Sydney Gregan: Wie sit agter Julius Malema? En waarom?

Terwyl die Suid-Afrikaanse publiek hulle blykbaar verlekker in die manewales van die hanswors Julius Malema, en veral die feit dat hy vir Jacob Zuma ‘n steen des aanstoots geword het, word die situasie in Suid-Afrika al meer plofbaar en kan die “beheerde chaos” dalk eersdaags totaal onbeheerbaar word.

Die vraag is egter: Hoe was dit moontlik dat iemand met só ‘n agtergrond soos Malema, en wat vir alle praktiese doeleindes die einde van sy politieke loopbaan bereik het toe die ANC hom die rug gekeer het, nou skielik soveel aanhang en aandag geniet? En dit sonder dat die ANC-regime, op die oog af, min daaromtrent kan doen?

Die antwoord is baie duidelik dat ‘n ander mag agter Malema sit. Hyself het nie die politieke, finansiële en intellektuele vermoë om ‘n duik te maak in die politieke landskap nie. Maar die magte agter hom het wel. Feit is dat die Amerikaanse geldmagte Malema finansier én met ‘n doel: Hy moet die chaos aanwakker wat die VSA graag in elke land van die wêreld wil implementeer. Die VSA het reeds grootliks geslaag om die Midde-Ooste te destabiliseer (met net Rusland wat nog in sy pad staan), maar sy agenda sluit Afrika ook in, soos Soedan, Libië en talle ander Afrikastate die bewys van is. Suid-Afrika is nie uitgesluit hiervan nie.

Die feit dat die ANC die beheer oor die land moes oorneem, was net deel van die Amerikaanse agenda. Om te keer dat die ANC nie te astrant word en sy eie agenda begin volg nie, soos Zuma gedreig het om te doen (veral met sy voorgenome Russiese en Chinese bande), moes ‘n teenvoeter vir die ANC daargestel word. Malema was die ideale kandidaat. Waar die ANC se agenda vir blanke verontregting deur die geldmagte beheer word en uiteraard met verdrag (eerder as drasties) ingestel moet word om die blankes te sus, kom Malema nou en eis drastiese en onmiddellike stappe en saai ontwrigting en verwoesting sover hy gaan. Inmiddels word hy selfs na Londen genooi om sakemanne en politici daar toe te spreek! Verbeel jou Suid-Afrikaanse sakemanne nooi ‘n Britse skurk om ons hier te kom vermaak oor die chaos wat hy in Brittanje aanrig?! So iets is net ondenkbaar en sal lei tot allerlei dreigemente van sanksies, en so meer. Maar as die geldmagte die situasie beheer, is dit uiteraard aanvaarbaar.

En nou verkondig Malema wat die ANC eintlik graag wíl doen, maar omdat die VSA die ANC-agenda beheer, is die ANC aan bande gelê. Die ANC se grootste probleem is dat die IMF sy kraan enige dag kan toedraai. Die nomenklatoera — die betaalde amptenary— in die ANC (wat blykbaar reeds oor die 6 miljoen tel) het lankal van die “struggle” vergeet en hulle stryd is nou om ten alle koste hulle posisies, salarisse, huise en karre te behou. Plus natuurlik die “shopping spree” waarop hulle weekliks gaan! Intussen bewys hulle lippediens aan die ellendige toestand waarin meeste van hulle landgenote verkeer. Malema weet dit baie goed want hy was in dieselfde bootjie toe hy in die ANC was. Vandaar sy tirades. En duidelik is geld steeds nie vir Malema ‘n probleem nie, gesien sy uitspattige kleredrag, duur horlosies en ander bykomstighede.

Die grootste bewys dat die ANC beheer word deur die IMF en die Amerikaanse geldmagte was juis toe Zuma moes terugkrabbel oor die afdanking en aanstelling van ‘n nuwe minister van finansies. Die ANC kan duidelik maak wat hy wil as dit by baie ander sake kom (soos om blankes te verontreg), maar het geen sê as dit by finansies, en veral die ekonomie van die land kom nie.

Die EFF en Malema se rol is om sake deurentyd so moeilik as moontlik vir die ANC te maak en die gekniehalterde posisie van die ANC — daargestel deur die geldmagte — te bestendig en te vererger. Zuma besef dit baie goed, maar omdat hyself ook beheer word, durf hy niks sê nie. Die gevolg is ‘n politieke party wat ontman is en nie in staat is om die land te regeer nie; al sou hy ook probeer. En dit is presies wat die VSA ten doel stel. Die werklike agenda van die Amerikaanse geldmagte vir ons land vereis ‘n aparte artikel vir diegene wat oningelig is daaroor. Dat dit alles behalwe rooskleurig is, kan in klip uitgekap word.

