskerms, ‘n digitale kamera, selfone en ‘n beursie. Mbambo sê ‘n 9mm-pistool is in Yende se besit gevind. Hy is weer op 23 Junie in die hof in verband met dié aanklag.

Egpaar oorleef jongste plaasaanval

ixopoDave en Cheryl Biggs het die jongste plaasaanval in Ixopo, KwaZulu-Natal, oorleef. Hul dogter Liane Ashton meen dit is omdat hulle onderdanig en gehoorsaam was tydens die aanval dat hul lewens gespaar gebly het,

Die egpaar is op 21 Maart op hul plaas, Kings Grant, deur vier gewapende swartes aangeval in hul huis terwyl hulle televisie gekyk het.

Die swart aanvallers het die deur oopgebreek om toegang tot die plaashuis te verkry.

‘n Woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, sê die aanvallers het die egpaar met ‘n vuurwapen afgedreig om die kluissleutels te oorhandig. Hulle het met die egpaar se voertuig en vuurwapens gevlug.

Cheryl Biggs is aangerand en beseer in die aanval. Die gesteelde voertuig is later verlate in die Bulwer-gebied gevind.

Die polisie-ondersoek duur voort.