Beste Pieter, Dalien en die moedige stryders,
Veels geluk met julle prestasie die afgelope verkiesing.
Dit dui op ten minste 146 796 kiesers wat nie vir die DA se bangmaakstories geval het nie.
Ek dink die kragdadige “Stop Zuma” veldtog van Zille sal netsoos in die geval van Leon se “Veg Terug” veldtog die verhoudings met die ANC in groot mate versuur en verhard.
Die VF+ se houding ten opsigte van Zuma is korrek en sal vrugte afwerp al het dit op die kort termyn stemme gekos.
Lees gerus Johann Wingard op die Praag webblad se se verslag oor ‘n gesprek wat hy ‘n paar jaar gelede met Zuma gehad het. Daarin trek Zuma ‘n verband tussen die veldtog teen hom en die destydse veldtog teenoor Connie Mulder. Goeie insig! Goeie rapport! http://praag.co.za/content/view/4717/402/
Die eintlike “breins” agter die DA se veldtog is Ryan Coetzee. Hy is by uitstek die siniese politieke operateur wat Tony Leon se diktum “ scratch where the electorate itch” by uitnemendheid verstaan en toepas.
Ek was self vir ongeveer 10 jaar aktief by die DP/ DA betrokke (1988 tot 1998). Betrokke by Mike Waters se groot deurbraak in Kempton Park se munisipale verkiesing. Alhoewel ek baie respek vir Mike het en veral vir sy werksvermoë het die besef begin posvat dat die DA nie die plek is waar ‘n Afrikaner werklik tuis voel nie. Ek het ‘n renons ontwikkel in die oneerlike tipe politiek soos deur Coetzee bedryf.
Ek het die volgende brief aan Beeld geskryf. Dit is nie geplaas nie maar ek wil tog die sentiment met julle deel.
Groete en sterkte!
Ernst Marais
Ongepubliseerde brief aan Beeld:
Indien Helen Suzman Beeld se raad gevolg het (skrif aan die muur vir kleiner partye), sou Helen Zille nie 50 jaar later suksesvol gewees het nie. Selfs 'n enkele parlementere verteenwoordiger is genoeg om 'n idee lewendig en in die publiek se oog te hou.
Op die oomblik is die identifisering met 'n Afrikaner party/ belangegroep op 'n laagtepunt. Die VF+ hou egter die vlammetjie brandend. Dit is 'n formidabele prestasie in die lig van die NP se roemlose oorgawe en woede teenoor Afrikanerpolitici soos Kortbroek, Roelf, Pik en FW.
Wanneer die Afrikaner agterkom dat die sambreelparty vir wie hulle meerendeels gestem het nie veel erg aan hul kulturele goed en belange het nie, vertrou ek dat die VF+ nog daar sal wees as invloedryke drukgroep.