Nou moet ons weer (dis mos verkiesingstyd!) almal agter die pastoortjie van die DA aanhardloop. Ons moet klaarblyklik wysgemaak word dat “redelike swartes” glo in groot getalle vir die DA gaan begin stem. Hierdie wolhaarstorie word al jare verkondig en steeds stem meer as 60% van die swartes elke keer vir die ANC. Daarbenewens het dr Corné Mulder die spyker op die kop geslaan toe hy onlangs gestel het dat chaos die land se voorland is as die ANC uitgestem sou word. Die chaos sal natuurlik nie meer die beheerde chaos van nou wees nie, maar grootliks onbeheerd. Die publiek is soos skape wat ter slagting gelei word — met die verskil dat hulle blykbaar opgewonde is daaroor!

Wat ons nodig het in hierdie land is dat mense die twak wat die Amerikaans-beheerde media elke dag aan hulle opdis, deeglik sal ontleed en ophou gryp na strooihalms. Daar is talle alternatiewe bronne wat geraadpleeg kan word op die internet. Ons blankes is uitgelewer deur die Amerikaanse geldmagte aan die ANC om ons met ‘n grondwet te troos wat op die kort- en langtermyn niks vir ons beteken nie. Om alewig te wil dink dat die grondwet ons moet en sal beskerm, is uiters naiëf. Grondwette in Afrika beteken niks. Daarby word ons verontregting juis deur die grondwet gemagtig! Dit slaan my dronk dat geleerde blankes dit nie kan insien nie.

Maar terug by Malema: Hy is net so gevaarlik soos wat sy meesters wil hê hy moet wees. En met die onrus wat elke dag groter word in hierdie land, is dit duidelik dat daardie agenda momentum kry en die ANC hoe later, hoe meer, geen beheer oor die land sal kan uitoefen nie.

Intussen slaap baie van die wagters op die blanke mure …

Die wêreld na Rhodes : Wat ons moet weet

Na aanleiding van Dan Roodt se rubriek oor Rhodes se bekladde standbeeld, bespreek Joseph Secreve oudergewoonte op sy skerp en besonderse manier, die proses wat eintlik al sedert die negentiende eeu in die wêreld afspeel.

Wat ons sien, veral die afgelope sestig jaar, is hoe die groot Engelse eugenitici ewe skielik die veld moes voorberei vir ‘n nuwe vorm van oorheersing.

Hoe is dit moontlik dat die Engelse – wat vir soveel eeue oor die wêreld geregeer het met ‘n Doctor Jekyll en Mr. Hyde persoonlikheid – met groot bewondering en gejuig in 1980 toegesien het hoe daardie ander Rhodes-standbeeld in Salisbury met die grond gelyk gemaak is? En nou na alle waarskynlikheid ‘n vreemde behae skep om te sien hoe hierdie aartsimperialis in Kaapstad ook nie meer veilig op sy voetstuk staan nie?

‘n Belangrike aanwysing is die maatskaplike ewolusie wat plaasgevind het sedert die Industriële Rewolusie. Die wêreld was gekenmerk deur verskillende fases van kapitalisme, en die huidige marxistiese variant het blykbaar die meeste sukses behaal en word om daardie rede toegepas.

Kortliks was die eerste fase van Industriële Rewolusiekapitalisme die begin, maar het beperkings begin toon. Baie bedrywe kon nie genoeg kapitaal genereer uit hul winste om hul bedrywe uit te brei nie. Die spoorweë in Engeland en later die Verenigde State het ‘n enorme kapitaalinspuiting vereis om produktiewer en effektiewer te word, en ander moontlikhede moes gesoek word om dit te bewerkstellig. Dit het aanleiding gegee tot aandeelhouers en eienaarskap van bedrywe deur ander finansiële partye. Uiteraard was diegene met die meeste kapitaal – die banke – die nuwe nodus in hierdie spinnerak, en tegelyk het steeds meer bedrywe heil begin vind in hierdie vorm van finansiering, wat aanvanklik baie suksesvol begin word het.

Hierdie ontwikkeling het aanleiding gegee tot ‘n nuwe fase van kapitalisme genaamd finansiële kapitalisme. Banke het steeds magtiger begin word, en vanuit hul aandeelhouersvergaderruimtes het hulle druk begin uitoefen op ander bedrywe om hul eie winste te verhoog. Dit het dikwels rampspoedige gevolge gehad vir die bedrywe self, aangesien bankiers ‘n setel gehad het in hierdie firma’s sonder dat hulle enige ervaring of idee gehad het wat goed is vir daardie maatskappye, maar perfek geweet het wat goed is vir die banke. Uiteindelik het hulle dermate uitgegroei dat hulle selfs regeringsbeleid begin beïnvloed het, en die periode 1850 – 1930 was gekenmerk deur regerings wat swak beleid begin voer het, aangevoer deur die gierigheid van die banke. In hierdie verband het die sekretaris van die Britse tessorier, Wiliam E Gladstone opgemerk dat regerings geen noemenswaardige spelers op finansiële gebied was nie, en dat hulle die geldmagte moes uitlos en geen vrae aan hulle stel nie.

Na die Eerste Wêreldoorlog, die beursval in 1929, die afskaffing van die goudstandaard, die ontnugtering oor die bankwese en bedreigings wat die bankiers in die oë gestaar het, het die wêreld se grootste banke in Londen, Parys en New York besef dat hulle saam moes begin werk as hulle wou oorleef, en het op daardie stadium die Bank of International Settlements in Basel, Switserland opgerig. Hierdie nuwe bank het as ‘n kartel gefunksioneer om enige vorm van bedreiging af te weer, met Londen as sentrum en New York en Parys as tentakels van dieselfde bankgroep, en het sodoende stadigaan bedrywe verder verswelg met hul mag. Aangesien die goudstandaard afgeskaf is, kon hulle geld uit niks produseer en teen rente terugeis. Hierdie fase staan bekend as monopoliekapitalisme.

Onder monopoliekapitalisme het die groot banke eksterne aandeelhouersmaatskappye moontlik gemaak wat van buite-af bepaal watter bedryf die moeite werd is om geld in te belê en watter nie, en op hierdie wyse met sentimente die beursgang beïnvloed, wat verder tot voordeel van die banke gestrek het.

Hierdie gebeurtenisse het veroorsaak dat banke magtiger as hul eie regerings begin word het, en bied ‘n verklaring hoekom imperialisme en kolonialisme “afgeskaf” was in die sestiger jare. In feite was imperialisme nooit afgeskaf nie, maar bloot vervang met ‘n meer onderduimse en onsigbare variant daarvan. Daar is geen sigbare land of koning wat oor ‘n ander moontheid meer heers nie, maar ‘n skadunetwerk van bankiers wat ons nouliks in die media gewaar wat nou die nuwe heersers geword het. Hul imperialistiese arm is die IMF, wat aan lande voorskryf hoe hulle hul ekonomiese beleid moet aanpas en het gelei tot die kranksinnigheid soos wat ons nou sien dat meer geld wegstroom uit Afrika as daarheen, laat staan nog hoe hulle Rusland geplunder het na die val van kommunisme.

In lande soos Wit-Rusland het president Loekasjenko destyds die IMF uitgeknikker en daarna bekendgestaan as die “laaste diktator van Europa”, maar dat sy land sonder te veel pyn deur die krisis in 2008 gekom het, word doodgeswyg. Interessant genoeg noem Loekasjenko sy beleid “sosiaal nasionalisme”: dit het nasionalisme as basis en ekonomie is ondergeskik hieraan, soos dit ‘n gesonde volk betaam.

Dit mag verklaar waarom die EU en hul internasionale bondgenote allerlei planne bekokstoof en wette deurvoer om nasionalisme te stigmatiseer en as boosaardig in ons gedagtes te prent: Die gewone burger word ryker van ‘n bedeling wat op nasionalisme gebaseer is, wat iewers in die toekoms tot die nadeel van die groot geldmagte sal strek. Elke ander poging wat die grootmagte bedink, soos die massa-emigrasie van nie-Westerse volkere, die afbreek van geloof (en dus nasionale identiteit) en die vernietiging van die kerngesin vorm deel van die groter prentjie om die gewone mens te reduseer tot verweesde slawe, slegs onderdanig aan die wil van die geldmagte.

Hierdie monopoliekapitalisme en die neomarxistiese ideologie wat daaruit voortgespruit het, gaan hierdie grypsug slegs verder bevorder. Waar Rhodes gedroom het van ’n wêreld wat Engels praat met ’n Union Jack op elke kontinent, gaan die neomarxiste ’n stappie verder en droom van Marx se werkers van die wêreld wat verenig sal word. Dit is in feite twee kante van dieselfde muntstuk, met die verskil dat die skaduregering weet dat ’n mens moet versigtig wees met simbole en standbeelde, wat die volk kan in opstand kom hierteen as hulle besef dat hulle bedrieg word. Vandaar dat hulle ’n nuwe taktiek het soos gayregte, radikale feminisme, minderheidsaansprake vir sommiges, voortdurende konflik in die wêreld as pogings om dit moeilik te maak om een komponent te isoleer waarop mense die skuld kan pak. “Dit is nou eenmaal die tydsgees”, hoor ons dan van die burgers, wat nie meer weet wat aangaan nie.

Gegewe die toestand in die wêreld, die globale skuif in rykdom en armoede, die stigmatisering van geloof (Jode is Sioniste, Moslems is barbare, Katolieke is pedofiele, Protestante is rassiste ens.), eindelose oorloë sonder ’n werklike vyand, die klem op brood en spele, kan ons net wonder wat ons te wagte staan in hierdie eerste helfte van die een en twintigste eeu.

Al wat ek weet is dat Sipho en Jonas mag gerus Rhodes se standbeeld besmeer, maar hul nageslagte sal seker eendag terugkyk na hierdie onskuldige vermaak en wens dat hulle weer na daardie tye kon terugkeer.

Ten minste het hulle toe geweet wie hul vyand was.